Die Portugese kaptein, Cristiano Ronaldo, hou sy oog op die bal in Dinsdag se kwalifiserende wedstryd teen Noord-Masedonië. Foto Reuters
Die Portugese kaptein, Cristiano Ronaldo, hou sy oog op die bal in Dinsdag se kwalifiserende wedstryd teen Noord-Masedonië. Foto Reuters

Ronaldo op pad na vyfde WB-toernooi

Sokker
Die immergroen Cristiano Ronaldo, Portugal se sokkerkaptein, was weer ’n sleutelspeler in sy span se oorwinning van 2-0 Dinsdag oor Noord-Masedonië in die Portugese stad Porto.

Ronaldo was die spelskepper van een van Bruno Fernandes se twee doele in die wen van 2-0, waarmee Portugal sy plek in die Wêreldbeker (WB)-toernooi later vanjaar in Katar bespreek het.

Die 37-jarige doelskieter sluit hom by ’n uitgelese groep spelers aan wat aan hul vyfde WB-toernooi gaan deelneem.

Hulle is die Duitser Lothar Matthaus, Rafa Marquez en Antonio Carbajal van Mexiko, asook die Italianer Gianluigi Buffon.

Lionel Messi sal ook in sy vyfde WB-toernooi aantree, want Argentinië het ook vir die toernooi gekwalifiseer.

Ronaldo het goeie herinneringe aan die Dragao-stadion in Porto. Dit was daar waar hy in 2004 sy eerste doel vir Portugal aangeteken het – in die openingswedstryd van die Europese kampioenskap teen Griekeland.

Vyf jaar later het Ronaldo ’n lang doelpoging vir Manchester United teen Porto in ’n Kampioeneliga-wedstryd geloods om United se plek in die halfeindronde te bespreek.

In 2019 in ’n Nasiesbeker-halfeindstryd teen Switserland het hy met ’n driekuns geskitter. Portugal het die eindstryd teen Nederland gewen, wat aan Ronaldo nóg ’n trofee besorg het.

– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer