Newcastle ná 20 jaar terug in Kampioeneliga

Sokker
Eddie Howe, afrigter van Newcastle, het sy “ongelooflike” spelers geloof nadat die klub danksy ’n gelykopuitslag met 0-0 Maandagaand in die Engelse Premierliga teen die sukkelende Leicester vir die eerste keer in 20 jaar vir die Kampioeneliga gekwalifiseer het.

Liverpool, vyfde op die punteleer, se gelykopuitslag Saterdag teen Aston Villa het beteken dat Newcastle slegs een punt in sy laaste twee kragmetings moes verdien om van ’n plek in die Kampioeneliga seker te maak.

Howe se span, ná dese derde, het bogenoemde teiken met die eerste probeerslag voor ’n jubelende tuisskare op St. James’ Park behaal.

“Dis eintlik ’n reuseverligting, ’n ongelooflike aand. Mens hoop altyd en jy moet drome hê. Maar ons het nie gevoel dat ons vir die top-vier gereed is nie,” het Howe ná die wedstryd gesê.

“Dit het ná verlede seisoen se stryd om relegasie vry te spring vir ons daaroor gegaan om eenvoudig te konsolideer en ’n beter span te word.

“Ek moet die hele groep komplimenteer, want hierdie poging het fisiek sy tol geëis. Hulle het die vrugte van hul eie harde werk gepluk.”

Newcastle se merkwaardige vordering van relegasie-kandidaat tot die top-vier in die Premierliga in slegs 18 maande is ’n huldeblyk aan Howe se bestuursvermoë en die finansiële mag van die klub se Saoediese eienaarsgroep.

Die Magpies het hierdie seisoen ook hul eerste plaaslike eindstryd sedert 1999 gehaal, maar in daardie kragmeting om die Ligabeker-titel teen Manchester United verloor.

“Die ouens was hierdie seisoen ongelooflik. Ek kan hulle nie genoeg lof toeswaai nie. Hul ingesteldheid, hul mentaliteit,” het Howe gesê.

“Ek is eenvoudig dankbaar om die geleentheid te kry om hier af te rig. Ons het groot sukses geniet en dit is uiters bevredigend.”

Leicester is slegs sewe jaar ná sy sprokies-triomf in die Premierliga op die drempel om vir die 12de keer in die klub se geskiedenis uit Engelse sokker se topliga gerelegeer te word. Dit sal Birmingham se Engelse rekord ewenaar.

Dean Smith se span, derde laaste op die punteleer, het slegs een van sy laaste 15 ligawedstryde gewen.

Die span is twee punte agter Everton (vierde laaste) en sal gerelegeer word indien die Toffees hul laaste wedstryd teen Bournemouth wen, ongeag die uitslag van Leicester se laaste kragmeting teen West Ham.

“Ons het dit reggekry om sake tot die laaste wedstryd te vat en seker gemaak Everton moet seëvier. Dis wat ons moes doen. Ek maak geen verskonings vir die wyse waarop ons gespeel het nie.”

– Netwerk24, AFP

Kommentaar

Republikein 2024-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 37° Rundu: 22° | 38° Eenhana: 21° | 37° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 37° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 21° | 36° Omaruru: 20° | 38° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 18° | 34° Henties Bay: 14° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 18° | 34° Mariental: 18° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 17° | 35° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 17° | 34° Oranjemund: 14° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 16° | 32° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 7° | 24° Antananarivo: 17° | 27° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 24° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 13° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 30° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!