Oud-Wallaby trek Welwitschias-trui aan

Rugby
Andrew Poolman
Prince !Gaoseb, agtsteman van die Tel Aviv Heat en die Universiteit van Namibië, sal as kaptein begin van die Windhoek Draught Welwitschias wat môre die besoekende Windhoek Draught Griekwas in die Hage Geingob-stadion die stryd aansê (afskoptyd 16:00).

Die vriendskaplike wedstryd tussen die twee aangrensende unies word vir die eerste keer gespeel waarin die Hage Geingob-beker op die spel sal staan.

Afrigter Allister Coetzee sal op grond van die afgelope week se oefenkamp asook môre se vertonings sy nasionale toergroep van 28 spelers aankondig vir die toetse teen Spanje op 12 November in Madrid, en ’n week later teen Kanada in Amsterdam.

Die jong vleuels Warren Ludwig en Daryll Wellman tel onder diegene aan die buiterand van die nasionale groep wat moontlik hul kans kan aangryp om ’n plek op die Europese toer te beklink.

Die vleuel-opsies is ietwat uitgedun deur die skoueroperasie wat Gerswin Mouton onlangs moes ondergaan, asook die uittrede van die ervare JC Greyling en die voortdurende beenspierbeserings wat Lesley Klim terughou.

Ludwig, Wellman en die vaskopstut Casper Viviers, wat in Frankryk klubrugby speel, is die enigste lede van die beginspan wat nie in Julie in die suksesvolle 2023 Wêreldbeker-kwaliseringstoernooi in Frankryk deelgeneem het nie.

Wellman sal sy man moet staan teen Griekwas se briljante Blitsbok- en Springbokvleuel Rosko Specman, wie se vlugvoetigheid hom op sigself ’n trekpleister maak.

Die stutte sal ook in die kollig wees, met Desiderius Sethie beseer en Aranos Coetzee ook nie beskikbaar nie.

Een verskyning vanaf die reserwebank wat heelwat insig teen die geharde Griekwas kan bied, is die 28-jarige flank Richard Hardwick.

Die kort flank wat tussen Maart en Mei vanjaar tien wedstryde as ’n gereelde beginlid vir die Melbourne Rebels gespeel het, het die Wallabies in 2017 in twee toetse verteenwoordig. Die gebore Windhoeker kan egter te danke aan Wêreldrugby se veranderde regulasie van die verstrykong van minstens drie jaar ’n tweede internasionale loopbaan aan die gang kry, net soos Israel Folau (Australië en nou Tonga) en verskeie ander.

Die Welwitschias se beginspan (1-15): Jano Otto, Obert Nortje, Casper Viviers, PJ van Lill, Ruan Ludick, Wian Conradie, Janco Venter, Prince !Gaoseb (kaptein), Damian Stevens, Cliven Loubser, Daryll Wellman, Danco Burger, Alcino Izaacs, Warren Ludwig, Divan Rossouw.

Reserwes: Chemigan Beukes, Louis van der Westhuizen, Jason Benade, Adriaan Ludick, Max Katjijeko, Richard Hardwick, Johan Retief, Adrian Booysen, Helarius Kisting, PW Steenkamp, Le Roux Malan, André van der Berg.

DIE POUBLOUES

Die impak wat Rosko Specman in sy eerste oefensessie by Griekwas gemaak het, het die Noord-Kapenaars oortuig om hom dadelik in die beginspan in te sluit, skryf Marnus Kok vir Netwerk24.

Specman (33) het Maandag sy eerste oefensessie saam met Griekwas gehad, nadat hy tot verlede maand by die Cheetahs gekontrakteer was.

Afrigter Pieter Bergh sê dit was ’n maklike besluit om Specman in die beginspan in te sluit.

“Hy het onmiddellik waarde toegevoeg. Sy impak op sy eerste oefensessie was merkwaardig. Ek dink van die spelers het gesien hoekom hy ’n Springbok is,” sê Bergh.

“Hy het energie na die oefening gebring en die kwaliteit van die oefening sommer verhoog. Om dié rede was dit ook nie ’n probleem om hom dadelik te kies nie.”

Die vlugvoetige Specman het in 2021 in een toets, teen Georgië, vir die Bokke gespeel. Dis egter in sewesrugby waarin hy diep spore getrap het – onder meer in 30 Wêreldreeks-toernooie vir die Blitsbokke.

Specman en Luther Obi sal die Poubloues se vleuels wees, met Jay-Cee Nel – meer bekend as ’n senter – wat die laaste vesting sal dek.

Uit die Namibiese oogpunt is Nel (tevore ’n Blou Bul) ook op die radar as ’n vooruitsig, omdat hy vanweë sy afkoms vir dié land kwalifiseer, hoewel sy administratiewe dokumentasie nog nie gereed is om hom tans kiesbaar te maak nie.

Die ervare losskakel George Whitehead (33) sal die span aanvoer, met die gereelde kaptein Niel Otto (flank) as ’n plaasvervanger.

GRIEKWAS (15-1): Jay-Cee Nel, Rosko Specman, Tertius Kruger, Eddie Fouché, Luther Obi, George Whitehead (k), Dylan Alexander, Carl Els, Stephan Smit, Thabo Ndimande, Albert Liebenberg, Mihlali Stamper, Justin Forwood, Gustav du Rand, Eddie Davids.

Reserwes (uit): Simon Westraadt, Cebo Dlamini, Janu Botha, Godfrey Muzanargwo, Niel Otto, Michael Amiras, Raegan Oranje, Ashlon Davids, Sean Swart, Kudzwai Dube, Johan Mulder.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!