Roete suid na Solitaire help ryers skaaf

Bergfietsry
Die byeenkoms is inderdaad 'n oefenlopie vir komende ultrawedrenne, maar ook op sigself 'n uitmuntend gereëlde geleentheid.
Tielman Van Lill
Drikus Coetzee het Saterdagoggend Mabaruli African Safari’s se gewilde bergfietstoer oor 265 kilometer vanaf Windhoek na die Namib Desert Lodge naby Solitaire in 8 uur 58 minute gewen.

Martin Freyer en Pierre Lambert was onderskeidelik tweede en derde in 9:05 en 9:54. Die solovroueafdeling is deur Anri Krugel (10:23) gewen met Wilmien Chamberlain tweede (12:00) en Ronel Willemse derde (14:50).

Agt-en-negentig bergfietsryers het Saterdag vir die jaarlikse toer met drie verskillende afstande in die saal geklim. Die Mabaruli is ’n tydige oefenlopie en barometer vir die fiksheid van ryers in die Nedbank Desert Dash in Desember, maar groei ook in aansien as ’n byeenkoms met sy eie meriete.

Solomans en -vroue, tweeman-, gemengde sowel as vrouespanne kon die volle 265 km aandurf, of 233 km vanaf Die Borde tot by die eindbestemming ry.

’n Bykomende roete van 61 km vir die jonger en minder fikse ryers was vanaf Remhoogte aangebied.

Coetzee het aan Republikein gesê: “Die weer was baie lekker met die wind wat soms van agter ryers gehelp het. Die roete is basies dieselfde as verlede jaar en die padtoestande was goed. Hier en daar was die pad sinkplaat gery, maar die laaste 20 km na die lodge was ’n nagmerrie soos die toeriste dit getrap het wat Sossusvlei toe jaag.

“Ek het weer gewen, maar het glad nie vir tyd gery nie. Ek het die Mabaruli-toer as voorbereiding vir die komende naweek se Munga Grit Cradle-solobergfietstoer oor 500 km in Suid-Afrika gebruik. Ek moes deurgaans die Munga in gedagte hou, want dis net ses dae later.

“Die kompetisie was opnuut fantasties gereël en het beslis potensiaal om te groei. Dit is ’n baie lekker prettige familiebyeenkoms. Baie dankie aan Sven Strohmenger (organiseerder) en sy span vir hul gasvryheid en moeite met die kompetisie. Ek sien klaar uit na die volgende toer.”

Coetzee het verlede jaar die vorige roete van 241 km in 7 uur 33 minute teen gemiddeld 31.92 kilometer per uur afgelê. Vanjaar was hy rustiger met 29.55 kilometer per uur.

Strohmenger het gesê: “Ryers vir die 265 km-roete het weer drie-uur die oggend in Windhoek weggespring. Die oggend was bietjie koel, maar verder was die weer fantasties. Dit was bewolk en van die ryers het ’n paar druppels gehad. Ons kon nie vir ’n beter venue as Namib Desert Lodge gevra het nie. Hulle was wonderlik en gasvry met die 180 gaste wat hulle met aandete bederf het.

“’n Lekker atmosfeer het deurentyd by die verskillende waterpunte geheers. Die elf waterpunte was uitstekend. By die Stofpadkamp (waterpunt) het dit gelyk soos ’n saamtrek van ’n boerevereniging. Hulle het uit hul pad gegaan. Daar is lekker musiek gemaak en gebraai.

“Bo op Remhoogte was die pom-pommeisies van Barocca met musiek in aksie om die ryers aan te moedig. Die atmosfeer was heerlik en ontspannend.

“Elke waterpunt en borg het ’n persoonlike dankiesê-trofee ontvang. Almal het wonderlike pryse gekry. Ryers het gegraveerde medaljes ontvang en Fanna Lambert het die “funny” prys vir sy vredesteken opgeraap.

Pupkewitz Megatech het op Mabaruli-Solitaire MTB Challenge se Facebook-blad geskryf: “Welgedaan Sven Strohmenger! Die 2022 Mabaruli-Solitaire MTB Challenge was ’n fantastiese geleentheid en uiters goed georganiseerde dag wat almal geniet het. Ons as Pupkewitz Megatech is baie trots om met hierdie geleentheid geassosieer te word.”

“Baie dankie aan al die deelnemers en ondersteuners, asook aan ons hoofborg, Pupkewitz Megatech, en ondersteunende borge Arebbusch Lodge, Cycletec, Dunlop, Gondwana, Santam,” het Strohmenger afgesluit.

Die vernaamste uitslae:

265 km mans solo: 1 Drikus Coetzee, 2 Martin Freyer, 3 Pierre Lambert, 4 Fana Lambert 10:07, 5 Stephan Schoeman senior 10:57:00.

265 km vroue solo: 1 Anri Krugel, 2 Wilmien Chamberlain, 3 Ronel Willemse.

Tweemanspanne: 1 Jaco Snyman/Frank Klosta (10:02), 2 Petrus Human/Michiel Greeff (10:23), 3 Niel Swanepoel/Maxime Collins (12:22).

265 km gemengde spanne: 1 Christiaan Bean/Silke Bean (10:50), 2 Koos Blaauw/Marion Schonecke (11:11).

233 km mans solo: 1 Ian Grassow, Morné Nell, Hans du Toit (almal 9:11), 4 Jaco van den Berg, Hannes Smit (10:29), 6 Jan Nel (11:00).

233 km tweemanspanne: 1 Marius Kruger/Tertius Knoetze (10:45), 2 Morné Nell/Wessie van der Westhuizen (11:24), 3 Kennedy Haraseb (12:56)/ Clive Kavendjii (12:34).

233 km vrouespanne van twee: 1 Hilke Kruger/Marchelle Eloff (11:45), 2 Karin Brockmann/Cheryl Young (14:54), 3 Christiane Thiessen/Adrie van der Merwe (13:07).

233 km gemengde spanne: Stefan Bohlke/Elanor Grassow (9:11).

61 km: 1 Henry Chamberlain, Kylie Dickerson (2:27), 2 Elvira Dickerson (2:33), 3 Bianca Salamon (3:44).

DIE MUNGA

Coetzee sal Vrydagmiddag om 12:00 wegspring en hoop om die afstand binne 23 uur te voltooi.

Die Munga Grit Cradle begin en eindig by die Bidon Bistro in die Wieg van die Mensdom net buite Johannesburg. Die roete sal in ’n noordwestelike rigting na Magaliesburg en Rustenburg begin, voordat dit weswaarts en dan suidwaarts na Swartruggens en Groot Marico swaai. Die roete mik dan ooswaarts om weer by die Bidon Bistro te eindig.

Die afstand van net meer as 500 km sal meestal op stil grondpaaie en plaaspaadjies gery word. Ryers sal hul weg met ’n GPS vind.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!