NSSU, Duiker opnuut in warm water

Skolesport
Onaangename ondervindings soos die afgelope naweek doen die beeld van Namibiese skolesport groot skade aan.
Andrew Poolman
Die mislukte Cossasa Balspele en die vergeefse reis deur bykans 240 seuns en meisies wat as verteenwoordigers van die Namibiese Skolesportunie (NSSU) die enigste span was wat ná ’n busrit van tot 36 ure in Potchefstroom opgedaag het, het die naweek vir groot omstredenheid gesorg.

By navraag aan die minister van sport, jeug en nasionale diens, me. Agnes Tjongarero, oor hoekom Namibië die enigste span was wat in Potchefstroom sy opwagting gemaak het en dus maar onverrigter sake weer huiswaarts gedraai het, het sy ’n bondige antwoord verskaf.

“Ons het van die hele sage verneem toe ouers die plaaslike radiostasies begin kontak het om duidelikheid te verkry. Daar is klaarblyklik twee verskillende weergawes van die verhaal. Ons sal môre (vandag) die volle waarheid te wete kom en ek kan jou verseker ons sal optree, hoewel ons eers dan sal kan inlig watter optrede gevolg sal word.”

REPUTASIE EN REËLINGS

Om vir die nasionale skolesportspan gekies te word, is normaalweg die hoogste eerbetoon waarna jongelinge kan streef, maar reeds voor die toergroep se vertrek het sommige ouers hardop gesê dat hierdie die laaste keer sou wees dat die NSSU op die knoppie van hul kinders moet druk.

Die gebrekkige reis- en verblyfreëlings het uit die staanspoor veel te wense oorgelaat en opnuut ’n lelike klad op die naam van die NSSU en sy jarelange nasionale koördineerder, mnr. Sollie Duiker, gelaat. Duiker is ook die huidige president van Cossasa, die konfederasie van skolesportverenigings in Suider-Afrika.

Duiker het nie gister op die koerant se vrae gereageer nie – spesifiek oor hoe dit gebeur het dat die NSSU-atlete by elkeen van hul stadions in Potchefstroom geen ander deelnemende spanne teëgekom het nie, met die enkele uitsondering van een sokkerspannetjie van Lesotho.

Atletiek, basketbal, netbal, sewesrugby, sokker en vlugbal was die sportkodes waarin die NSSU spanne op o.13- en o.17-vlak vir die Cossasa Balspele saamgestel het, asook ’n klompie o.15 baan- en veldatlete.

Republikein het ’n dokument onder oë gehad waarin die Suid-Afrikaanse Skole-atletiekvereniging (Sasa) reeds op 27 September (toe Rustenburg nog as die venue beplan was) hom van die byeenkoms gedistansieer het.

“Dit het onder ons aandag gekom dat ’n Cossasa-kampioenskap / Balspele vir 5-9 Oktober beplan word wat atletiek sal insluit. Hierdie kennisgewing kom vir Sasa as ’n skok en was nooit aan Sasa óf aan Atletiek Namibië gekommunikeer nie. Nie die departement van onderwys óf die departement van sport, jeug en kultuur het ons hiervan verwittig nie.

“Ons kon tydig van hierdie planne ingelig gewees het, want Sasa is voortdurend op die uitkyk vir internasionale deelname vir ons atlete.

“Ongelukkig kan ons nie sulke klandestiene kompetisie goedpraat, wat nie van Sasa of A.S.A. se skedule van byeenkomste deel vorm nie.”

Die laaste sin word dan onderstreep: “Ons versoek u dus (insluitend die nege provinsies aan wie die brief uitgestuur is) om nie atlete te stuur na kompetisies wat nie deur Sasa, A.S.A. of die departement van basiese onderwys goedgekeur is nie.”

DRAMA OP DRAMA

Die veelbewoë rit het Woensdagaand eers omstreeks elfuur die aand met vier busse uit Windhoek begin – nadat groepe ingelig was om reeds 16:00 of selfs heelwat vroeër by die vertrekpunt aan te meld, maar deur verskeie vertragings gefrustreer is.

Lang oponthoude by die Ariamsvlei-grenspos het die busgroepe Donderdag met tot ses ure ure vertraag vanweë uitstaande dokumentasie. Nadat die kinders glo daardie aand omstreeks tienuur hul laaste maaltyd ontvang het, het die volgende groot frustrasie voorgelê toe die Namibiërs se vier afsonderlike busse Vrydag tussen 09:00 en 15:00 by hul gastehuis in Potchefstroom aangemeld het.

Vir nog ’n paar uur Vrydagaand het kinders op die sypaadjie gesit totdat die gastehuis se eienaar betaling vir die bespreking ontvang het – nadat verskeie selfoonoproepe na Duiker of die hoofspanbestuurder me. Magdalena Muhinda`eers gemaak moes word.

Een van die etes op pad het glo uit ’n klein porsie tjips, ’n burger en gaskoeldrank. Saterdagmiddag twaalfuur het weer vir elkeen ’n pastei en ’n vrugtesap opgedaag, terwyl sommige van die reisende ouers tydens die vele vertragings moes inspring en instaan vir die etes wat nie naastenby voldoende was nie.

DOOIEMANSDEUR

Namibiese spanafrigters het voor hul vertrek nie geweet watter spanne veronderstel was om deel van hul kompetisie te vorm, of wie sou opdaag nie.

Die groep was nietemin geskok toe hulle Saterdag 07:00 by die Noordwes-universiteit se McArthur-atletiekstadion aankom en niemand anders aantref behalwe ’n paar enkele private atlete wat daar aan die oefen was nie.

Opsigters by die stadion het niks geweet van ’n beplande groot byeenkoms nie, maar het uiteindelik die groep ingelaat om op die pawiljoen te gaan sit.

Omstreeks tienuur het Duiker en ’n paar ander beamptes glo opgedaag en die byeenkoms “geopen”.

“Ons kinders het vir twee dae nie gebad of behoorlike badkamergeriewe gehad nie. Verskeie atlete se voete was Saterdag steeds opgeswel van die lang busrit,” vertel een van die reisende ouers.

“Dit was geestelik en fisiek dreinerend om te aanskou wat vir my op kindermishandeling neerkom. Woorde is eintlik nie genoeg om reg te laat geskied aan wat ons die naweek gesien en beleef het nie. Die NSSU-woordvoerders se standaard verweer dat daar nie geld beskikbaar is nie, is vir ons as ouers onverstaanbaar.

Ouers van baan- en veldatlete sê Duiker het hulle Dinsdagoggend by die Onafhanklikheidstadion ingelig dat die NSSU N$600 000 in die bank het en dieselfde dag nog verdere inbetalings van N$240 000 en N$1.4 miljoen sou ontvang.

OU WONDE

Die knou wat die skolesportunie se aansien tydens vorige petaljes soos die wintersporttoere in rugby, hokkie en netbal van 2018 gekry het (soek gerus Republikein se berig getiteld “Skade van NSSU-toere word steeds bereken”), is nog ver van vergete en Duiker-hulle sal hul voetwerk moet ken om die nadraai van die nuutste laagtepunt te oorleef.

Stemme word opnuut gehoor dat die NSSU óf met nuwe administratiewe bloed hervorm moet word, óf dat in geheel daarmee weggedoen moet word sodat elke sportkode se nasionale senior beheerliggaam beheer en eienaarskap oor sy pyplyn vanaf skolevlak kan verkry.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!