Nog ’n triomf by Uis vir Ross en Brits

Uithousport
Die onblusbare 51-jarige André Ross was opnuut onkeerbaar toe hy sy tweede titel in die tweejarige bestaan van die RMB Brandberg Backyard Ultra naby Uis in die Erongostreek beklink het.

Die Backyard Ultra is een van daardie ontsagwekkende uithoubyeenkomste wat liggaam en gees tot die uiterste beproef. Die deelnemers pak elke uur ’n baanrondte van 6,706 kilometer aan, totdat net ’n enkele wenner oorbly.

Altesame 70 atlete (insluitend 39 vir die Ultra) het Saterdagoggend om tienuur weggespring, met die bittereinders wat tot in Sondagoggend se nagtelike ure aangehou beweeg het.

Ross, ’n gesoute Comrades-hardloper, het altesame 18 rondtes (120 km) voltooi, nadat hy verlede jaar ook die byeenkoms met ’n totaal van 134 km gewen het.

Sy laaste uitdager was Milton Kimbini van Walvisbaai, wat vir ’n moordende 17 rondtes (113 km) volhard het.

Les Trollope se 16 rondtes (107 km) was die derde meeste, net een rondte meer as PC Visser en Johan Bronkhorst (beide 100 km).

Die vrouewenner Kirsty Brits (42) het ook haar 2022-sukses herhaal toe sy vir 13 rondtes (87 km) aangehou het.

Marietjie De Chavonnes Vrugt se 12 rondtes (80 km) het haar tweede geplaas, met een meer as Elmarie Adriaanse (74 km).

Gesamentlik vierde was Risa Dreyer Burger en Liezel Swanepoel, met 10 rondtes (67 km).

“Dit was yskoud en ek het reeds ’n verkoue gehad,” sê Dreyer, wat vanjaar die eerste Namibiese voltooier in die Comrades was.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!