NSSU se reëlings kort baie hulp

Atletiek
Die skedule se vertragings tot laatnag en die beperkte kwota atlete per streek was van die mees sentrale bsware.
Andrew Poolman
Ondanks die goeie prestasies op die baan en in velditems deur atlete wat vir hul harde werk en talent beloon is, sal dit voortydig wees vir die nuwe administrasie van die Namibiese Skolesportunie (NSSU) om ná die naweek se nasionale atletiekkampioenskap hulself te veel op die skouer te klop.

Heelwat administratiewe pap het op die grond beland in die eerste nasionale NSSU-atletiekkampioenskap vandat die meer as ’n dekadelange bestuurstermyn van Sollie Duiker tot ’n einde gekom het.

Ouers, skole- en streekadministrateurs het deur die loop van die naweek hul frustrasie laat blyk met van die reëlings, wat reeds verlede week gebreke uitgewys het.

Vrydagnamiddag, met die begintyd van die kompetisie reeds op hande, is laat inskrywings van atlete steeds gedoen.

Die NSSU se vreemde, eensydige beperking dat streekspanne uit net vyftig atlete mag bestaan, het tot proteste van streekverteenwoordigers namens van hul uitstaande, kwalifiserende atlete gelei, wat darem in sommige gevalle geslaag het.

Die uiteinde van die administratiewe versuim om nie minstens die top-agt in elke ouderdomsgroep vir elke items te nooi nie, het tot die ongewenste gesig gelei dat byvoorbeeld in sommige hekkieswedlope die baan nie eens gevul was nie, maar soms so min as vier deelnemende atlete gehad het.

Cira de Wet (meisies o.19) en Zoe Waldschmidt (meisies o.17) is van die sterkste hekkieshardlopers wat nie ingeskryf is nie omdat die Khomasstreek se totale kwota reeds vol was – hoewel hekkiesatlete van ander streke wel toegelaat is.

Hierdie ongelyke speelkans strek die NSSU nie tot eer in sy jaarlikse spoggeleentheid nie en skep ’n broeiplek vir frustrasie wat selfs talentvolle atlete kan beweeg om die spykerskoene op te hang, of na ’n ander sport aan te beweeg.

Die koerant verneem van streekadministrateurs wat deur die loop van die naweek op ’n sosiale forum besware aan die NSSU-administrateurs verwoord het.

Een vanuit die verre noordelike streke skryf: “Goeie môre almal, ek hoop al die streekspannne het veilig terug gereis. Laat my toe om elkeen van julle in jul individuele hoedanigheid en as ’n kollektief te bedank.

“Laat my egter ook toe om die volgende teleurstellings rakende die reëlings te lug.

• Streke moes ure bestee om vervoer te kry en streke soos Omusati het van hul span se sleutelitems misgeloop.

• Geen amptelike opening van ’n geleentheid van so ’n groot omvang nie, nie eens ’n openingsgebed nie?

• Atlete het reispakkies sonder iets om te drink. Of vier atlete wat een 330 ml koeldrank moes deel. Streekspanne moes hul eie ontbyt en middagete reël.

• Ek moedig alle streekverteenwoordigers aan om ’n verslag in te dien met alle uitdagings en miskien ’n paar prestasies en toekomstige aanbevelings. Ek hoop die nasionale koördineerder is op hierdie platform.

Nog ’n streekadministrateur: “Ek is bevrees vir die toekoms indien hierdie die aanduider is. Teleurstellend genoeg het ons ’n nasionale koördineerder wat by die geleentheid was en ons is nie eens aan hom voorgestel nie.

“Niemand was ingelig dat hulle Vrydagmiddag atlete kon byvoeg nie, aangesien ’n paar ekstra atlete wel bygevoeg is. Daar was leë bane ondanks die vele versoeke. Slegs twee of drie atlete in sekere items.

“Die program het baie erg agter geraak (sommige items het Vrydagaand eers ná 23:00 begin) met geen dringendheid om tyd in te haal nie. Die gewigstoters en diskusgooiers het ure gestaan en wag om te begin.

“Geen finale atleetlys is geplaas vir enigiemand om te bevestig nie.

“Daar was vele foute op verskeie inskrywings, byvoorbeeld verwarring tussen 400 meter en 400 hekkies. En 24 uur ná die byeenkoms was die uitslae steeds nie uitgereik nie. Ons wil graag die berekeninge nagaan van hoe die individuele trofeewenners en pryswenners bepaal is.

“Te min leierskap op die grond om enige kwessies te hanteer – ouers is van van een kant na die ander gestuur. Die bystand van klubs is geweier, hoewel atleet se afrigter by verskeie klubs.

“Geen verversings mag die hele naweek op enige plek in die stadion verkoop word nie.

“Op ’n positiewe noot het sommige baanbeamptes wel hul heel beste gegee onder die omstandighede.

UITBLINKER

Die byeenkoms se junior victor ludorum was een sprekende voorbeeld van die fyn skeidslyn tussen ’n presteerder of iemand wat noodgedwonge afwesig moes wees.

Die o.15-atleet van Khomas, Dirk Farmer, het middel April harsingskudding by die o.16-rugbyproewe opgedoen en is vir een week afgeboek, wat meegebring het dat hy die Khomas-atletiekkampioenskap misgeloop het.

Hy het vrystelling vir deelname ná intensiewe oog- en breintoetse verkry en ook met behulp van EyeXcel Sports Vision Centre was hy reg vir die atletiek.

Khomas het egter aanvanklik beslis dat hy nie mag deelneem nie, grootliks omdat hy die streekkampioenskap misgeloop het (ondanks die doktersbriewe). Donderdagoggend is Khomas se kwota van 50 tot 70 verhoog, maar steeds was hy nie in die span nie.

Met die steun en motivering van sy skool en bestuur van Windhoek Gimnasium is hy uiteindelik Vrydag 16:00 ingeskryf vir sy eerste naelloop om 18:00.

Farmer is ook ingesluit in die 35-rugbygroep vir die o.16 Grant Khomo-week, nadat hy Vrydagoggend twee wedstryde by die proewe kon speel. Die hoërskolerugbyvereniging het atlete vrywaring gegee wat ook aan die nasionale atletiek moes deelneem.

Op die atletiekbaan het Farmer goud in die o.15-spiesgooi (48.26 m), goud in die 200 (22.95) en silwer in die 100 (11.39) ingeoes.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!