Opwarm nie meer teen Griekwas; wel teen Bulle

Rugby
Die vorige planne om Namibië se span vir die kwalifiserende WB-veldtog reg te slyp, het intussen weer verander.
Andrew Poolman
’n Rugbywedstryd in Windhoek op 4 Junie is tussen ’n Blou Bulle Vyftiental en die plaaslike Welwitschias-kombinasie gereël – wat ondanks die vriendskaplike status groot belangstelling sal opwek en van groot betekenis vir die tuisspan sal wees.

Net tien weke bly oor voordat die Namibiese rugbyspan in die suide van Frankryk moet gaan aantree om vir volgende jaar se Wêreldbeker te kwalifiseer.

Die Namibiërs se toetswedstryde om Rugby Afrika se verteenwoordiger te bepaal, sal op Vrydag 1 Julie eerste teen die swakke Burkina Faso begin, voor die twee werklike uitdagings wat in alle waarskynlikheid volgende teen Zimbabwe (Dinsdag 5 Julie) en daarna in die finaal teen Kenia (Sondag 10 Julie) behoort te wees.

Dis nou tensy Zimbabwe of Kenia in enige van hul twee wedstryde ’n dure glipsie begaan.

Op papier stoot Namibië ’n besonder gevestigde en gedugte span in die veld – want van die 31 spelers wat Phil Davies in 2019 na die Wêreldbeker in Japan geneem het, is net ’n handjie vol glad nie meer in die prentjie nie – soos die flank Rohan Kitshoff en senter Darryl de la Harpe wat uitgetree het en nou saam by FNB Wanderers afrigters is, of Eugene Jantjies (uitgetree, skrumskakel), Janry du Toit (vleuel) en AJ de Klerk (stut) wat sedertdien nie juis enige rugby op enige beduidende vlak gespeel het nie.

Dié kern bo en behalwe enige ander nuwe talent binne of buite die landsgrense wat intussen hul hand kon opgesteek het.

Namibiese ondersteuners ondervind nietemin ’n mate van onrustigheid omdat die nasionale rugbygroep sover in hierdie Wêreldbeker-siklus so min tyd bymekaar deurgebring het.

Allister Coetzee is verlede jaar as afrigter aangestel en hoewel sy span vanweë verskeie omstandighede nie op volle sterkte was nie, het Namibië rakelings ’n doodskoot vrygespring toe hulle in Abidjan met 13-24 teen Ivoorkus verloor het.

Met dié uitslag is Phil Davies se rekord prysgegee dat Namibië onder sy bewind geen toetswedstryd teen Rugby Afrika-opposisie verloor het nie (die laaste keer was teen Kenia in Madagaskar in 2014).

Genadiglik kon die span onder kapteinskap van PJ van Lill met die positiewe punteverskil van 52-10 teen Madagaskar hul WB-veldtog lewendig hou, as een van die agt spanne wat in Julie 2022 in die kwarteindronde in Frankryk ontmoet.

Allister Coetzee, wat tot ná die 2023 Wêreldbeker aangestel is, se vernaamste uitdaging is om die individuele spelersgroep tot sy beskikking ten beste te identifiseer en in die oorblywende tyd weer as die gedugte eenheid saam te snoer waarvoor hulle bekend is.

Die Namibië Rugby-unie is sedert die afgelope naweek se verkiesing onder ’n nuwe raad, met adv. John Walters en mnr. Petrie Theron as die medepresidente.

Onder hul voorganger, mnr. Corrie Mensah, is ’n ooreenkoms bereik dat Griekwas-rugbyunie tuis en weg teen die Namibiese oefengroep te staan sou kom, in oorleg met die Namibië Brouerye wat met sy Windhoek Draught-handelsmerk die SA unie se naamborg is.

Die NRU se uitvoerende hoof, mnr. John Heynes, het egter aan Republikein bevestig dat die wegwedstryd in Kimberley intussen ook deur die mat geval het – net soos die beoogde Windhoek-ontmoeting vroeër.

Volgens Heynes is ’n hersiening gedoen en was die onbeskikbaarheid van Namibië se buitelands gekontrakteerde spelers buite Wêreldrugby se vensterperiode ’n belangrike oorweging, sodat nie met die Griekwas-planne deurgevoer word nie.

“Ons reël op 21 Mei ’n inter-oefengroep wedstryd tussen die plaaslike aanspraakmakers op plekke in die toergroep.

“Ons het afgelope Maandagaand ook die vriendskaplike besoek van ’n verteenwoordigende Blou Bulle-kombinasie op 4 Junie vasgeknoop.

“Allister en sy nasionale afrigterspan sal hierna ’n groep van 35 spelers aanwys wat vir ’n oefenkamp van drie weke in Suid-Afrika uitgesoek sal word. Die toergroep na Frankryk sal tydens die oefenkamp aangewys word en van daar na die kwalifiserende toernooi vertrek,” het hy verduidelik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!