Ndjolonimus, Shinima nou in nietitelgevegte

Boks
Tielman Van Lill
Die Together As One, deel 9-boksbonanza wat môreaand deur MTC Nestor Sunshine Tobias Bokspromosies aangebied word, het ’n laat plaasvervanger vir die hoofgeveg gekry.

Paulus “John John” Ndjolonimus sal nie meer môreaand by die Ramatex-saal in die hoofstad deur die toue teen Mbiya Kanku van die Demokratiese Republiek die Kongo klim nie.

Republikein het gister volgens inligting van Tobias berig dat beide Ndjolonimus en Charles “Super Shine” Shinima hul Afrika-titels van die Wêreldboksorganisasie (WBO) op die spel sou plaas.

Die koerant kon egter gister bevestig dat die WBO sowat twee weke gelede aan Tobias laat weet het dat goedkeuring van die twee titelgevegte weerhou word. Die WBO het op grond van die twee buitelandse uitdagers se beroepsrekords bevind dat hulle nie as geskikte aanspraakmakers vir die Afrika-kampioengordels beskou kan word nie.

Tobias moes inderhaas ’n nuwe teenstander vir Ndjolonimus soek ná Kanku se onttrekking. Die lenige Namibiese supermiddelgewig sal nou vir sy nietitelgeveg teen Dickson “The Beast” Saidih (31) van Malawi die handskoene aantrek.

Saidih (5 gewen, 4 verloor, 1 gelykop, drie uitklopoorwinnings) is onervare en kan moontlik kanonvoer vir die Namibiër wees. Die Malawiër van Lilongwe, wat drie keer in nederlae uitgeslaan is, sou eers laat gisternamiddag in Namibië arriveer.

Die weltergewig Shinima sal steeds soos bestem in sy nietitelgeveg teen Enriques Lando van Angola baklei.

Super Shine het gister by die nuuskonferensie gesê: “Ek is goed voorbereid vir die geveg en is seker van my gewig. Ek wil my skermmaats, my promotor Tobias, PstBet en MTC bedank wat die geveg moontlik maak.”

’n Ooglopend teleurgestelde Ndjolonimus was nie deur sy nuwe teenstander se rekord gevly nie.

“Die vlak van sy ervaring maak nie ’n indruk op my nie. Ek sal net aanhou wen en my titelstatus behou. Ons het lank en hard vir ’n groot geveg geoefen en nie iets soos dié nie, maar ongelukkig is dit nou so.

“Ek sal in die kryt klim en julle moet kom kyk en dit geniet,” het die Afrika-kampioen gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer