Portugal verras vriend en vyand
WB-rugby
Toe die Wêreldbeker-rugbytoernooi vroeg verlede maand in Frankryk afgeskop het, was daar maar min mense wat gedink het dat Portugal enigsins ’n impak sou maak.
Ná Sondag se geskiedkundige oorwinning van 24-23 oor Fidji en ’n gelykopuitslag vroeër in die toernooi teen Georgië, kyk mense egter nou met nuwe oë na die Portugese span.
Patrice Lagisquet, uittredende afrigter van Portugal, verdien baie krediet vir sy span se goeie vertonings hoewel hy vinnig is om die spelers die eer te gee.
“Dis ongelooflik. Hulle (die spelers) verras my ná vier jaar steeds met hul vindingrykheid en veggees,” sê hy.
“Dis ’n wonderlike, talentvolle groep spelers. Dit is so lekker om met ’n oorwinning agter ons naam huis toe te kan gaan.”
Portugal het ’n strafskop in die doodsnikke van hul kwalifiserende wedstryd teen Amerika nodig gehad om by die WB-toernooi uit te kom. Die skrumskakel Samuel Marques het daardie skop oorgesit en dit was ook hy wat sy span Sondag met ’n strafskop teen Fidji laat seëvier het.
Marques gaan nou, nes die staatmaker-haker Mike Tadjer, sy stewels wegpak.
“Ek kan natuurlik môre sterf, maar ek sal gelukkig wees, want om my speeldae op so ’n wyse te kon klaarmaak, was ongelooflik,” sê Tadjer.
“Sommige van ons spelers is amateurs en ander is beroepspelers in Frankryk. Ons het vier jaar lank hard gewerk vir hierdie oomblik en ek hoop die goeie werk word nou voortgesit.”
José Lima, kaptein wat die span teen Fidji aangevoer het, glo Portugal het die oorwinning verdien.
“Ek dink ons het vandag aan die wêreld gewys dat ons op hierdie vlak kan meeding,” het hy gesê.
Simon Raiwalui, Fidji se afrigter, sê op sy beurt sy span sal hergroepeer voor komende Sondag se kwarteindstryd teen Engeland in Marseille.
Fidji het net een punt nodig gehad uit sy wedstryd teen Portugal om vir die kwarteindronde te kwalifiseer, maar sou eerder momentum met ’n sege wou gekry het.
“Portugal het regtig goed gespeel en vasgebyt. Ons het gedink ons het die wedstryd in die sakkie gehad, maar hulle het teruggeveg,” sê Raiwalui.
Volgens die breier het sy spelers te veel foute gemaak en kon hulle nie behoorlik op dreef kom nie.
Waisea Nayacalevu, Fidji se kaptein, stem met die breier saam.
“Ons het nie ons bewegings behoorlik uitgevoer nie en ons het te veel balle laat val – en Portugal het ons foute uitgebuit,” sê hy.
“Maar ons het nou gekwalifiseer en ons moet nou op die volgende wedstryd begin fokus.”
– Reuters, Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie