• Tuisblad
  • Sport
  • ‘Nuwe’ Beatrice wil baan aan die brand hardloop
Beatrice Masilingi kan na verwagting ná haar behandeling in Suid-Afrika weer soos die topatleet van laasjaar te wees. Foto Tielman van Lill
Beatrice Masilingi kan na verwagting ná haar behandeling in Suid-Afrika weer soos die topatleet van laasjaar te wees. Foto Tielman van Lill

‘Nuwe’ Beatrice wil baan aan die brand hardloop

Atletiek
Tielman van Lill
Die 2022-atletiekseisoen het vanjaar nog nie die resultate vir Beatrice Masilingi gelewer wat sy en mnr. Henk Botha, haar persoonlike afrigter, gekoester het nie.

Die jong naelloper kon vanjaar nog nie dieselfde tye in die 100 meter-naelloop behaal het as wat sy verlede jaar aangeteken het nie. Boonop het sy op 16 April tydens die 4x100-aflos by ’n minder aansienryke byeenkoms in die Verenigde State haar regterdyspier beseer.

As voorsorg het Botha haar toe nie aan die 100 en 200 m-items by dieselfde byeenkoms laat deelneem nie.

Die 19-jarige Masilingi het vir ’n paar weke gerus, maar sy het toe Saterdag by Wêreldatletiek se Gaborone Internasionale Bronsbyeenkoms in Botswana opnuut haar regterdyspier beseer.

Sy was met die 100 in die tweede posisie ná haar oefenmaat Christine Mboma toe sy ná ongeveer 80 meter onverwags ophou hardloop het. Masilingi het wel oor die eindstreep in 13.12 sekondes gehinkepink terwyl sy haar dyspier vasgehou het.

Masilingi (toe 18) het verlede jaar Augustus in Nairobi, Kenia, tydens die o.20-wêreldkampioenskap 11.20 vir ’n silwermedalje behaal. Sy het sover in 2022 met amptelike kompetisies tye van 11.37 (Swakopmund Grand Prix op 15 Januarie), 11.24 (Bloemfontein Grand Prix op 16 Maart) en 11.24 (Alabama, VSA, op 2 April) aangeteken.

Sy het Dinsdag vir ’n skandering gegaan om die skade te bepaal.

Botha het gister aan Republikein verduidelik: “Die skandering is gedoen en die bevinding is Beatrice het ’n graad 1-skeur opgedoen. Sy is tans in Suid-Afrika by ’n topfisioterapeut van Duitsland wat haar behandel.

“Ek het Dinsdagaand met Beatrice gepraat en sy wil net terugkom en saam met ons oefen. Haar gemoedstoestand is puik en sy sal haar nie deur die besering laat onderkry nie.

“Die skandering wys ook ’n ou besering van ongeveer twee centimeter in dieselfde dyspier, wat die fisio behandel. Toetse het nou gewys Beatrice se regterbeen is nie 100 persent simmetries nie en draai na buite terwyl sy hardloop.

“Volgens die fisio word dié tipe beserings deur ’n atleet se laer rug veroorsaak. Die dyspier kompenseer vir ’n werwel wat skuif en tot beserings lei. Saam met haar ‘skewe’ regterbeen is dit ’n resep vir ’n ramp.

“Beatrice gaan vir tien dae behandeling ontvang en dan sal daar weer ’n skandering gedoen word om vas te stel hoedanig sy herstel het. As sy nie na wense op die behandeling reageer nie, sal sy eers middel Junie weer by die Senior Afrika-kampioenskap in Mauritius hardloop.

“Ons mik vir die Prefontaine Classic Diamantliga-byeenkoms by die Hayward Field-stadion in Eugene, Oregon, in die VSA op 28 Mei. Sy ondervind op die oomblik geen ongemak of pyn nie en hopelik is sy reg vir die kompetisie in Eugene.

“Beatrice het Saterdag voor haar besering ’n ongelooflike 100 gehardloop. Dit sou haar beste vertoning vir die 2022-seisoen wees en ek reken sy sou baie naby aan elf sekondes gedraai het.

“As haar rug en been simmetries is en die ou asook nuwe besering is behandel, behoort Beatrice se spoed weer reg te wees.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 21° | 33° Eenhana: 20° | 31° Oshakati: 19° | 30° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 21° | 31° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 20° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 22° | 37° Aranos: 21° | 36° Lüderitz: 18° | 28° Ariamsvlei: 22° | 39° Oranjemund: 14° | 25° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 30° Lubumbashi: 16° | 29° Mbabane: 12° | 28° Maseru: 14° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 20° | 29° Maputo: 17° | 30° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 15° | 23° Durban: 16° | 24° Johannesburg: 14° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 16° | 25° #REF! #REF!