Namibiërs bult steeds spiere in VSA

Rugby
Andrew Poolman
Die Namibiërs Wian Conradie (agtsteman) en Le Roux Malan (binnesenter) en hul spanmaats by die New England Free Jacks sal môre streef om vir die franchise van Boston geskiedenis te maak.

Die Free Jacks speel vir die tweede keer in hul bestaan in die eindstryd van Major League Rugby se oostelike konferensie.

Danksy ’n puik seisoen waarin hulle 14 uit 16 wedstryde gewen het, het die Free Jacks môre die tuisvoordeel teen Washington se franchise, Old Glory DC.

Twee seisoene gelede het die Boston-span se seisoen juis by hierdie hekkie geëindig – hul beste prestasie nóg, hoewel hulle vanjaar sal mik om tot die nasionale MLR-eindstryd teen die wenner van die westelike konferensie deur te dring. Die Free Jacks het vanjaar beide sy ligabotsings teen Old Glory gemaklik gewen.

Die 28-jarige Conradie, wat 14 wedstryde dié seisoen in die beginspan was en reeds 1 084 minute speeltyd gekry het, lewer soos altyd uitmuntende spel. Ná afloop van die ligawedstryde tussen die 12 franchises verskyn sy naam op twéé van die individuele toptienlyste.

Onder die spelers wat dié seisoen die langste afstand met die bal gehardloop het, is Conradie algeheel tiende, én die enigste voorspeler (1109 meter).

Hy is boonop ook nommer vyf op die lys van spelers wat die meeste duikslae uitgevoer het (206). Heel boaan hierdie lys staan nóg ’n Namibiër – Adriaan Booysen van die Dallas Jackals (257), ondanks sy span se sukkelseisoen met net twee uit 16 gewen.

Le Roux Malan, wat sewe drieë in nege wedstryde gedruk het, se statistiese hoogtepunt is dat hy ’n MLR-rekord opgestel het deur 234 meter as baldraer in ’n enkele wedstryd te hardloop.

Nog ’n hoogtepunt was dat drie Namibiërs – Conradie as agtsteman, Malan as binnesenter en Cliven Loubser (Utah Warriors) as heelagter – vandeesmaand vir Week 18 se MLR-droomspan gekies is. Loubser het dié seisoen 411 minute in agt wedstryde gespeel en vier drieë gedruk.

Al die genoemde Namibiërs, asook skrumskakel Damian Stevens (New Orleans Gold) en die nuweling-vaskopstut Herman Agenbag (Dallas Jackals), sal na verwagting aansluit by die nasionale afrigter Allister Coetzee se tweede nasionale oefenkamp op Swakopmund op 10 Julie, ter voorbereiding op die komende toer na Uruguay en Chili.

PUMAS GAPS DE KLERK

Luidens nuusberigte dié week het die Pumas se direkteur van rugby, Jimmy Stonehouse, die Namibiese langeraatslot Tiaan de Klerk (22), gekontrakteer.

Die Pumas, wat ná hul nederlaag in die Curriebeker-eindstryd ’n klompie staatmakers verloor, bou voort met die aansluiting van onder andere De Klerk (2.04 meter), die gebore Walvisbaaier wat ook spanne soos Tuks en die Blou Bulle (o.20 en Curriebeker) verteenwoordig het. De Klerk het hom reeds by die huidige oefenkamp in Windhoek aangesluit nadat hy die afgelope jaar by die Italiaanse klub Mogliano gespeel het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!