• Tuisblad
  • Sport
  • NamPower betaal halfmiljoen aan Paralimpiërs uit
 Van links is Michael Hamukwaya, Ananias Shikongo (silwermedaljewenner by die 2020 Paralimpiese Spele) en mnr. Fritz Jacobs (NamPower se bedryfshoof). Foto Jesse Jackson Kauraisa
Van links is Michael Hamukwaya, Ananias Shikongo (silwermedaljewenner by die 2020 Paralimpiese Spele) en mnr. Fritz Jacobs (NamPower se bedryfshoof). Foto Jesse Jackson Kauraisa

NamPower betaal halfmiljoen aan Paralimpiërs uit

Atletiek vir gestremdes
Jesse Jackson Kauraisa
NamPower het gister Namibië se Paralimpiese atlete met prysgeld ter waarde van N$530 000 beloon vir hul heldedade by die 2020 Paralimpiese Spele wat verlede jaar in Tokio, Japan, aangebied is.

Die Paralimpiese naelloper en silwermedaljewenner, Ananias Shikongo, en sy gidshardloper Sem Shimanda het gister elk N$150 000 van NamPower vir hul vertoning in Japan ontvang.

Johannes Nambala het N$100 000 vir sy bronsmedalje gekry.

Die siggestremde Shikongo en Shimanda het in Tokio ’n silwermedalje in die T11-klas se 400 meter in ’n tyd van 51.14 sekondes verower, terwyl Nambala brons in die T13-klas 400 m opgeraap het.

NamPower het ook vir Michael Hamukwaya en Letu Hamhola, die afrigters wat die atlete vergesel het, elk met N$30 000 beloon.

Die ander spanlede, Sidney Kamuaruuma en Even Tjiviju (gidshardlopers) en Lahja Ishitile (verspring en naellope) is elk met N$25 000 vir hul pogings vergoed, hoewel hulle nie medaljes by die Spele verower het nie.

Mnr. Fritz Jacobs, NamPower se bedryfshoof, het die Tokio-helde gister tydens ’n seremonie by hul hoofkantoor in Windhoek geloof.

“Deur die verhouding wat ons by NamPower oor die afgelope tien jaar met Disability Sport Namibia (DSN) opgebou het, is ons trots om te kan getuig van die dissipline, deursettingsvermoë, harde werk en fokus van ons Paralimpiërs wat vandag hier saam met ons is.

“Dis weens hierdie respek en waardering dat NamPower voortgaan in sy vennootskap met DSN. Ons is daar om die drome en aspirasies van hierdie atlete te help verwesenlik,” het Jacobs gesê.

NamPower het verder aangekondig dat hy hierdie belonings nie eenmalig aan die atlete sal uitbetaal nie, maar wel op ’n maandelikse grondslag.

“Ons glo dat hierdie metode die atlete ’n bietjie gemoedsrus sal gee, met die wete dat hulle oor die volgende twee jaar ’n vaste maandelikse bedrag sal hê om hulle met hul daaglikse behoeftes te help sodat hulle meer op hul talente kan fokus,” het Jacobs bygevoeg.

Nambala het sy waardering teenoor NamPower uitgespreek.

“Ons is dankbaar dat NamPower aan boord gekom het en altyd daar is vir ons. Ek is eintlik oorweldig deur hierdie verrassing en dit sal ons vorentoe so baie help,” het die gewese wêreldkampioen gesê.

Afrigter Letu Hamhola en Michael Hamukwaya het NamPower vir hul toewyding aan DSN geloof.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

#N/A #REF! #N/A