Schurter maak geskiedenis op 1ste WB-resies

Bergfietsry
Annchen Nel
Bergfietsry se Wêreldbeker-seisoen het Sondagaand op ’n opwindende en geskiedkundige noot begin.

Die eerste byeenkoms vir Olimpiese veldwedrenne in Petrópolis, Brasilië, het toe nie aan die tuisgunsteling Henrique Avancini behoort nie, maar aan die legendariese Nino Schurter.

Dié 35-jarige Switserse wêreldkampioen was op ’n warm en bedompige middag weer eens te sterk vir sy jonger teenstanders.

Hy het die sewe rondtes in 1 uur, 26 minute en 52 sekondes afgelê en sy 33ste Wêreldbeker-oorwinning – sy eerste sedert 2019 – beklink.

Schurter (Scott-SRAM) het met dié spogsege die legendariese Fransman Julien Absalon se 33 oorwinnings geëwenaar.

Die Switser het op Facebook erkenning gegee aan Absalon. “Ons tweestryde en jou rekord het my ’n beter atleet gemaak. Wat ’n eer om nou die rekord van 33 Wêreldbeker-oorwinnings met jou te deel.”

Die Tsjeg Ondrej Cink was die vroeë voorloper met Schurter kort op sy hakke.

Aan die begin van die derde rondte het Schurter die druk opgelaai en voor gejaag.

Mathias Flückiger van Switserland, die huidige WB-kampioen, het geval en hy het eindelik 14de geëindig.

Die Suid-Afrikaner Alan Hatherly, wat Vrydag die kortbaan-nommer gewen het, het aan die begin van die wedren puik gery.

Hy was in ’n stadium in die vierde plek, toe het hy voor gejaag, maar hy het later teruggesak en negende geëindig.

Aan die begin van die vierde rondte was Schurter, Avancini, Maxime Marotte, Vlad Dascalu en Hatherly nog almal saam in die voorste bondel.

Schurter, die Roemeen Dascalu en die Fransman Marotte het hul voorsprong teenoor Filippo Colombo, Avancini en Hatherly gerek.

Toe die sewende en laaste rondte aanbreek, was Schurter, Dascalu en Marotte se voorsprong 45 sekondes.

Ons werk hard vir ons doelwitte en dit is fantasties wanneer groot drome bewaarheid word.

Enigiets kon nog in die laaste rondte gebeur. Die drie was in die laaste draai steeds bymekaar. Marotte het op briljante wyse daarin geslaag om Schurter en Dascalu verby te steek.

Die ervare Schurter het hom egter in ’n naelrit geklop, met Dascalu op hul hakke in die derde plek.

“Dit het my drie jaar geneem om weer ’n Wêreldbeker-oorwinning te behaal en dit is soveel meer spesiaal in ’n taai stryd met Maxime, en voor soveel toeskouers,” het ’n emosionele Schurter in sy TV-onderhoud gesê.

“Ek het nie opgegee nie. Dis ’n soete oorwinning. Ons werk hard vir ons doelwitte en d is fantasties wanneer groot drome bewaarheid word.”

’n Tuisoorwinning was die Brasiliaan Avancini toe nie beskore nie. Hy het 13de geëindig.

Schurter is die voorloper met 288 punte. Marotte is tweede (250) en Hatherly (180) derde.

Die Australiër Rebecca Ellen McConnell is die vrouewenner in 1:29.41. Nederland se Anne Terpstra het tweede geëindig en die Franse vrou Loana Lecomte derde.

• Die volgende byeenkoms in die reeks is op 7 en 8 Mei in Albstadt, Duitsland.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!