Prince lei tuisspan teen Bulle

Rugby
'n Heuglike rugby-ervaring is môre in die vooruitsig wat reeds van vroeg af met 'n opwindende voorprogram begin smeul.
Andrew Poolman
Die hardwerkende losvoorspeler Prince !Gaoseb sal die plaaslike Windhoek Draught Welwitschias XV aanvoer in hul vriendskaplike rugbywedstryd teen die Vodacom Blou Bulle uitnodigingspan môre in die Hage Geingob-stadion (afskoptyd 16:00).

Die 23-jarige !Gaoseb het ná sy laaste skooljaar ’n junior kontrak by die unie van Pretoria gehad. Hy het hom sedertdien as een van Namibië se jong, maar geharde lede van die 2019 Wêreldbekerspan gevestig en het ook besig gebly in wedstryde vir spanne soos FNB Universiteit van Namibië en die Tel Aviv Heat in die Europese Superliga.

Die Pretorianers het gister in Windhoek aangekom vir die vriendskaplike botsing wat geoordeel aan die Blou Bulle se historiese ondersteuningsbasis ’n stewige en entoesiastiese tuisskare behoort te lok.

Kaartjies wat vooraf by Pick n Pay of aanlyn by webtickets.com.na beloop N$, of N$60 by die hek. Vir dié wat nie kan bywoon nie, is daar NTV se regstreekse beeldsendings op oneuptwo.com of die NMH-groep se Facebook-bladsye en YouTube-kanaal.

Die trots van beide unies is op die spel in die Officeconomix Goodwill Challenge – met die besoekers wat spelers soos hul 23-jarige kaptein en losvoorspeler Muller Uys, die haker Joe van Zyl, stut Jacques van Rooyen, losskakel Juan Mostert en heelagter Richard Kriel insluit wat reeds in die Verenigde Rugbykampioenskap blootgestel was.

Uit die Bulle se junior geledere is daar gekontrakteerde jongmanne soos skrumskakel Tiaan Fourie, slot Marco de Witt, stut Tielman Nieuwoudt en die losvoorspelers Neels Volschenk, Abulele Ndabambi en Eric Basson, onder andere, wat saam met die ondervinding van die meer gevestigde seniors blootgestel word.

Die Bulle-span word afgerig deur Hayden Groepes asook Pine Pienaar. Laasgenoemde is ook die verdedigingsafrigter van die Namibiese nasionale span.

Groepes sê: “Ons is bevoorreg en opgewonde oor die kort toer. Ons het baie hard gewerk in die opbou na hierdie wedstryd, want ons weet ons het ’n gedugte taak voor ons, teen van die beste spelers in Namibië.”

WELWITSCHIAS

Die nasionale afrigter Allister Coetzee se planne om die wedstryd môre by te woon, het na verneem word nie uitgewerk nie en die aanvalsafrigter Chrysander Botha is dus aan die stuur van die plaaslike aanslag.

Botha is vandeesweek op die oefenveld bygestaan deur FNB Wanderers se afrigters Rohan Kitshoff en Darryl de la Harpe (beide driemalige Wêreldbeker-spelers) – as deel van die gebruik wat deur Phil Davies ingestel is om plaaslike klubafrigters ook by die groter geleenthede blootstelling te gee.

Uit die spelersgroep wat vroeër aangekondig is, het intussen bekend geword dat die slot Tiaan de Klerk (Tuks en Blou Bulle o.20) intussen onttrek het, terwyl die FNB Rehoboth-flank Boris Majiedt op die oefenveld ’n kaakbesering opgedoen het wat hom waarskynlik sal uitskakel.

Wanderers se slot Erik Strauss het vroeg vandeesweek by ’n tugverhoor verskyn ná sy rooi kaart vir ’n hoogvat in ’n klubwedstryd teen Rehoboth op 14 Mei, maar hy is geen verdere straf opgelê nie en is vrygestel om môre van die reserwebank af opgestuur te word.

In die beginspan sal Jacques Theron (Wanderers) eerste as skrumskakel uitdraf, met Oela Blaauw (Trustco United) as reserwe.

Die nasionale afrigterspan van Coetzee, Pienaar, Botha en Barend Pieterse sal op grond van môre se vertoning die plaaslike spelers opweeg vir insluiting in die Namibië-oefengroep vir wie ’n oefenkamp van drie weke op Stellenbosch voorlê – met die aansluiting van die genooide spelelrs met beroepskontrakte oorsee.

Namibië berei voor om van 1 tot 10 Julie in Frankryk in Rugby Afrika se uitduntoernooi mee te ding waar sy kwalifiseerde vir die 2023 Wêreldbeker bepaal sal word.

’N SPESIALE RUGBY-ERVARING

Mnr. Paul Oosthuizen, Officeconomix se uitvoerende hoof wat die wedstryd geïnisieer en tesame met verskeie medeborge ook omvattende opknappingswerk aan die Hage Geingobstadion gedoen het, het sy waardering vir die steun van die sakegemeenskap uitgespreek. Hy het rugby-ondersteuners aangemoedig om indien moontlik nie die geleentheid mis te loop om die spesiale rugby-ervaring in die nasionale stadion te beleef nie.

Die Vodacom Bulle se spelersgroep van 28:

Joe van Zyl, Francois Kloppers, Raynard Roets, Marco de Witt, Stephan Smit, Jaco Labushcagne, Muller Uys (kaptein), Sidney Tobias, Schalk Erasmus, Cebo Dlamini, Tielman Nieuwoudt, Jacques van Rooyen, Mhleli Dlamini, Neels Volschenk, Abulele Ndabambi, Eric Basson, Bernard van der Linde, Juan Mostert, Quewin Nortje, FC du Plessis, Tharquin Manuel, Larry Nkonki, Richard Kriel, Corne Beets, Tiaan Fourie, Niel Beukes, Sonwabo Sokoyi, Manushe Dukuswa.

VOORPROGRAM

Die hekke open om 08:00 en die voorprogram is:

09:00–09:55 skolerugby (o.19): HTS II tn Jan Möhr I.

10:00–10:20 tjokkerrugby.

10:30–11:55 skolerugby (o.14): Windhoek Gimnasium tn WHS.

12:00–12:30 tjokkerrugby.

12:40–14:00 skolerugby (o.19): KMC/ONE Construction Windhoek Affies I tn Schoemans-groep Windhoek Gimnasium I.

14:10–15:00 vrouerugby, NRU 10-aan-’n-kant liga: Grootfontein tn Okahandja Huskies. Gevolg deur vertoning van die Bulls Babes.

16:00 hoofwedstryd: Windhoek Draught Welwitschias tn Vodacom Blou Bulle XV.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!