Rainhold druk tempo hoog in stadsmarathon

Padwedlope
Honderde atlete het Sondagoggend die strate aangedurf oor die afstande van 42 km, 21 km, 10 km of 5 km.
Andrew Poolman
Die 31-jarige langasem Tomas Rainhold het gewys hoekom hy in die afgelope maande die land se enigste manlike verteenwoordiger by die Tokio Olimpiese Spele en die Statebondspele was, toe hy die marathon-afstand van die Windhoek City Run gewen het.

“Van die wegspring tot die einde het ek die wedloop gelees en geweet die tempo wat my uitdagers gehandhaaf het, was nie voldoende nie,” het Rainhold gister gesê oor sy oorwinning van die gewilde padwedloop deur die strate van die hoofstad.

Die drawwersklub Windhoek Harriers reël die byeenkoms sedert 2012, met NamibRe die afgelope paar jaar as die hoofborg.

Rainhold het ’n tempo van 3 minute 29 sekondes per kilometer gehandhaaf op pad na sy oorwinning met meer as ses minute vir die afstand van 42.1 kilometer.

Twee van sy klubmaats van Namibië Korrektiewe Dienste, Martin Ntinda en Simon Nakale, was onderskeidelik tweede en derde.

“Die wedloop was baie moeilik, want Windhoek het te veel bulte. Ek voel in my skik daarmee dat ek die Windhoek City Run vir die tweede keer gewen het,” sê Rainhold.

Hy sê een pluimpie vir die byeenkoms was dat die deelnemers veilig kon voel omdat nie te veel padverkeer met hul deelname ingemeng het nie. Die hardlopers in die marathon-afstand het Sondag om 05:30 by die DTS-sportklub in Olympia weggespring op ’n roete wat ook deur Academie en Pionierspark gestrek het.

Volgens Rainhold bly hy gefokus op sy volgende deelname aan die Navachab halfmarathon komende naweek. “Ek weet ek sal gereed wees om my beste te gaan gee.”

• Die vrouewenner Anna Amutoko (NDF) was ook in ’n wedloop op haar eie – met ’n wentyd van 3 ure 33 minute wat as redelik indrukwekkend bestempel word vir ’n atleet wat net twee weke tevore die Comrades ultra-marathon voltooi het (90 km in 9:46:07).

Op die lys van uitblinkers in die korter afstande verskyn onder meer die naam van Risa Dreyer (nou Burger), nog ’n voormalige uitblinker in die Comrades wat ook as ’n driekampatleet en fietsryer hoogtepunte bereik het. Sy is op die terugkeerpad nadat sy onlangs aan haar eersteling geboorte geskenk het.

Haar tyd vir die 21 km is boonop net een minuut stadiger as verlede jaar, terwyl sy die vorige jaar die volle marathon in drie ure 03 minute voltooi het.

Divan du Plooy, die land se 20-jarige verteenwoordiger by die Statebondspele afgelope Julie in Birmingham, was Sondag in die topvyf mans in die 10 km-wedloop. Drikus Coetzee, nasionale fietskampioen triathlonatleet, was algeheel eerste in die 5 km (27 minute 06 sekondes).

HONDERDE VOLTOOIERS

Mnr. Charles Gordon van Windhoek Harriers sê: “Dit was verblydend om weer deelname van gerekende spanne soos NDF en die Korrektiewe Dienste te sien wat mekaar hard kan druk.

“As organiseerders is ons baie tevrede met die opkoms. ’n Volle marathon in Windhoek is baie uitdagend weens die hoogte bo seespieël en ook die bultagtigheid – hoewel ons baie goeie terugvoering kry nadat ons waarskynlik die platste moontlike roete vir die marathon uitgemeet het.”

Gordon sê nadat 312 deelnemers vir die verskillende afstande en kategorieë ingeskryf het, het meer as 200 uiteindelik hul onderskeie items suksesvol voltooi. Elektroniese tydhouding is vir alle deelnemers gebruik.

Prysgeld van altesame N$50 000 is agterna uitbetaal, wat volgens Gordon baie goed is vir ’n byeenkoms wat met ’n minimale inskrywingskoste vir soveel mense as moontlik toeganklik gehou word.

Die voorste uitslae (ouderdom tussen hakies):

42 KM ALGEHELE VOORSTE PLEKKE

1 Tomas Rainhold (31, ope) 2:27:32

2 Martin Ntinda (39, subveteraan) 2:33:46

3 Simon Nakale (27, ope) 2:39:49

4 Eliander Nepembe (30, ope) 2:45:31

5 Kristof Ndunga (57, meester) 2:50:26

6 Wilbard Ithikwa (44, veteraan) 3:15:42

7 Lemegius Jeremia (35, subveteraan) 3:19:54

8 Chidi Alex Kanu (53, meester) 3:29:25

9 Ephraim Duve (48, veteraan) 3:30:46

10 Anna Amutoko (40, veteraan vroue) 3:33:27

12 Lynn Hartung (44, veteraan vroue) 04:08:16

21 KM HARDLOOP

1 Paulus Iiyambo (40, veteraan) 1:13:46

2 Simon Shipingana (44, veteraan) 1:13:55

3 Jason Johannes (40, veteraan) 1:18:32

4 Johannes Naitembu (42, veteraan) 1:21:15

5 Tangeni Sakaria (27, ope) 1:22:36

6 Sakaria Shifotoka (40, veteraan) 1:26:03

7 Braam Visser (20, ope) 1:29:08

8 Jacob Amadhila (39, subveteraan) 1:30:19

9 Ottilie Aimwata (43, vroue veteraan) 1:30:59

10 Stephanus Kaudinge (29, ope) 1:32:02

15 Risa Dreyer (33, vroue ope) 1:34:35

19 Mwetuvaya Nghiiki (34, vroue ope) 1:40:07

20 Lindie Adriaanse (25, vroue ope) 1:40:40

21 KM STAP

1 Oscar Komeya (47) veteraan) 2:10:32

2 Salomo David (48, veteraan) 2:11:20

3 Uaoropara Tjetara (31, ope) 2:12:27

6 Sarti Eshitile (33, vroue ope) 2:33:11

7 Susan Gordon (68, vroue grootmeester) 2:51:00

8 Rakela Akukothela (45, vroue veteraan) 2:59:13

10 KM HARDLOOP

1 Simon Paulus (24, ope) 0:31:58

2 Mathias Simon (21, ope) 0:32:11

3 Gerson Koper (25, ope) 0:32:40

4 Gabriel Djuulume (28, ope) 0:32:53

5 Divan du Plooy (20, ope) 0:32:58

12 Victoria Kaliteka (25, vroue ope) 0:39:05

16 Louise van Graan (39, subveteraan vroue) 0:46:32

22 Winnie Mukupuki (35, subveteraan vroue) 0:48:48

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer