Pine hoop Allister bly aan as hoofafrigter
Rugby
Die grootste voorreg en ’n onvergeetlike ervaring saam met ’n uitstekende groep mense.
Pine Pienaar, die voormalige Bulle-hulpbreier wat Namibië se verdedigingsafrigter in die onlangse Wêreldbeker-toernooi was, het sy tyd by dié span met hierdie woorde opgesom.
Namibië het in groep A die Everest-uitdaging gehad om die All Blacks aan te durf en ses dae later teen die gasheer, Frankryk, aan te tree.
Hoewel hulle met 3-71 teen die Kiwi’s verloor het en net-net ’n honderdtal teen die Hane afgeweer het (0-96), het die Namibiërs nooit gaan lê nie.
“Ek moet my hoed afhaal vir die spelers vir die wyse waarop hulle vir elke wedstryd en oefening met groot energie opgedaag het. Die span het vier wedstryde in die bestek van 18 dae gespeel en jy kon beslis nie hul toewyding en durf bevraagteken nie.
“Die gehalte van die mense in die groep was opvallend.
“Allister (Coetzee, die span se hoofbreier) is ’n ongelooflike mens, en die omgewing en spanharmonie wat hy geskep het, was merkwaardig.
“Om sy insette te kry en by hom te leer ná alles wat hy al in sy loopbaan deurgemaak het, was vir my persoonlik baie waardevol.
“So ook om saam met Matthew Proudfoot te werk. Hy was by die Bokke (as voorspeler-afrigter) toe hulle in 2019 die Wêreldbeker gewen het en daarna by Engeland.
“Dit was regtig ’n voorreg om te ervaar hoe almal in die afrigtingspan, en ek moet ook die name van Barend Pieterse en Chrysander Botha noem, mekaar aangevul het.”
Pienaar sê sy hart was seer vir die spelers nadat hulle hul laaste groepwedstryd met 26-36 teen Uruguay in Lyon verloor het.
Namibië was teen rustyd met 20-12 voor en op koers om sy eerste wedstryd in die geskiedenis van die toernooi te wen.
Die Suid-Amerikaners het egter 24 punte in die tweede helfte opgestapel, terwyl Namibië sy telling net met twee Tiaan Swanepoel-strafdoele kon aanvul.
“Ons dissipline in die laaste 20 minute het ons gekos. Dit was ook jammer dat verskeie van ons voorste en senior spelers weens beserings en die kaptein, Johan Deysel, se skorsing nie kon speel nie.”
Pienaar, wat sedertdien as ’n kommersiële bestuurder by die Afrikaanse Hoër Seunskool begin werk het, hoop Coetzee se kontrak word tot 2027 verleng.
“Allister het baie goeie idees vir die span om nie net bloot vir die Wêreldbeker-toernooi te kwalifiseer nie, maar om ’n groter krag in internasionale rugby te word.
“Dit gaan egter vir Namibië nodig wees om deurgaans in ’n goeie kompetisie te speel. Spanne van Uruguay, Argentinië, Chili en Brasilië speel in ’n sterk Suid-Amerikaanse reeks en so ook spanne van Portugal, Roemenië en Georgië in Europa.
“Daardie spanne maak in baie gevalle die kern van die nasionale span uit, wat ’n groot voordeel is.
“Dit sal in daardie opsig wonderlik wees as die Welwitschias weer in die Curriebeker-kompetisie kan meeding.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie