• Tuisblad
  • Sport
  • Rekordsege oor All Blacks, maar Jacques eis meer van Bokke

Rekordsege oor All Blacks, maar Jacques eis meer van Bokke

Rugby
Die afrigter was baie in sy noppies met die vertonings van André Esterhuizen en Canan Moodie in die middelveld.
Stephen Nell
Jacques Nienaber, Springbok-afrigter, glo sy span sal inderdaad op Vrydagaand se puik vertoning teen die All Blacks moet verbeter om homself die beste moontlike kans te gee om die Wêreldbeker-toernooi te wen.

Suid-Afrika het een van die beste vertonings in sy moderne geskiedenis gelewer om Nieu-Seeland met ’n rekordtelling van 35-7 op Twickenham te klop.

Die Bokke se vorige grootste sege oor die All Blacks was 17-0, wat in 1928 in Durban daargestel is.

Maar daar is ruimte vir verbetering, aldus Nienaber.

“Dis die tipe toets wat ons voor die WB-toernooi wou hê. Die All Blacks het ietsie anders gebring as Wallis in ons vorige wedstryd, ’n bietjie meer vaart en kontinuïteit. Ons het presies gekry wat ons wou gehad het,” sê Nienaber.

“Uiteraard is ek baie bly oor die uitslag, maar ek dink almal sal weet dat daar steeds vir ons harde werk voorlê voordat ons die WB-toernooi ingaan. In die eerste 20 minute was daar seker sewe geleenthede wat ons nie benut het nie.

“Ons is twee keer oor die kantlyn geduik en twee keer voor die doellyn opgehou. In ’n WB-toernooi waar die druk groot is, gaan jy in die hele wedstryd net vier geleenthede kry en dan moet jy hulle benut.”

Soos sake staan, was die Bokke ná hul oorwinning van meer as 15 punte oor die All Blacks boaan Wêreldrugby se ranglys, maar Ierland kon hulle Saterdagaand met hul oorwinning van 17-13 teen Samoa verbysteek.

“Ons kyk nie na die wêreldranglys nie. Ek dink ons was nie eens onder die voorste vyf spanne toe ons in 2019 die WB-toernooi gewen het nie.

“Dit was goed om nou momentum te bou. Ons het egter nie ’n enkele punt in die Wêreldbeker gekry met dié wen nie. Dit was eerder ’n geleentheid om ons op die WB-toernooi voor te berei,” sê Nienaber.

SEWE-EEN

Die sewe voorspelers en een agterspeler op die plaasvervangersbank is deur omstandighede op die Bokke afgedwing nadat Willie le Roux las van ’n ligte besering ervaar het. Dis te betwyfel of dit ’n gereelde taktiek sal word.

“Ons het gevoel dat ons nie vir Willie aan risiko wil blootstel nie. Met al die kaarte deesdae, het ons al baie daaroor gepraat. Nie soseer die 7/1 nie, maar voorspelers wat posisies in die agterlyn kan dek,” sê hy.

“As jy 6/2 gaan en ’n paar beserings onder jou agterspelers kry, het jy losvoorspelers en skrumskakels nodig wat vleuel vir jou kan dek.

“’n Indeling van vyf voorspelers en drie agterspelers bied die minste risiko. Met 6/2 is daar risiko en met 7/1 baie risiko. Ek weet nie of ’n ou daai risiko vorentoe kan neem nie, maar dis iets wat ons na sal kyk en oorweeg. Maar daar steek baie risiko daarin.”

Nienaber was baie in sy noppies met die vertonings van André Esterhuizen en Canan Moodie in die middelveld.

“André was baie goed, soos toe hy teen Australië en Argentinië gespeel het. Ons groot doelwit was om ons diepte uit te bou, want ons glo dit sal ’n poging deur die ganse groep van 33 verg om die WB-toernooi te kan wen. Damian de Allende het verlede week teen Wallis nét so ’n hoë standaard gestel,” sê Nienaber.

“Canan is ’n buitesenter. Hy het op o. 19- en o. 20-vlak en ook in die Curriebeker-reeks daar gespeel. Maar as jy kyk na die gehalte van sy regstreekse teenstander (Rieko Ioane) dink ek hy het ’n baie stewige vertoning gelewer.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!