Skaak raak meer gewild onder Rehoboth se jong mense.
Foto Bank Windhoek
Skaak raak meer gewild onder Rehoboth se jong mense. Foto Bank Windhoek

Rehobothers wys hul staal

Skaakspelers spook sake uit
Geleenthede wat op Fide se ranglys is, bied spelers die kans om by internasionale skaakgemeenskappe aan te sluit en met professionele skaakspelers mee te ding.
Die Rehoboth Ope Skaakkampioenskap het onlangs sy derde kompetisie vir vanjaar by die Hoërskool Dr. Lemmer gehou, waar 44 deelnemers sake behoorlik uitgespook het.

Ervare spelers en belowende nuwelinge het hul strategiese vernuf ingespan om mekaar op die skaakbord uit te oorlê.

Bank Windhoek het die kompetisie geborg en die kampioenskap is op die ranglys van die Internasionale Skaakfederasie (Fide).

Dit was die eerste keer dat Rehoboth gasheer vir die kompetisie gespeel het.

FIDE-RANGLYS

Geleenthede wat op Fide se ranglys is, bied spelers die kans om by internasionale skaakgemeenskappe aan te sluit en met professionele skaakspelers mee te ding.

Die president van die Namibiese Skaakfederasie (NCF), Goodwill Khoa, sê hy is tevrede met die vordering wat skaak in Namibië maak en dat die NCF meer deelnemers lok, veral jongmense, aangesien Fide die kompetisie onderskraag.

Khoa sê ’n meer professionele benadering verander die spel en lok die jeug.

“Jongmense raak meer bewus van hul lewenskeuses. Ons merk op dat skaak ’n gewilde sportsoort onder die jeug word,” sê hy.

Die deelnemers het ook Fide-identiteitskaarte ontvang, wat hul kanse verbeter om aan internasionale kompetisies deel te neem en dit makliker maak om hul vordering te monitor.

’n Voorbeeld is Reinold Neib wat nou sy internasionale skaakloopbaan kan afskop.

WENNERS

Lazarus Shatimpambam het in die ope-afdeling met die louere weggestap, met Israel Shilongo in die tweede plek en William Husselman derde.

Anna Moongo het die vroue-afdeling gewen, met Naletti Nasilele en Tracey-Lee Beukes onderskeidelik in die tweede en derde plek.

Onder die jonger span het Junior Heita seëgevier, gevolg deur Muundjua Mbahimwa in die tweede plek en Tarius Neib wat derde geëindig het.

Onder die jongste deelnemers het John van Zyl eerste plek behaal, Kaino Moongo tweede plek en Tanatswanshe Katsvara het derde geëindig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer