PAS IN: Bokke se groot Wêreldbeker-skokke

Rugby
Drie van die Springbokke se sleutelspelers is weens beserings nie vir die groep van 33 spelers oorweeg wat in Frankryk sal poog om Suid-Afrika se Wêreldbeker-titel suksesvol te verdedig nie.

Handré Pollard (losskakel), Lukhanyo Am (buitesenter) en Lood de Jager (slot) sal nie betyds hul fiksheid herwin vir die begin van die Bokke se WB-veldtog nie en is op ’n lys van spelers geplaas wat op bystand is indien beserings opduik.

Siya Kolisi, wat ook nog herstel van ’n kniebesering en nog nie vanjaar vir die Springbokke kon speel nie, is wel gekies en sal die draers van die Groen-en-Goud vir ’n tweede keer in ’n WB-toernooi lei.

Hy is ook een van nege spelers wat in hul derde WB-toernooi sal speel. Die ander is Eben Etzebeth, Duane Vermeulen, Willie le Roux, Trevor Nyakane, Jesse Kriel, Damian de Allende, Pieter-Steph du Toit en Frans Malherbe.

Altesame 21 van die spelers wat in 2019 se seëvierende WB-veldtog in Japan betrokke was, sal in Frankryk weer hul slag wys.

Nog twee spelers wat vanjaar nog nie weens beserings en persoonlike redes vir die Bokke kon uitdraf nie, Ox Nche (loskopstut) en Jaden Hendrikse (skrumskakel), sal ook Saterdag op die vliegtuig wees wat die Bokke na Brittanje neem waar hulle volgende naweek teen Wallis (in Cardiff) en op 25 Augustus teen die All Blacks (in Londen) in hul finale opwarmingswedstryde speel.

Hulle sal daarna ’n week lange oefenkamp op die eiland Korsika hê voordat hulle na Toulon vertrek, waar hulle sal voorberei vir hul openingswedstryd teen Skotland in Marseille op 10 September.

Waar daar Dinsdag vreugde was vir die WB-debutante – Kurt-Lee Arendse, Canan Moodie, André Esterhuizen, Hendrikse, Nche, Grant Williams, Marco van Staden, Deon Fourie en Marvin Orie – was daar ook ’n klompie ongelukkige spelers wat vanjaar vir die Bokke gespeel het, maar nie die paal gehaal het nie. Hulle is Thomas du Toit, Gerhard Steenekamp, Joseph Dweba, Evan Roos, Jean-Luc du Preez en Herschel Jantjies.

Dié ongelukkiges is ook op die lys van plaasvervangers indien daar beserings onder spelers in die WB-groep is.

Die Springbokke se 33 uitverkorenes is:

Voorspelers (19):

Stutte: Steven Kitshoff, Trevor Nyakane, Ox Nche, Frans Malherbe, Vincent Koch.

Hakers: Malcolm Marx, Bongi Mbonambi.

Slotte: Eben Etzebeth, RG Snyman, Marvin Orie, Jean Kleyn.

Flanke: Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit, Marco van Staden

Agtstemanne: Duane Vermeulen, Jasper Wiese.

Veelsydige voorspelers: Kwagga Smith (flank/agtsteman), Franco Mostert (flank/slot), Deon Fourie (flank/haker).

Agterspelers (14):

Skrumskakels: Faf de Klerk, Cobus Reinach, Grant Williams, Jaden Hendrikse.

Losskakel: Manie Libbok.

Senters: Damian de Allende, André Esterhuizen, Jesse Kriel

Vleuels: Cheslin Kolbe, Makazole Mapimpi, Canan Moodie, Kurt-Lee Arendse.

Heelagter: Willie le Roux.

Veelsydige agterspeler: Damian Willemse (heelagter/losskakel).

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer