'Prysloos Platteland’

Aldo Horn
Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer Namibiese private skole bymekaarkom vir groot sportpret en allerlei aktiwiteite by die Namibiese Privaatskole-organisasie (Napso) se privaatskolenaweek.

Vanjaar se sportnaweek vind by die Privaatskool Elnatan op Stampriet plaas en die aksie het reeds Woensdag afgeskop en duur tot môre.

Meer as 3 000 besoekers word oor die vier dae by die

geleentheid verwag.

Die eerste dag is gekenmerk deur individuele sportkodes, soos skaak, boogskiet, jukskei en tennis waar leerlinge reeds van vroegoggend hul talente ten toon gestel het.

Dié sportkodes raak elke jaar al hoe gewilder en die boogskutter AJ van Niekerk van die Privaatskool Moria glo dit is omdat die sportkodes ’n “eie sport is – jy kan net met jouself baklei”.

Verder was die dag propvol spansporte soos rugby, netbal en hokkie; nie in die vorm van wedstryde tussen die skole nie, maar eerder met die oog op die Napso-proewe.

Spelers word vir die Napso-spanne gekies om later in die jaar in Suid-Afrika te gaan deelneem. Dit sluit o.13- en o.19-netbalspanne in, asook o.13- en o.19-rugbyspanne en ’n o.19-hokkiespan. Die spanne sal môre om 12:00 aangekondig word.

Sowat 700 besoekers het Woensdagaand in Elnatan se skoolsaal bymekaargekom om die Mnr. en Mej. Privaatskole-kompetisie eerstehands te ervaar.

Tien skole het hul wenners gestuur om hul skool op die verhoog te verteenwoordig in kategorieë wat temadrag, ’n danskompetisie en formele drag ingesluit het.

Elma Kriel van Tsumeb Gimnasium is as Mej. Privaatskole gekroon en haar prinsesse is Joy Lewis van die Privaatskool Walvisbaai en Melanie van der Merwe van Gobabis Gymnasium.

Henré Opperman van Gobabis Gymnasium is as Mnr. Privaatskool aangewys, Russel Bartlett van Tsumeb Gimnasium as die eerste prins en Christo Smith van die Privaatskool Walvisbaai as tweede prins.

Die openingseremonie het Donderdagmiddag plaasgevind waartydens die skole se leerlinge die geleentheid gehad het om in ’n optog in hul skooldrag deel te neem en hul skoolliedere met trots te sing.

Nadat Wouter Niehaus, die uitvoerende bestuurder van Napso, sy toespraak gelewer het en al die amptelike take afgehandel is, het verrigtinge op ’n prettige noot afgeskop met die jaarlikse kaskarresies. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer