Christine Mboma werk in die gimnasium aan haar veerkrag saam met afrigter Henk Botha. Foto’s Tielman van Lill
Christine Mboma werk in die gimnasium aan haar veerkrag saam met afrigter Henk Botha. Foto’s Tielman van Lill

Nuwe seisoen vol belofte

Atletiek
Die vooruitsigte vir aspirerende kwalifiseerders sal aandag trek in die Olimpiese jaar.
Tielman Van Lill
Atletiek Namibië se eerste byeenkoms vir 2024 sal soos tradisioneel opnuut vandeesmaand in Swakopmund aangebied word.

Die eerste Grand Prix vir senior atlete sal op Saterdag 27 Januarie by die Vineta-stadion gehou word. Dié kompetisie so vroeg in die seisoen bied veral aan atlete by die kus die geleentheid om hulself aan nasionale en internasionale standaarde te meet.

Met die 2024 Olimpiese Spele in Parys in gedagte sal atlete wêreldwyd so vroeg as moontlik vir dié skouspel wil kwalifiseer.

Die naelloper Christine Mboma het einde verlede jaar die groen lig van Wêreldatletiek gekry en kan weer amptelik vanaf April die tartanbaan aan die brand hardloop. Sy en haar mede-Olimpiese finalis in Tokio 2021, Beatrice Masilingi, lyk na Namibië se beste kans om vir die Spele te kwalifiseer.

Mboma (20) sal steeds nie aan die 400 meter mag deelneem nie, maar wel aan die 100 en 200 m-naellope. Dis nog nie bekend watter van die twee items haar spesialiteitsnommer gaan wees nie.

Sy het op 30 April 2022 by die Nasionale Stadion in Gaborone, Botswana, tydens ’n internasionale byeenkoms die 100 in ’n blitsige 10.97 sekondes vir ’n onder 20 Afrika-rekord en nasionale senior rekord afgelê.

Dit was maar haar vyfde 100-wedloop en die laaste voordat sy dieselfde jaar in Nairobi, Kenia, ’n besering opgedoen het.

Haar bestaande 200-wêreldrekord in die onder 20-afdeling van 21.78 sekondes, het sy in 2021 te Zürich, Switzerland, by die Weltklasse Diamantliga-eindbyeenkoms as 18-jarige behaal. Dit is ook die senior Afrika- en Namibiese rekord.

Sy het in April 2022 in Gaborone bitter naby aan haar 200-wêreldrekord gedraai toe sy met 21.87 gewen het. Ná die lastige besering wat sy in Nairobi opgedoen het, het sy met ’n relatief stadige 22.80 ’n bronsmedalje by die 2022 Statebondspele in Birmingham opgeraap.

Dit was Mboma se laaste amptelike deelname. ’n Vars en honger Mboma kan moontlik opnuut Namibiërs en atletiekgeesdriftiges se verbeelding wêreldwyd met haar uitsonderlike talent aangryp. In Meimaand word sy 21 jaar oud en sal as ’n meer volwasse atleet in die wegspringblokke sak.

Beatrice Masilingi (20), Mboma se gewese oefenmaat, is terug in Namibië nadat sy al haar bande met haar agent en afrigter in Suid-Afrika verbreek het. Masilingi het in 2022 Namibië vir Suid-Afrika en ’n nuwe afrigter in Pretoria verruil. Sy is besig om in die hoofstad vir die Olimpiese Spele voor te berei.

Ongelukkig kon sy sedert haar vertrek nie weer dieselfde resultate onder die afrigtingskap van Hennie Kriel in Suid-Afrika behaal nie. Sy het wel in Februarie 2023 die Afrika-rekord in die 300 m tot 34.60 laat krimp. Sy het Maart 2023 net een 100 met katastrofiese gevolge in 23.34 afgelê en nie een 200 gehardloop nie.

Indien Masilingi die peil kan herwin wat sy tevore onder die mentorskap van Henk Botha behaal het, kan sy ook in die 100 en 200 vir die Olimpiese Spele kwalifiseer.

VERSPRINGER

Lionel Coetzee het verlede jaar die Namibiese senior verspringrekord tot 8.27 meter gerek. Met dié afstand het hy ook vir die wêreldkampioenskap in Hongarye gekwalifiseer.

Die Swakopmunder se veldtog in Boedapest was egter nie wat die jong atleet sou wou hê nie. Dit was wel sy eerste internasionale deelname, met enorme druk op hom tussen die groot name. Die ondervinding wat hy opgedoen het, kan hom in 2024 handig te pas kom. Indien hy weer die maatband verder kan laat afrol, kan hy moontlik ook sy tasse vir Parys pak.

Olimpiese kwalifiserende standaarde

100 m: Mans (10.00), vroue (11.07).

200 m: Mans (20.16), vroue (22.57).

Verspring: Mans (8.27 meter).

REGISTRASIE

Atlete en beamptes kan tot die einde van Februarie 2024 teen N$50 vir die nuwe seisoen by Atletiek Namibië registreer. Die koste vir laat registrasies verdubbel egter vanaf 1 Maart tot N$100 vir atlete en beamptes.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!