Proteas red reeks ná merkwaardige ommeswaai

Krieket
Tinus van Staden
Tweede toets, Christchurch, dag 5

Suid-Afrika (364 en 354/9 verklaar) klop Nieu-Seeland (293 en 227) met 198 lopies.

Die Proteas het Dinsdag een van die mees merkwaardige ommeswaaie in die geskiedenis van toetskrieket volbring.

Suid-Afrika het die Kiwi’s se oorblywende ses paaltjies platgetrek om die reeks gelykop te laat eindig en sodoende ’n trotse rekord te verdedig – hulle is steeds onoorwonne in toetsreekse teen die Swartpette.

Devon Conway (92) en Tom Blundell (44) het Suid-Afrika vir bykans twee ure gefrustreer met ’n vennootskap van 85, maar ’n oorwinning was altyd buite Nieu-Seeland se bereik nadat die Proteas ’n reuse-teiken van 426 aan hulle gestel het.

Lutho Sipamla (1/29) het dié vennootskap verbreek met ’n skitterende inswaaiende streepbal wat Conway been voor paaltjie betrap het, en die res van die paaltjies het daarna met reëlmaat geval. Marco Jansen (3/63), Kagiso Rabada (3/46) en Keshav Maharaj (3/75) het die ander paaltjies platgetrek.

Baie min mense sou die Proteas ’n kans gegee het om terug te slaan nadat hulle die eerste toets met ’n beurt en 276 lopies verloor het. Die geskiedenis wys waarom.

Daar was al 53 toetse waarin ’n span met ’n beurt en meer as 200 lopies verloor het, sê die krieketstatistikus Andrew Samson. Van daardie verloorspanne het tien hul volgende toets gewen, waarvan net vier in dieselfde reeks as die voorafgaande loesing was.

In 1998 het Australië ’n toets teen Indië in Kalkutta met ’n beurt en 219 lopies verloor, voordat hulle die volgende toets in Bangalore met agt paaltjies gewen het.

Tien jaar later het Sri Lanka Indië in Colombo met ’n beurt en 239 lopies geklop, voordat die Indiërs die volgende toets in Galle met 170 lopies gewen het.

In 2017 het die Wes-Indiese Eilande met ’n beurt en 209 lopies teen Engeland in Birmingham verloor, en teruggeslaan om die volgende toets in Leeds met vyf paaltjies te wen. In daardie toets het die Windies ’n teiken van 322 in die vierde beurt gejaag, wat daardie sege baie indrukwekkend maak.

Maar wat die getal lopies betref, is die Proteas se ommekeer in dié reeks die grootste in die geskiedenis van krieket: ’n Nederlaag met ’n beurt en 276 lopies een week, gevolg deur ’n sege met 198 lopies.

Hoe het hulle dit reggekry?

Eerstens het Dean Elgar, die kaptein, Mark Boucher, die afrigter, en die keurders twee baie dapper besluite geneem, wat albei as meesterskuiwe geëindig het.

Die eerste besluit was om die draaier Maharaj in te span op ’n veld waar draaiers histories bykans geen rol speel nie. Maharaj het vier belangrike paaltjies in die toets geneem en is nou sommer ook die gesamentlike voorste paaltjievraat onder draaiers op die Hagley-ovaal (saam met Shakib Al Hasan).

Die tweede groot besluit was om eerste te kolf – iets wat geen span tot dusver gedoen het nadat hy die loot op die Hagley-ovaal gewen het nie. Geen toerspan het al ooit op dié veld gewen as hy eerste kolf nie, maar die Proteas se eerstebeurttelling van 364 het hulle in beheer geplaas.

Dit was dapper besluite, wat met groot verbasing begroet is, maar dit was die regte besluite.

Die kolwers het ook baie meer gedissiplineerd gekolf as in die eerste toets en die bal goed met rus gelaat buite die wegpen. Die honderdtalle deur twee nuwelinge, Sarel Erwee en Kyle Verreynne, het ’n reuseverskil gemaak en die Proteas het vir die eerste keer sedert die laaste toets in die tuisreeks teen die Aussies in 2018 twee keer meer as 300 lopies in ’n toets aangeteken.

Die kolfwerk was die groot verskil, maar die boulers was ook op hul stukke. Rabada se vyftal in die eerste beurt was deurslaggewend, terwyl Jansen verder as toetsspeler ontwikkel het en Maharaj ’n groot bydrae gelewer het.

Gegewe dat die Proteas boonop sonder eerstekeusespelers soos Keegan Petersen, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi moes klaarkom, al die drama rondom Boucher se tugverhoor en die kwarantyntydperk wat hulle moes deurbring, is dit ’n oorwinning wat hulle vir lank sal onthou.

Dis een wat op durf, veggees, deursettingsvermoë én vaardigheid gebou is. Dit alles blyk kernaspekte van Elgar se kapteinskap te wees.

Onder sy leierskap is Suid-Afrika nou onoorwonne in drie uit drie toetsreekse. Twee daarvan weg van die huis, en een daarvan teen die wêreld se beste toetsspan, Indië.

Vir ’n span wat in die laaste vyf jaar van hul beste spelers tot nog toe verloor het, soos AB de Villiers, Dale Steyn, Morné Morkel, Hashim Amla, Vernon Philander en Faf du Plessis; ’n span wat konstant onder beleg is van hul eie raad en van hul verdeelde ondersteuners, is dit uitsonderlik.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!