O.20’s moet hul staal vir grote teen Kenia

Rugby
Andrew Poolman
Die twee tradisioneel kragtigste spanne in Rugby Afrika se Barthés o.20-toernooi het soos verwag die mindere teëstand uit die pad gevee en hul afspraak bespreek om mekaar Woensdag in geweldige stryd in die semifinaal te pak.

Namibië het in Saterdagoggend se openingswedstryd ’n telling van 62-0 teen Ivoorkus opgestapel, nadat sake rustyd op 29-0 gestaan het.

Die vele ongedwonge hanteerfoute en balbesit wat in kontak verloor is en waarsonder hulle die telling nog hoër sou kon opjaag, is die mees ooglopende aspek waarop die jong Namibiërs behoort te verbeter.

Die vleuel Quirone Majiedt het byvoorbeeld ’n slag net voor die rustydfluitjie skoon deurgesny, maar die bal verloor toe hy in die doelgebied geduik is. Maar hy was gewis nie die enigste oortreder nie.

Die heelagter Geraldo Beukes se skeppende vermoëns op die aanval was deurgaans een van die groot faktore.

Hyself het twee drieë gedruk en ook met ’n binne-aangee die sterk buitesenter Patrick Karsten se eerste van twee drieë moontlik gemaak.

Binnesenter Niel Holtzhausen (2), flank Ray-Eez Feris, stut Jano Otto, haker Franco Pearson en plaasvervangerstut Bernd Beddies het die res van Namibië se totaal van tien drieë gedruk.

Die skopwerk pale het nie deurentyd gevlot nie. Geraldo Beukes het in die eerste helfte met twee uit vyf doelskoppe geslaag. Ná rustyd het die skrumskakel Oela Blaaw oorgeneem vir twee uit twee en die plaasvervanger-senter Raschano van Rooi het ook twee deurgeklits (insluitend een van die regterkantlyn af), maar met sy laaste poging het hy so lank gekorrel dat die skeidsregter die eindfluitjie geblaas het.

Blaauw het die toerkaptein geword toe die ongelukkige flank van Western Suburbs, Rowan Jansen, op die vooraand van hul vertrek verlede week positief vir Covid-19 getoets is.

Afrigter Chrysander Botha sê: “Ons het die wedstryd benader sonder om werklik te weet waarmee die Ivoriane vorendag sou kom. Tradisioneel is dié land se spanne voorlangs baie fisiek, maar hul o.20-span het nie gelyk of hulle ’n plan het nie.

“Ons het die meeste van ons drieë deur goeie teenaanvalle gedruk. Ongelukkig was daar nie werklik sprake van ons gestruktureerde aanval nie. Ons het nie afgerond wanneer ons in hul kwartgebied gekom het nie.

“Op die verdediging het ons wel ons duikslae uitgevoer, maar ons het ook lui en lusteloos gelyk.”

KENIA HET SPOED

Kenia het in die laaste van die vier wedstryde met 54-20 oor sy buurland Uganda se span gerol.

Oor dié wedstryd, waarin Uganda rustyd net met 10-11 agter was, het Botha gesê: “Kenia het Uganda se weerstand afgebreek met doeltreffende baldraers en baie goeie beskikbaarstelling van balle vir die volgende fase. Hulle het goeie, sterk voorspelers en as die bal wyd gaan, het hulle ’n fisieke 12-senter en die 13 is een van die vinnigste spelers wat ek in ’n redelike tyd gesien het.

“Kenia is goed georganiseerd. Hoede af vir Uganda; hulle het vir die eerste 40 minute dapper verdedig, maar toe hulle in die tweede helfte van duikslae begin afgly, is die lyn gebreek en het die drieë gekom.”

• In die ander helfte van die loting sal Zimbabwe en Madagaskar mekaar Woensdag takel om die ander posisie in die finaal komende Sondag.

Zimbabwe het naelskraap met 19-18 verby Tunisië gevorder, terwyl Madagaskar beperkte weerstand van Zambië ondervind het (26-14).

Verlede jaar, met Namibië afwesig, was Madagaskar ongelukkig om in die eindstryd met net ’n enkele punt teen Kenia te verloor. Die eilandspan was met ses punte agter en het die laaste drie in die regterhoekie gaan druk.

Die doelskop was te moeilik en Kenia het oorleef om die kontinentale titel te behou wat hy in 2019 in Nairobi by Namibië afgeneem het.

SENIOR VLAK

Op senior vlak is klubrugby in Namibië nou maar eers twee naweke aan die gang, met uiters beperkte geleenthede in die vooruitsig om sy span te slyp vir die kwalifising (in Julie, in Frankryk) vir die 2023 Wêreldbeker in Frankryk. Sy sterkste uitdagers, Kenia en Zimbabwe, het beide in Suid-Afrika kamp opgeslaan en hoewel hulle in die Curriebeker B-afdeling houe vat, kan hulle die kreukels uitstryk en hulselfs begin organiseer.

Kenia se Simbas het Saterdag op Brakpan met 51-14 teen die Valke slae gekry, terwyl die Zimbabwe Goshawks in Welkom swaar geleef het teen die Griffons (48-5).

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!