Saru onder beleg: Burgeroorlog woed!
Mzansi-reeks in omstredenheid
Eintlik is die San Clemente Rhinos bloot Blou Bulle in Mexikaanse truie, word gekla.
Binnegevegte wat die land se gebruiklike parlementêre twiste na ’n kleuterskool-stoeiery laat lyk, het die afgelope week in die Suid-Afrikaanse rugbylandskap gewoed.
Die klein unies is woedend vir die groot unies – in besonder die Bulle – én vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru). Hulle weier om in die Mzansi-liga te speel totdat Saru aan hulle verduidelik hoe ’n kwansuis Amerikaanse en Mexikaanse span toegelaat word om hul 23-tal vol Pretoriase klubspelers te stop.
Op hul beurt is die grotes briesend vir Saru. Tot so ’n mate dat aandeelhouers van die Bulle en Haaie Saru se ringkoppe die afgelope week op ’n vergadering geroskam het oor swak korporatiewe bestuur, ondeursigtigheid en gebrekkige kommunikasie.
“Ek dink die gesprek is ver van verby. Hier kom groot moeilikheid,” sê ’n bron oor die aandeelhouers van die internasionale franchises se ontevredenheid met Saru.
Verteenwoordigers van die Bulle se aandeelhouers – Stefan Crouse van Remgro en Johan van Zyl, uitvoerende medehoof van African Rainbow Capital – asook Shaun Bryans van MVM Holdings, die Haaie se meerderheidsaandeelhouer, het volgens Rapport se inligting op die vergadering onder Saru ingeklim. Die lys van klagtes is lank. Van die kwelpunte waaroor hulle Saru aangevat het, sluit in:
• Die toekomstige finansieringsmodel;
• Nasionale kontrakte (vir spelers van nasionale belang, Poni-spelers);
• Die franchise-model in die konteks van die beoogde CVC-ooreenkoms en verteenwoordiging op komitees in die beplande nuwe struktuur;
• Die jongste stand van sake wat Saru se onderhandelinge met CVC Capital betref;
• Die aandeelhouers van die franchises wat ’n groter sê by Saru wil hê;
• Die begroting vir 2023;
• Die kommunikasie met die uitvoerende komitee (UK); en
• Jurie Roux se skeidingspakket en die tekort in 2022 se finansiering aan die unies.
“Hier kom ’n groot opskudding. Van die UK-lede het selfs teen ander UK-lede gedraai,” sê ’n bron.
Rian Oberholzer, waarnemende uitvoerende hoof van Saru, het glo erken dat die beheerliggaam verskeie foute begaan het.
’n Ingeligte sê die vergadering was ’n ongemaklike affêre vir van die land se rugbybase. “Ek is onseker oor die proses vorentoe.”
Die afgelope week se vergadering het gevolg op ’n skrywe vroeër deur Van Zyl aan Saru met kwelvrae. Hy het die skrywe namens die internasionale franchises gerig.
Saru het by navraag aan Rapport gesê hulle oorweeg verskeie veranderinge ná die vergadering.
“Ekwiteitsvennote van ons spanne is kritieke belanghebbendes, maar grondwetlik is hulle ‘onsigbaar’. Dit is verkeerd. Hulle is een van die belangrikste komponente van rugby in Suid-Afrika,” sê Mark Alexander, president van Saru.
“Dit moet grondwetlik op medium termyn reggestel word, maar op kort termyn het ons ons daartoe verbind om hierdie sleutelbeleggers gereeld te ontmoet om inligting te deel en wanopvattings in bedwang te bring.”
Die verhouding tussen die grotes en Saru is al vir ’n wyle ongemaklik. Die eerste tekens van die stram verhouding was reeds vroeg verlede jaar sigbaar toe Brian van Zyl, president van die KwaZulu-Natal Rugbyunie, ’n voorstel indien dat Saru ’n onafhanklike maatskappy aanwys om sy manier van bestuur te ondersoek aan die hand van die veranderde landskap van rugby. Van Zyl het gevra vir ’n onafhanklike hersieningsproses van die bestuur en struktuur van Saru met betrekking tot die beste internasionale maatstawwe en bestuurswyses, die King IV-beginsels van korporatiewe bestuur en die moontlike implikasies van enige aandele-vennootskap met SA Rugby.
In Februarie vanjaar het Marco Masotti, die Amerikaanse belegger by die Haaie, aan die Sunday Times gesê groter samewerking en deursigtigheid is nodig tussen franchises en Saru as die spel sy volle potensiaal wil bereik.
Die klein unies was die afgelope week die josie in oor die Mzansi-uitdaagreeks. Hulle het besluit om nie teen die San Clemente Rhinos van Mexiko en Amerika te speel nie. Dit nadat die Mzansi-reeks vroeër ook om die verkeerde redes in die nuus was, toe besluit is om die Israelse span, Tel Aviv Heat, ter elfder ure uit die reeks te laat.
Kort daarna het die Spaanse span Diables ook onttrek. Zimbabwe se Goshawks het laat weet dat hulle hul eerste drie wedstryde sal misloop weens finansiële kwessies.
Die Mzansi-gemors het verlede Saterdag ’n crescendo bereik toe die Valke geweier het om hul wedstrydverpligting teen die Rhinos na te kom. Dit het gevolg op ’n eenparige besluit van die kleiner SA unies om nié teen die Rhinos te speel nie, sê Mervyn Taylor, die Luiperds se president, aan Rapport.
Dié besluit is geneem toe hulle sien dat 18 van die 23 Rhinos-spelers eintlik spelers van die Pretoriase klub Naka Bulle is.
