Nóg ’n goue vir Chad, silwer vir Lara

Swem
Suid-Afrika se goue seun opnuut in die kollig.
Tielman Van Lill
Daar doen die Suid-Afrikaanse swemlegende Chad le Clos dit toe wéér!

Die 30-jarige Le Clos het Sondagoggend sy tweede goue medalje op die 16de Wêreld-kortbadbyeenkoms in Melbourne, Australië, verower deur die eindronde van die 100 m-vlinderslag vir mans ’n vyfde keer te wen.

Hy het vroeër in die week ook die 200-vlinderslag ’n vyfde keer gewen en spog nou met 12 goue medaljes op die kortbad-wêreldkampioenskap sedert 2010.

En toe sommer in die volgende item – die eindronde van die 50-borsslag vir vroue – verower die 18-jarige Pretorianer Lara van Niekerk boonop die silwermedalje.

’n Tevrede Chad le Clos Sondag met sy tweede goue medalje op die Wêreld-kortbadkampioenskap in Melbourne, Australië. In sy hand is ’n Australiese kunswerk. Foto: Getty Images

Van Niekerk, wat vroeër vanjaar op die Statebondspele in Birmingham, Engeland, die 50- én 100-borsslag gewen het, was in die sewende plek toe die deelnemers ná 25 m omgedraai het.

Suid-Afrika het die byeenkoms met vyf medaljes afgesluit – drie goues (twee deur Le Clos en een deur Matthew Sates (200-wisselslag)) – ’n silwermedalje (Van Niekerk) en ’n brons (deur Sates in die 100-wisselslag).

Le Clos, wat die afgelope twee jaar nie heeltemal aan die verwagtinge voldoen het nie en sedertdien in Duitsland woon en oefen, was ná 25 m nog in die tweede plek.

Kort nadat hy omgedraai het, het hy eerste van onder die water verskyn. Van daar af was hy enduit voor.

Die KwaZulu-Nataller het uiteindelik in baan 4 eerste die kant geraak in 48.59.

Daar was dadelik ’n groot glimlag op die voormalige Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer se gesig. Hy het sy hand opgesteek en twee vingers – vir twee goue medaljes – in die lug gesteek.

Lara van Niekerk nadat sy die silwermedalje in die 50-vryslag vir vroue verower het. Foto: Getty Images

Die 17-jarige Kanadees Illya Kharun was tweede in ’n nuwe junior wêreldrekordtyd van 49.03, met die 29-jarige Duitser Marius Kusch derde in 49.12.

Die 31-jarige Italianer Matteo Rivolta (49.32), die verdedigende kampioen, moes met die vyfde plek tevrede wees.

’n Baie tevrede Le Clos het ná sy oorwinning gesê hoewel hy nou al 12 goue medaljes by die kortbad-wêreldkampioenskap verower het, was dié van Sondagoggend waarskynlik die belangrikste.

Die voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese en swembaas Sam Ramsamy (84) het later die goue medalje om Le Clos se nek gehang en hom omhels.

Le Clos het met ’n nuwe huppel in sy stap en met ’n Suid-Afrikaanse vlag wat sy spanmaats om sy skouers gedrapeer het na die kleedkamer gestap.

Van Niekerk, wat vroeër vanjaar op die langbad-wêreldkampioenskap in Boedapest, Hongarye, die bronsmedalje in die 50-borsslag gewen het, het onlangs ’n voetoperasie ondergaan.

Sy is Sondag om die goue medalje geklop deur Litaue se Ruta Meilutyete, wat Saterdag in die halfeindronde ’n nuwe wêreldrekord van 28.37 opgestel het.

Meilutyete se wentyd in die eindronde was 28.50. Van Niekerk het die kant in 29.09 geraak, wat ’n nuwe Afrikarekord is.

Sy het die vorige rekord van 29.27 opgestel in dieselfde halfeindronde waarin Meilutyete die wêreldrekord opgestel het.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!