O.18’s gooi hul gewig rond in die Boland

Rugby
Grens Platteland was nie opgewasse teen Namibië se uitsoekspan nie.
Andrew Poolman
Die Namibiese Skolesportunie (NSSU) se nasionale o.18-rugbyspan was heeltemal te swaar vir hul opponente en het gister op ’n drafstap ’n oorwinning met 61-14 teen die Grens Platteland behaal (rustyd 33-0).

“Ons voorbereiding was nie ideaal soos ons sou wou hê nie, maar ons het die beste van die saak gemaak en ons is oor die eerste hekkie,” sê mnr. Albert Arries, die hoofafrigter.

Met dié uitslag is die Namibiërs uit die blokke by die SA Akademieweek, wat by die Hoërskool Hugenote op Wellington aangebied word.

Nadat Namibië vanaf 1964 tot 2017 ’n vaste instelling by die o.18 Cravenweek was voordat hy saam met vier ander “kleiner” unies in rang verlaag is en dus slegs uitnodigings na die Akademieweek kry, is daar geen aanduiding van voornemens om die vorige status te herstel nie.

Inteendeel, Namibië se openingswedstryd is gister op die gasheerskool se B-veld gespeel, teen ’n unie wat tradisioneel as waarskynlik ’n melkkoei bekend is.

Niemand gebruik ’n oorwinning oor Grens Platteland om mee te spog nie en enige ernstige talentjagters is gewis dié week eerder besig by die Cravenweek in Kaapstad.

André Brandt, stewige agtsteman van Moria Privaatskool op Outjo, het ’n uitstaande wedstryd beleef en het vier drieë gedruk. Die flank Marcus Meyer van Elnatan het ook beïndruk.

Namibië se ander driedrukkers was Karel Noppe (stut van Pro-Ed Akademie), Jean-Paul van Wyk (senter van Dr. Lemmer), Theunis van Wyk (senter van Windhoek Affies), die vlugvoetige Heinrich Januarie (heelagter van Dr. Lemmer) en Suramie Kambombo (plaasvervanger-senter van Windhoek Gimnasium).

Tussen die stelskoppers Henrick van Schalkwyk (vleuel van Delta, ses) en Jean-Paul van Wyk (2) het hulle met agt uit die nege doelskoppogings geslaag.

In die skrums het die Namibiërs – onder die kapteinskap van Windhoek Gimnasium se vaskopstut van 128 kilogram, Herman Coetzee – gemaak wat hulle wou teen die ligter agttal.

Arries sê: “Die weerstoestande was ideaal en van die afskop af het ons tot ’n groot mate gespeel soos ons wou speel.

“Van die vaste fasette af is daar geleenthede waar ons ons volgende fases beter kon opstel en die seuns is daarvan bewus dat ons nog meer geleenthede geskep het om punte aan te teken, maar nie afgerond het nie. Ek reken die ouens het mekaar darem algaande beter begin vind.”

Die Namibiërs se tweede wedstryd word reeds vanoggend gespeel en behoort volgens die patroon van vorige jare teen ’n meer gedugte provinsiale unie te wees, wat teen druktyd nog nie bekend was nie. Die volgende loting word eers ná elke wedstryddag gedoen, om die spanne grootliks volgens krag teen krag op te weeg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!