Regstreekse uitklopstryd teen Zim

Krieket
Tielman Van Lill
Indien hulle tydens die Supersesfase steeds teen die grotes by die ICC Onder 19 Wêreldbeker wil meeding, sal die Walvis Bay Salt Eagles môre in Kimberley hul derde en laaste Groep C-wedstryd teen Zimbabwe moet wen.

Tot voor Zimbabwe se uitstappie gister teen Australië was Zimbabwe en Namibië onderskeidelik derde en vierde in Groep C geplaas. Namibië se netto lopietempo van -1.795 het min van Zimbabwe se -1.773 verskil.

Die prentjie het egter verswak vir Zimbabwe (71 almal uit in 23.2 boulbeurte) ná hul 225-lopieloesing teen Australië (296/7 in 50). Hoewel Zimbabwe se netto lopietempo nou op -3.667 staan, sal ’n oorwinning vir enige van die twee wenlose spanne die deur na die Superses oopmaak.

Namibië het sy wedstryde teen Australië (Maandag) en Sri Lanka (Woensdag) onderskeidelik met 4 paaltjies en 77 lopies verloor. Hoewel die Eagles-boulers in beide wedstryde uitmuntend geboul het, het die topordekolwers nog geensins oortuig nie. Oor die algemeen het min van die kolwers hul voetwerk doeltreffend gebruik.

Bygesê, die Aussie- en Sri Lanka-spelers beskik oor heelwat meer blootstelling en ervaring as die junior Eagles.

Namibië het sedert 2002 vyf eendagwedstryde teen Zimbabwe by die o.19-WB gespeel en kon nog nie ’n enkele sege beklink nie.

By die huidige Wêreldbeker het Zimbabwe sy eerste groepwedstryd teen Sri Lanka met 39 lopies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode verloor, voor gister se drag slae teen Australië.

Zimbabwe het Sri Lanka vir 204 in 48.3 boulbeurte uitgeboul. Weens ’n reëonderbreking is Zimbabwe se teiken tot 129 in 22 aangepas, maar hulle is vir 89 in 21.1 uitgeknikker.

Nes Namibië lyk Zimbabwe se kolfspens aan die dun kant, maar in die boulafdeling veel meer kompeterend.

Kohl Eksteen (3/40 in 10), Matthew Schonken (2/36 in 6), Newman Nyamhuri (2/50 in 9.3), Anesu Kamuriwo (1/12 in 7), Panashe Taruvinga (1/9 in 4), Ryan Simbi (1/40 in 10) was billik teen Sri Lanka op die aanval.

Kamuriwo het ekonomies teen 1.71 per boulbeurt geboul, gevolg deur Taruvinga (2.25) en Eksteen (4).

Anders as Namibië, het Zimbabwe egter teen Australië swaargekry. Brandon Sunguro (2/48 in 10), Simbi (2/53 in 10) en Schonken (2/65 in 10) was suksesvol. Kamuriwo (0/15 in 7) was vrek suinig met 2.14 per boulbeurt.

LAASTE ONTMOETING

Namibië se laaste o.19 WB-wedstryd teen Zimbabwe was in Januarie 2018 in Nieu-Seeland.

Lo-han Louwrens, Nicol Loftie-Eaton, Mauritius Ngupita en Ben Shikongo was deel van die Namibiese span wat vir 113 uitgeboul is en met sewe paaltjies verloor het. Dié viertal en Shaun Fouché is die enigstes wat deesdae senior Richelieu Eagles is.

Wessly Madhevere wat nou vir die Zimbabwe Chevrons speel, het daardie dag 2 paaltjies vir 11 lopies in 6 boulbeurte geneem en 47 lopies van 38 balle vir sy span se toptelling getimmer.

Verreweg Namibië se suksesvolste WB was in 2016 in Bangladesj, toe hulle tot die kwarteindronde deurgedring en sewende geëindig het met teen Suid-Afrika, Skotland en Nepal.

Van 2016 se span is Zane Green (destyds kaptein), Louwrens, Michael van Lingen en Niko Davin steeds op topvlak aktief as senior Eagles.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!