Die tweede dag se roete van die PSG Ride the Ridges-byeenkoms.
Die tweede dag se roete van die PSG Ride the Ridges-byeenkoms.

Ride the Ridges beloof ’n rit soos geen ander

Bergfietsry
Tielman van Lill
Die opwinding is reeds hoog vir die heel eerste driedaagse PSG Ride the Ridge-bergfietsbyeenkoms wat van môre tot Sondag by Heja Lodge oos van Windhoek aangebied word.

“Ek en my vennoot Frank Bombosch se gedagte was ’n driedaagse skof­resies naby aan Windhoek, waar deelnemers nie ver hoef te reis of ­beduidende onkoste vir verblyf hoef aan te gaan nie,” sê die organiseerder Patrick de Goede.

“Tye sal wel aangeteken word en daar sal elke dag voorlopers wees, maar die klem is nie op ’n kompe­terende resies nie; dit gaan net ’n lekker naweek in die buitelug met lekker musiek en lekker mense en goeie kos sonder enige druk wees.”

Die Capricorn-groep is die medeborg van die byeenkoms wat tot 152 deelnemers beperk is, met inskrywings wat reeds in Januarie gesluit het.

Die eerste wegspring is môre­middag om drieuur vir die eerste dag se 34 ­kilometer in die natuurskoon vir die Chase the Sun-skof.

Saterdag begin die ryers om 07:30 vir die tweede dag se 66.5 km en Sondag ry hulle van 08:00 die derde 28.6 km. Al drie roetes begin en eindig by Heja Lodge.

Die roete strek oor drie plase in private besit en gedeeltes wat nog nooit voorheen vir fietsryers oop­gestel was nie.

So byvoorbeeld sal Saterdag se skof die ryers met tweespoorpaadjies langs na die tweede hoogste punt in die Khomasstreek (2 130 meter bo seespieël) afgesien van Moltkeblick neem.

“Soos die byeenkoms se naam aandui, is die roete oor berge en deur dale nie so maklik nie, maar die ­algehele ervaring sal eenvoudig ­onvergeetlik wees,” sê De Goede.

Sondag ry deelnemers ’n korter roete deur die skilderagtige Las ­Vegas-kamp.

“Daar is ’n stuk waar die ryers hul fietse vir seker 600 of 700 meter teen ’n berg sal opstoot

Me. Marlize Horn van die Capricorn-groep sê: “Die Capricorn-groep is trots op sy vennootskap met PSG om hierdie unieke kompetisie oor drie dae aan te bied.

“Ons visie is om die PSG Ride the Ridges-byeenkoms in 2023 verder te laat groei. Dit sal nog meer ryers die geleentheid bied om die prag­tige natuurskoon aan die buitewyke van Windhoek te verken.”

Al die bergfietse sal elke dag ná die resies deur Cycletec se kundige ­vakmanne in die tegniese sone gediens en veilig gestoor word vir die vol­gende dag se rit.

Daar sal waterpunte op al drie roetes wees met ’n ryerspark by die lodge wat die ware gees van die PSG Ride the Ridges na vore sal bring. ’n Paar aangename verrassings wag op die trappers, insluitend die geskenkpakke waarvan die inhoud meer as die inskrywingsgeld werd is.

Die waterpunte sal alles verskaf wat die ryers nodig het asook vermaak. Die ryerspark sal ’n jenewerkroeg, vakmansbier en goeie kos met ­stalletjies vir die deelnemers, hul families, vriende en die algemene publiek bied om te geniet.

Vir die gerief van die deelnemers is ’n pendeldiens vanaf Windhoek gereël om na en van Heja Lodge te gebruik. Dit vertrek vanaf ­Cycletec in Sam ­Nujoma-rylaan en PSG op die hoek van Thorer- en ­Feldstraat.

Dag 1, 15:00 tot sononder (34 km). Prysuitdeling 19:30.

Dag 2, 07:30 (66.5 km). Prys­uitdeling 14:00.

Dag 3, 08h00 (28.6 km). Prys­uitdeling 12:00.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!