Rassie hou sy lyf Engeland-keurder

WB-rugby
Hendrik Cronjé in Parys
Rassie Erasmus het sy lyf Engelse keurder gehou voor Saterdag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Engeland hier in die Stade de France.

’n Engelse joernalis het die Springbokke se direkteur van rugby op Dinsdagaand se nuuskonferensie net buite die Franse hoofstad gevra hoe hy dink Engeland se span gaan lyk.

Waar die meeste afrigters die vraag sou systap, het Suid-Afrika se direkteur van rugby soos volg geantwoord: “Ons raai uiteraard, maar ons dink die Engelse span is Marcus Smith of Freddie Steward, Jonny May, Joe Marchant, Manu Tuilagi, Elliot Daly, Owen Farrell, Alex Mitchell, Ben Earl, Tom Curry, Courtney Lawes, Ollie Chessum, Maro Itoje, Kyle Sinckler, Jamie George en Ellis Genge.

“Dan as plaasvervangers Theo Dan, Joe Marler, Dan Cole, George Martin, Billy Vunipola, Ben Youngs of Danny Care, George Ford en Ollie Lawrence.

“Dis wie ons dink. Miskien is ons totaal verkeerd.”

Erasmus het ook somme gemaak oor die Bokke en moontlike Engelse span vir die halfeind.

“Ons spelers het elk gemiddeld so 200 minute gespeel in die toernooi. Hulle s’n elk 260,” sê hy.

“Ons gemiddelde getal toetse per speler sal so 54 wees en hulle s’n 59.

Engeland is nog onoorwonne in vanjaar se toernooi.

“Ek dink die gemiddelde ouderdom per speler van ons span is 30 en Engeland s’n 29.

“Engeland is nog onoorwonne in vanjaar se toernooi.”

“’n Mens kan sien hulle glo in wat Steve Borthwick doen sedert hy aangestel is en dit begin vrugte afwerp.”

Vir Erasmus is ’n goeie afrigter iemand wat nie die steun in die kleedkamer verloor nie, al gaan die span soms deur moeilike tye.

“Steve het nie die steun verloor nie. Hy praat eerlik in nuuskonferensies,” sê die Bokke se direkteur van rugby.

“Jy kan sien sy spelers speel vir hom, soos Jacques Nienaber s’n. Engeland sal ’n desperate span wees. Ek dink dit gaan twee spanne wees wat vir hul afrigters speel.”

Erasmus sê Engeland is soos ’n tamaai slaggat in die Bokke se pad voor die eindstryd.

Toe hy uitgevra is om daarop uit te wei, sê hy dit is eerstens interessant om oor hul span te raai of hulle byvoorbeeld Smith of Steward op heelagter sal kies.

“Ons weet Marcus het hierdie ongelooflike X-faktor, terwyl Freddie bestendig is,” sê hy.

“Sal Farrell binnesenter speel en Tuilagi op buitesenter met Ford op losskakel wat als sal skepskop?

“Lawes is ’n veelsydige speler wat flank en slot kan speel. Hy is soos ’n rots op flank vir hulle. Hy en die ander losvoorspelers wys soveel energie op die veld.

“Engeland het soveel ervare spelers soos Kyle en Jamie.

“Ek dink omdat hulle in 2019 se Wêreldbeker-eindstryd teen ons gespeel het en einde verlede jaar, sal hulle ’n appeltjie met ons te skil hê.

“Hulle sal uiters fisiek wees. Hulle sal ratte verwissel wat hul vaste fasette betref. Ek dink dit gaan moeilik wees om iemand soos Tuilagi te stuit.

“Mitchell kan die toets ook aan die brand speel met sy vermoë om bresse te slaan. Hulle hou oral bedreigings in.

“Ek dink dinge begin uitwerk vir Steve.”

Erasmus het ook gesê elke ding wat hulle beplan, werk nie altyd so goed uit in wedstryde nie. ’n Voorbeeld hiervan was die besluit om ’n skrum te verkies ná Damian Willemse se skoonvang in sy kwartgebied. Die Bokke het wel ’n skrum-strafskop afgedwing, maar kon toe nie die bal uitskop nie.

“Soms dink jy dit is ’n goeie plan, maar dan misluk hy. Al die planne soos die afstorm (van Cheslin Kolbe) kom nie van my af nie, maar ook van iemand soos Jacques Nienaber. Almal lewer ’n bydrae. Die spelers ook.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!