Puik sege vir Meyer se Jewels

Netbal
Andrew Poolman
Julene Meyer se terugkeer as hoofafrigter van Namibië se Desert Jewels-netbalspan het onmiddellik ’n hoogtepunt opgelewer met ’n puik oorwinning teen Zimbabwe eergisteraand.

Namibië (22ste op die wêreldranglys) het die 13de gekeurde Zimbabwe met ’n oortuigende nege punte verslaan (45-36) op dag een van die Afrika-kampioenskap in Gaborone.

Meyer, ’n voormalige Protea-afrigter wie se vorige termyn ingesluit het dat Namibië ’n sesnasietoernooi in Maleisië in 2019 gewen het, het nóg ’n invloedryke figuur by gekry met die hoogs ervare Dorette Badenhorst as ’n spesialisafrigter.

Badenhorst was die afrigter van Suid-Afrika se Proteas totdat sy verlede jaar ná meer as 17 jaar op die topvlakke van afrigting in die buurland op omstrede wyse afgedank is.

Met die oorwinning teen Zimbabwe is die hoogste gerekende span in die toernooi geskok. Die Namibiërs speel om 13:00 vandag teen Zambië (15de) en die daaropvolgende dae teen Kenia (15:00 Vrydag), Botswana (19:00 Saterdag) en Eswatini (19:00 Sondag).

Zimbabwe was ná die eerste kwart met 10-6 voor, voordat Zanté Farmer in die plek van Anna Shipanga opgestuur is. Die halftydfluitjie het op 20-20 geblaas en die momentum was aan Namibië se kant toe hulle die derde kwart met die voorsprong 32-28 afgesluit het.

Namibië se beginspan was Anna Kaspar (hulpdoel en kaptein), Anna Shipanga (aanvallende vleuel), Cornelia Mupenda (verdediger), Loide Hanyanya (hulpverdediger), Louise Kausehue (hoofdoel), Monica Gomases (senter) en Venjekerera Maharero (verdedigende vleuel)

Op die bank was Desdamona Tjirera, Sunshine Murangi, Tillie Kamati, Uendjisuvera Kangumine en Ehrenfriede Uahongora die ongebruikte plaasvervangers.

Die res van Meyer se bestuurspan is Rudolf Namaseb (kondisioneringsafrigter), Maria Mulunga (spandokter) en Malan Elago (spanbestuurder).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!