KLAP IN DIE GESIG
Ben Brinkhuis, die SWD-Arende se president, beskryf dit as ’n klap in die gesig.
“Ons soek antwoorde by Saru. Tot dan sal ons nie teen hulle speel nie. Die Naka Bulle was nooit deel van die besprekings nie,” sê Brinkhuis.
Die SWD-Arende is veronderstel om Vrydag teen die Rhinos te speel.
Taylor sê dit is ’n beginselsaak.
“Laas jaar wou die Blou Bulle en die Westelike Provinsie amateur-spanne by die Curriebeker se Eerste Liga inskryf en ons het dit teengestaan. Nou is die Rhinos in die Mzansi-uitdaagreeks, maar eintlik is dit net Blou Bulle in Mexikaanse truie. Ja, ons is kleiner unies, maar dit beteken nie hulle kan ons minag nie.”
Etienne de Lange, die Valke se uitvoerende hoof, wou nie oor hul gekanselleerde wedstryd kommentaar lewer nie.
“Saru moet ’n besluit neem, dit is sy kompetisie en nie ons s’n nie,” sê hy.
Andreea Trufasu, Rhinos Rugby se uitvoerende hoof, sê die Mzansi-liga het geen reël wat voorskryf hoeveel Suid-Afrikaners jy in jou span mag hê nie.
“Dink ek daar moet so ’n reël wees? Beslis. Dit is dalk ’n gesprek wat gevoer moet word in die toekoms,” sê sy.
Rapport verneem Saru sal môre juis daaroor vergader.
Die Rhinos Rugby-akademie is ’n ontwikkelingsprogram wat geregistreer is by die Mexikaanse Rugbyunie en VSA Rugby.
“Om in te skryf vir die Mzansi-liga moes ons die ondersteuning van ’n unie hê. Ons het deur die Mexikaanse unie ingeskryf omdat hulle ook nasionale spelers aan ons beskikbaar gemaak het. Dit verseker dat die kompetisie internasionaal is en skep vir ons spelers die geleentheid om saam met en teen Suid-Afrikaners te speel,” sê Trufasu.
“Ons ontwikkelingstrategie is om Noord-Amerikaners (vlak 2- en vlak 3-lande) met spelers van vlak 1-rugbynasies, soos Suid-Afrika, te vermeng. Die idee is dat hulle by dié spelers kan leer. Suid-Afrikaners het ongelooflike vaardighede, werkywer en goeie rugby-IK. Om 23 Mexikane teen 23 Suid-Afrikaners te laat speel, sal in dié stadium nie voordelig vir enige van die twee nasies wees nie.”
‘NIE GEREKEN DIT SOU ONTSTEL’
Die Rhinos se aansoek om in die Mzansi-reeks te speel, is op 10 Maart aanvaar, met hul eerste wedstryd geskeduleer vir slegs 15 dae later teen die Valke. Dit het meegebring dat hulle net drie spelers betyds in Suid-Afrika kon kry. Hulle moes noodgedwonge so baie spelers by die Naka Bulle leen. Om spelers te leen, en saam met ander klubs te werk, is egter deel van hul strategie. Weliswaar nie op so ’n groot skaal nie, maar wagtydperke vir visums en reisplanne het hulle genoop om op die Naka Bulle se knoppie te druk.
“Ons het nie gedink om so baie Suid-Afrikaners in die span te hê sou die Valke so ontstel nie, veral as ’n mens kyk na hoeveel Suid-Afrikaners daar in die Heat-span is en hulle is al van Augustus af goedgekeur,” sê Trufasu.
“Ons het alles in ons vermoë gedoen om ouens bymekaar te kry sodat ons ’n span het vir 25 Maart. Ons het dit gedoen om die Mzansi-reeks en die Valke te respekteer.
“Ons het in Oktober 2022 saam met die Naka Bulle begin werk nadat ons hulle by ’n toernooi ontmoet het. Ons het ’n langtermynplan om spelers uit te ruil en geleenthede vir hulle te skep, op ’n internasionale vlak ook. Ons is bereid om saam met enigiemand te werk wat spelers wil ontwikkel. Ons het na verskeie unies en klubs uitgereik. Die Naka Bulle het vinnig gereageer.”
Die Rhinos-akademie is besig om ’n hoëprestasie-sentrum met verblyf in Gordonsbaai op te rig.
Die Rhinos het tans 14 spelers (Mexikaans en Amerikaans) in Suid-Afrika en die res van die spelers sal plaaslik geleen moet word.
“Ons sal moet aanhou om Suid-Afrikaners te gebruik, maar dit is ons ontwikkelingstrategie. Indien die reëls verander word, sal ons natuurlik daarby hou,” sê Trufasu.
Sy meen ook ’n wanindruk is in die media geskep dat die Rhinos die Tel Aviv Heat vervang het.
Saru ondersoek nou die kwessie en sal môre met die betrokke partye vergader. Eers ná afhandeling van die saak sal hulle in ’n posisie wees om kommentaar te lewer, sê ’n woordvoerder.
Intussen probeer Oberholzer ook om aan sy voorste personeel vas te klou nadat Saru die afgelope paar maande die ervaring van Jurie Roux, Christo Ferreira en Vanessa Doble verloor het. Hy probeer nou om Yusuf Jackson, een van Saru se jare lange staatmakers, te behou.
Jackson, Saru se bestuurder van kompetisies en toere, is nou in Graeme Smith-hulle van die SA20-krieketliga se visier.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie