PNG en VSA in Eagles se visier

Die Namibiërs wil vanaf Saterdag hul posisie as opkomende krieketland verstewig.
Kwalifisering vir die 2023 Wêreldbeker is een van Namibië se groot doelwitte.
Tielman Van Lill
Die VSA en Papoea-Nieu-Guinee sal einde vandeesweek opnuut die Richelieu Eagles by Wanderers in die ICC se Wêreldbeker-Liga Twee-reeks aandurf.

Die Amerikaners is reeds in die land en het Saterdag by Wanderers in die nette geoefen, terwyl PNG nog vir hul verpligtinge van 19 tot 26 November by Wanderers moet opdaag.

Beide die besoekende spanne is Septembermaand in Port Moresby, PNG, genadeloos deur die Eagles in vier internasionale eendagwedstryde (ODI’s) afgestof.

Die Namibiërs het nog 14 wedstryde in die kompetisie van 36 botsings oor wat van 2019 tot 2023 strek. Die VSA sal sy laaste vier wedstryde in Namibië afhandel, terwyl PNG nog 12 kanse het.

Die VSA is tans derde met 29 punte ná 32 wedstryde (wen 13). In September in PNG kon hulle net een gelykopuitslag teen die gasheer bewerkstellig. Indien hulle beide uitstappies teen die Eagles verloor, is hul doppie beslis geklink.

Nepal is sesde met 17 punte (20 wedstryde, wen 8). PNG is laaste van die sewe spanne met 5 punte (wen 2) ná 24 kragmetings. Met ’n wenpersentasie van kwalik 8.3% is dit te betwyfel of dié eilandbewoners nog enige kalf uit die put kan red.

Die Eagles is wel vyfde ná 22 wedstryde (wen 13) met 26 punte, maar as die Namibiërs die stang vasbyt, behoort hulle die Emirate (vierde, 27 punte ná 26 wedstryde, 12 gewen) en selfs die VSA (derde) teen 26 November verby te steek.

Skotland (tweede, 40 ná 28 wedstryde, 19 gewen) sal die voorloper Oman (44 ná 36 wedstryde, 21 gewen) bêre en die eerste plek inneem.

Die Eagles se kanse is uitstekend om algeheel tweede te eindig. Al behaal hulle net 44 punte, sal hulle Oman met ’n beter nettolopietempo uitskakel. Net Skotland (0.530) het ’n beter lopietempo as die Eagles (0.443).

Die Eagles sal die volgende weke graag weer die oorhand wil bewerkstellig om hul meesterskap teen PNG en die VSA te bevestig deur agt kosbare ligapunte op te raap. Agt punte sal Namibië tot die derde plek en 34 punte bevorder. Die onvoorspelbare Emirate hou egter ’n gevaar vir die Eagles in.

Die VSA het vir hul laaste vier wedstryde vyf veranderings aan sy span aangebring. Ian Holland en Sushant Modani is nadergeroep nadat hulle die toernooi in PNG misgeloop het. Usman Rafiq kry vir die eerste keer sedert 2018 weer ’n kans, terwyl Saideep Ganesh en Shayan Jahangir die nuwe gesigte in die span is.

Kyle Phillip, Saiteja Mukkamalla, Jaskaran Malhotra, Rahul Jariwala en Jessy Singh het die trekpas gekry.

Die VSA-span: Monank Patel (kaptein), Aaron Jones (onderkaptein), Cameron Stevenson, Gajanand Singh, Ian Holland, Jasdeep Singh, Nisarg Patel, Noshtush Kenjige, Saideep Ganesh, Saurabh Netravalkar, Shayan Jahangir, Steven Taylor, Sushant Modani en Usman Rafiq.

’n Moontlike Eagles-span: Gerhard Erasmus (kaptein), JJ Smit (onderkaptein), Divan la Cock, Lo-han Louwrens, Nicol Loftie-Eaton, Michael van Lingen, Stephen Baard, Jan Frylinck, Ruben Trunpelmann, Bernard Scholtz, Picky Ya France, Mauritius Ngupita, Ben Shikongo, Tangeni Lungameni, Zane Green.

MIKPUNT GESTEL

Pierre de Bruyn, hoofafrigter van die Eagles, sê: “Die einde van dié kompetisie is vir ons in sig. Elke oorblywende wedstryd is van kardinale belang vir ons om die topdrie lande in te haal. Die topdrie lande het ’n heelwat makliker pad om vir die 2023 ODI Wêreldbeker in Indië te kwalifiseer.

“Ons moet die tuisveldvoordeel benut en VSA uitskakel. Alles tel in die Eagles se guns en ons moet dit inspan om ook PNG in beide ontmoetings te klop.

“Ons moet op die momentum voortbou wat ons September in PNG onder moeilike omstandighede bewerkstellig het.

“Die verwagting is groot met agt ODI’s wat ons in die volgende weke gaan speel. Dit is belangrik om twee wenpunte in elke botsing op te raap. As ons minstens ses uit agt kan wen, sal dit die Eagles op ’n fantastiese plek op die punteleer plaas.

“Die Eagles het goed ná die T20 Wêreldbeker in Australië herstel, maar die vier wedstryde in agt dae, gaan hard aan die spelers se lywe vat. Ons wil goeie krieket speel.”

Die Namibiërs speel op 19 en 23 November teen PNG, en op 20 en 26 November teen die VSA.

Onmiddellik ná dié mini-reeks volg die besoek deur Nepal en Skotland van 1 tot 8 Desember aan The Land of the Brave.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!