Afrigters en beamptes van Rehoboth se twee premierligaklubs tydens die besoek van die NRU se hoëprestasie-afriugters. Foto Boet Matthews
Afrigters en beamptes van Rehoboth se twee premierligaklubs tydens die besoek van die NRU se hoëprestasie-afriugters. Foto Boet Matthews

NRU bou aan langtermyn grondslag

Rugby
Boet Matthews
Die groot groep van bykans 70 senior en o.20-rugbyspelers wat tans hard aan die voorseisoense voorbereiding werk, vorm deel van die Namibië Rugby-unie se beplanning om nie net die huidige Wêreldbekerjaar suksesvol te maak nie, maar ook die grondslag vir die 2027 en 2031 Wêreldbekers (in Australië en die VSA) te lê.

So het die NRU se bestuurder van die hoëprestasieprogram, Peter Drewett, gesê toe hy ’n groep senior nasionale afrigters van die unie op ’n besoek aan Rehoboth se twee premierligaklubs vergesel het.

“As jy bedags by die rugbystadion inloer, sal jy sien die plek is bedrywig met groepe wat met fiksheid- of vaardigheidsoefeninge besig is.

Drewett sê deelname aan die Mzansi-liga (nuwe naam vir die Curriebeker eersteliga) bied vir beide Namibië se spelers en afrigters ’n waardevolle ervaring om die gaping tussen klub- en internasionale rugby te oorbrug.

Sulke ondervinding sal onontbeerlik wees ten einde by die Wêreldbeker in Oktober vanjaar die land se gedugte groep A-teenstanders Italië, Nieu-Seeland, die gasheerspan Frankryk en Uruguay die stryd aan te sê.

“Die rede hoekom ons met so ’n groot groep jong spelers werk, is omdat dit belangrik is dat ons junior span vanjaar weer die Rugby Afrika Barthes o.20-toernooi wen en sodoende tot deelname aan die Wêreldrugby Junior Trofee deurdring.

“Dis hoekom tyd, energie en hulpbronne in dié groep belê word. Dis ’n werklik opwindende tyd vir Namibiese rugby. ’n Sewende opeenvolgende WB-deelname vanjaar is ’n reusekompliment vir Namibië se internasionale profiel,” het die Engelsman gesê.

Die besoek aan Rehoboth volg op vroeër NRU-afrigtersbesoeke aan Grootfontein en Walvisbaai, met Lüderitz wat vanaf vandag as die volgende bestemming geïdentifiseer is.

LEIERSKAP

Die NRU se visepresident vir rugbysake, Johan Diergaardt, het gesê die onlangs saamgestelde nasionale afrigterspanne is ’n goeie teken vir die toekoms.

“Daar is geweldige ervaring in die groep, maar veral die feit dat dit ’n gesonde mengsel van plaaslike aanstellings saam met die professionele buitelandse afrigters is. Hierdie belegging help verhinder die vorige gevalle waar ernstige insinkings tussen Wêreldbekers baie nadelig vir ons rugby was.

“Baie moeite word gedoen sodat wanneer Namibiese toetsspelers vanaf oorsee hier kom aansluit, moet die opset nie afsteek teen die standaarde waaraan hulle by hul beroepsklubs gewoond is nie.

“Ons besoeke aan die plattelandse klubs is bedoel om almal te laat inkoop in die rigting waarin ons wil beweeg. Die Welwitschias moet reeds gekondisioneer wees vir die voorseisoense vriendskaplike besoek deur die Pumas vir twee wedstryde (1 en 4 Maart).”

DEURSLAGGEWEND

Chrysander Botha, nuwe hoofafrigter vir die Welwitschias in die provinsiale reeks, sê die hele opbou na Wêreldbekers is bepalend in die uitslae en nie net wat by die toernooi gebeur nie.

“Die nasionale rugby-opset moet ideaal ’n voortdurende bouproses wees wat in geen stadium tot stilstand kom, soos in vorige stadiums gebeur het wanneer jy net krieke by die stadion kon hoor.

“Ons baat baie by die rykdom van ondervinding van ’n hoofafrigter soos Allister Coetzee, wat al suksesvol by die Springbokke se Wêreldbekerspan betrokke was en ook in Japan en Italië en Suid-Afrika afgerig het.”

Hy stem saam dat samewerking met die klubs van deurslaggewende belang is.

“Ons wil geensins die premierliga afwater deur ’n onnodige groot groep uit klubrugby te onttrek nie. Of ’n speler by die Welwitschias speeltyd kry of nie, is ons strewe dat hy as ’n beter speler na sy klub kan terugkeer.

“Daar sal naweke wees waar wedstryde van die klubs en Welwitschias oorvleuel, maar ons wil spelers blootstel aan die hoër vlak en hulle nie vir ses weke aaneen uit klubrugby onttrek nie.

“Ons doen baie moeite om spelers tot hul volle potensiaal te ontwikkel en die spankultuur sterk en gesond te handhaaf. Uiteindelik is dit vir almal ’n leeromgewing.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!