Proteas hier vir WB-toetslopie

Hokkie
Die buurlande se mans- en vrouespanne is beide Wêreldbeker-kwalifiseerders en in hewige mededinging gewikkel.
Tielman Van Lill
Suid-Afrika se nasionale senior binnenshuise hokkiespanne vir mans en vroue sal vir die volgende drie dae hul Namibiese eweknieë by die Skougronde in Windhoek in vyf toetse elk beproef.

Beide lande sal dié byeenkoms gebruik om vir die Binnenshuise Wêreldbeker (WB) voor te berei wat van 5 tot 11 Februarie volgende jaar in Pretoria voorlê.

Dié WB sou in Januarie vanjaar in Liège, België, plaasgevind het, maar die Internasionale Hokkiefederasie (FIH) het die kompetisie weens die risiko van Covid in Europa gekanselleer.

Die teleurstelling vir die spanne was in daardie stadium enorm, maar met die topkompetisie slegs ’n paar maande weg in Gauteng, is die Namibiërs vuur en vlam om weer hul selfde peil as vroeër in 2022 te behaal.

Veral die Protea-vroue het ’n punt om te bewys nadat Namibië hulle verlede jaar in die finaal van die Binnenshuise Afrika-beker met 2-0 winduit geslaan het om vir die WB te kwalifiseer.

Met dié sege teen die Proteas by die Thomas More College in KwaZulu-Natal op hul getuigskrif ingeëts, was die Namibiërs vir die tweede keer opeenvolgend as die Afrika-kampioenspan gekroon.

En dan is die Proteas natuurlik vyf posisies laer as die Namibiërs op die FIH-wêreldranglys.

Maggy Mengo, vrouekaptein van Namibië, het aan Republikein gesê: “Ons is reg en opgewonde om die Proteas die stryd aan te sê. Al is ons span nog nie tans 100 persent fiks nie, is ons geestelik reg en wil graag goeie hokkie vir ons ondersteuners speel.

“Ons opbou na die WB vorder goed en die spelers het die afgelope weke hard aan hul vernuf en tegniese vaardighede geskaaf. Ek nooi die publiek hartlik uit om die Namibiese spanne by die skougronde te gaan ondersteun. Sien julle almal daar!”

Erwin Handura, hoofafrigter van die vroue, sê: “Hierdie reeks sal wys hoe die spelers die afgelope twee maande op voorbereiding gereageer het. Dis ons eerste wedstryde in ’n baie lang tyd.

“Net een speler wat in Stellenbosch studeer, kan nie by ons aansluit nie, maar Danja Meyer is hier en is ons is byna op volle sterkte. Die gemiddelde ouderdom van die span is nou 22.8 jaar. Toe ons in die vorige WB deelgeneem het, was Namibië die jongste span (21.3 jaar), maar nou is die spelers bietjie ouer en wyser.

“Ons span is ’n goeie mengesel van ervaring en jeug met twee o.17-spelers wat nog nie vir Namibië gespeel het nie. Vyf spelers was by die vorige WB. Tien was steeds oor van die span wat die Proteas verlede jaar in die finaal geklop het.”

MANS

DJ Strauss, die manspan se doelwagter en kaptein, sê: “Ons het in Desember 2021 teen die Proteas in Suid-Afrika gespeel en goed gevaar. Hopelik kan ons hulle dié keer onderkry en terselfdertyd vir die WB slyp.

“Dis opwindend om die Proteas vir ’n slag hier te ontvang, want ons reis maar altyd na hulle toe. Die laaste keer dat hulle hier was, was in 2017. Ek het vandeesweek met hul kaptein gesels en hulle is opgewonde om hier te kom speel.

“Ons is nie op volle sterkte nie, maar die voorbereiding het goed gevorder en ons sal goeie rekenskap van onsself gee.”

Trevor Cormack, hoofafrigter, sê: “Ongelukkig is ons nog nie waar ek die span wil hê nie. Ná die 2021 Desember-toetsreeks was die spelers absoluut puik, maar met die kansellering van die WB in België moes Namibië noodgedwonge ’n tree terug gee.

“Met sewe spelers woonagtig buite Windhoek, is dit moeilik om volspoed te oefen. Die manne het vandeesweek aangesluit en ons kon skouer aan die wiel sit.

“Ongeag die uitslag, is hierdie vyf toetse binne drie dae die ideale geleentheid vir Namibië om weer as ’n span vir die WB te oefen.”

Suid-Afrika se mans is tans elfde op die FIH-wêreldranglys, met Namibië 16de.

Die Afrika-vrouekampioen, Namibië, spog op nege, terwyl die Proteas (14de) ’n punt het om te bewys.

• Die toetsreeks se program by die Skougronde:

Vrydag en Saterdag (10:30 en 18:30): Namibië vroue teen RSA.

Vrydag en Saterdag (12:00 en 20:00): Namibië mans teen RSA.

Sondag 09:00, Namibië vroue teen RSA. Namibië mans teen RSA 10:45. Die prysuitdeling volg om 11:30.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!