Puik finaal kan premierliga afrond
Klubrugby
Eindstryde tussen Wanderers en Unam sorg altyd vir 'n kragmeting met die intensiteit van toetsrugby.
’n Dramatiese en spannende eindstryd is in die vooruitsig voordat die Namibië Rugbyunie (NRU) se premierliga-kampioenklub vir 2022 môre by die Hage Geingob-stadion bekroon word.
FNB Wanderers en FNB Unam het eerste en derde op die puntelys geëindig in ’n uiters mededingende seisoen, waarin beide spanne vreemd genoeg twéé keer geklop is deur die kusspan FNB Kudus wat lank die voorloper was.
Unam het egter twee naweke gelede in die doodsnikke van sy halfeindstryd op Walvisbaai met 23-18 deurgeskraap om die bloues die finaal te ontsê waarvoor hul ondersteuners so gesmag het. Op dieselfde dag het Wanderers ook FNB Rehoboth se gedugte uitdaging net-net met 31-29 gestuit.
Wanderers se hoofafrigter, Rohan Kitshoff, sê: “Ons is net dankbaar dat ons ’n volle, voltooide seisoen met twee rondes wedstryde kon afhandel – anders as 2021 wat net ’n enkele ronde was, boonop onderbreek deur ’n Covid-inperking en uiteindelik bederf deur administratiewe dispute.
“Vir Namibiese rugby was dit belangrik om die geloofwaardigheid te herstel ná die skade wat verlede seisoen aangerig is, wat ook borge huiwerig gemaak het om voort te gaan – maar ons het vanjaar weer soveel positiewe aanwysers gesien.”
Wanderers (laas kampioene in 2018, in die finaal teen United) en Unam (laas kampioene in 2017, klop Wanderers) het ook verlede seisoen hul halfeindstryde gewen, maar die seisoen is ontspoor deur beskuldigings teen Wandererss dat hulle nie-geskikte spelers gebruik het.
Alhoewel Unam toe vir FNB Western Suburbs in die 2021 “finaal” geklop het, is albei finaliste ook daaraan skuldig bevind dat hulle spelers sonder geldige klaringsdokumente van hul vorige klubs gebruik het en die seisoen is daarna nietig verklaar.
Hierdie seisoen het weereens gesorg vir die hewige mededinging tussen Wanderers en Unam waaraan ondersteuners gewoond geraak het. Unam het in Junie sy tuiswedstryd naelskraaps met 37-31 gewen, voordat Wanderers sake met 37-32 in Pionierspark gelykop gemaak het.
Die Wanderers-vleuel Nandivatu Karuuombe en die senter Louis Meyer, wat albei boere is, het hul voorneme verklaar om hul rugbystewels op te hang ná die naweek se eindstryd. Karuuombe, wat boonop op trou staan, is ook ’n voormalige nasionale sewesspankaptein, wat hierdie seisoen elf drieë in die premierliga gedruk het.
“Beide hierdie spelers is ware Wanderers-klubmanne wat baie kilometers opgeoffer en grootliks bygedra het tot die posisie waar ons nou is,” sê Kitshoff.
David Philander, afrigter van Unam, sê “Die gees is goed in die kamp en ons sien uit vir Saterdag. Wanderers verdien ook om hier te wees, so hulle sal ook hard baklei vir die wen. Ons weet dit gaan hard wees, maar ons is hier om ’n goeie dag van rugby af te rond.”
Wanderers en Unam is beide gelaai met individuele wedstrydwenners en ’n stryd met die intensiteit van ’n toets kan met sekerheid verwag word.
FNB WANDERERS: 15 Denzo Bruwer, 14 Nandi Karuuombe, 13 Louis Meyer, 12 Christo van der Merwe (k), 11 Mico Maartens, 10 André van der Berg, 9 Jacques Theron, 8 Thomasau Forbes, 7 Driaan Vorster, 6 Darius von Solms, 5 Eriks Strauss, 4 Le Beau du Preez, 3 Chris Swanepoel, 2 Obert Nortje, 1 Herschell van Wyk.
Reserwes: Stefan Hattingh, Iyambo Tshuuya, Nian Berg, Brendon Nortje, Anton Steenkamp, Bernie Hugo, Ryan Coetzee.
Unam sou eers gisteraand op die oefenveld sy wedstrydkombinasie afgehandel het, met die verwagting dat net moontlike lastige beserings hulle sou laat torring aan die wenspan van twee naweke gelede.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie