NFA sal toeskouers se gedrag ondersoek

NPL-sokker
Administrateurs bekyk die nadraai van laas naweek se klubwedstryde.
Jesse Kauraisa
Die Namibiese Sokkervereniging (NFA) sal die swak gedrag van toeskouers ondersoek nadat blikke op die veld gegooi is tydens twee Debmarine Namibië Premierliga-wedstryde laas naweek.

Mabos Vries, direkteur van die NFA se topliga, het gister aan Namibian Sun gesê die vereniging is bewus van die voorvalle, maar wag op ’n volledige verslag voordat verdere stappe geneem word.

“Ons wag op die verslae voordat ons enige gevolgtrekkings oor die saak kan maak.

“Indien ons die verslae kry en dit dui aan dat ’n sekere span of ondersteuners verantwoordelik is vir die gooi van voorwerpe, sal die reëls ons lei oor watter optrede of straf om op te lê,” het Vries gesê.

Ná afloop van Saterdag se gelykopuitslag met 1-1 tussen Chula Chula FC en African Stars in die Hage Geingob-stadion is aangemeld dat sommige van die hoofpawiljoen se sitplekke gebreek is. Die koerant verneem dat ’n vergadering vandag verwag word waar die omvang van die skade en die pad vorentoe bespreek sal word.

Blikkies is ook op die veld gegooi toe die span van Oshakati in die laaste minute die gelykmaker aangeteken het.

Die wedstryd is onderbreek terwyl beamptes die voorwerpe wat op die sokkerveld gegooi is, verwyder het.

’n Soortgelyke voorval is Sondag in ’n wedstryd tussen Chula Chula en Orlando Pirates by SKW-stadion aangemeld.

Pirates, wat met 0-1 agter was, het ’n strafskop gekry, maar Chula Chula se doelwagter het die skop weggekeer, wat oproer op die pawiljoen veroorsaak het. Ook hier is spel onderbreek toe blikkies weer op die veld gegooi is.

Dit was nie die eerste insidente van dié aard in Namibië se top-sokkerliga nie. Daar was tevore verskeie berigte waar klubs gewaarsku is oor toeskouers se oproerige gedrag tydens Premierliga-wedstryde.

Een sokkerondersteuner wat Saterdag by die wedstryd was, Anthony Witbooi, het die sokkervereniging en liga-administrateurs versoek om maatreëls te verskerp.

“Ek dink voordat ons die opgewonde ondersteuners kan kruisig, moet ons klubs wat tuiswedstryde aanbied, aanspoor om sekuriteit te verskerp.

“Die verkoop van bier- of koeldrankblikkies binne die stadion kan waarskynlik verbied word. Mense behoort drankies in skuimbekers of so iets te kan koop,” het Witbooi voorgestel.

SONDAG

Die uitslae van Sondagmiddag se NPL-wedstryde:

Hage Geingob-stadion: African Stars 1-0 Mighty Gunners.

SKW-stadion: Orlando Pirates 0-1 Eeshoke Chula Chula.

Unam Stadium: Unam 1-1 Young African.

Otjiwarongo: Life Fighters 0-0 FC Ongos.

• Nadat Khomas Nampol (vyf uit vyf gewen, 15 ligapunte) ’n afnaweek gehad het, is hy deur FC Ongos as die nuwe voorloper verbygesteek, wat 16 punte het (sewe gewen, een gelykop, een verloor).

Derde is African Stars (14 punte ná sewe wedstryde, vier gewen) en vierde Chula Chula (elf punte ná vyf wedstryde, drie gewen, twee gelykop).

Die spanne wat afnaweke gehad het, sal almal komende naweek terug in aksie wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!