Seisoen by Gallina geopen

Motocross
Tielman van Lill
Die Windhoek-motocrossklub bied Saterdag die eerste been van die Namibiese nasionale kampioenskapsreeks by die Gallina-baan noord van Windhoek aan. Dit sal die eerste byeenkoms vir 2022 wees, nadat die vorige MX-seisoen op 27 en 28 Desember met ’n kompetisie buite Swakopmund afgesluit het. Die onderskeie nasionale kampioene is eers onlangs vir hul harde werk in 2021 vereer. Mark Sternagel, wat die MX1-toneel vir etlike jare in die land oorheers het, sal vanjaar glad nie kan jaag nie. Hy het nog nie honderd present van sy ongeluk herstel nie. Hy het by die Pakhisa-baan op 21 September 2021 in Welkom, Suid-Afrika, tydens ’n kompetisie sy regterdybeen asook sy regtersleutelbeen gebreek én skouerligamente geskeur. Sternagel se dybeen was só sleg gebreek dat dit ná bykans vyf maande nog nie voldoende herstel het nie. Hy het aan Republikein gesê die staalpen sal dalk in September verwyder word, maar sy kanse om in 2022 op ’n motorfiets rond te jaag, is nul. Met Sternagel op die kantlyn sal Arno Engels en Lain Gilchrist heel waarskynlik die MX1-klas oorheers. Die gewilde Clubmans-afdeling is ’n strawwe uitdaging waar manne soos Tony Viljoen, Henner Rush, Riaan Kritzinger, Francois Cronjé, JF van Eeden en Lourens du Plessis mekaar in die stofresies die stryd gaan aansê. Juan de Vos, wat laasjaar die MX65-afdeling oorheers het, maak Saterdag sy buiging in die MX85-klas. Wynand Cronjé en Luca Brand sal hom graag met hewige mededinging wil verwelkom. De Vos het Desembermaand met die laaste ronde in Swakopmund in dié klas gejaag en goed vertoon. JL Opperman gaan vir oulaas wys hoe ’n Honda TRX 450R-kwad gery moet word voordat hy na die VSA vertrek. Opperman se onverskrokke aanslag en gewaagde spronge is werklik iets om te aanskou. Op die vroulike front sal Zoë Waldschmidt van Windhoek, dogter van die voormalige Dakar-tydrenjaer Ingo, en Geena Sadlowski van Swakopmund hul slag wys. Sadlowski sal haar aanslag in die MX125-afdeling loods. Die beste renne vind van 13:30 plaas en teen 16:00 word die Koning van die Stof (King of the Dirt) bepaal. 2021 klaswenners en naaswenners MX50: 1 Khian Kotze (Swakopmund), 2 Markus Pack (Windhoek). MX65: 1 Juan de Vos (Swakopmund), 2 Marco Lindemeier (Windhoek). MX85: 1 Wynand Cronjé (Usakos), 2 Luca Brand (Swakopmund). MX125: 1 Liam Gilchrist (Swakopmund), 2 Anton Myburgh (Windhoek). MX1: 1 Lain Gilchrist (Swakopmund), 2 Arno Engels (Usakos). MX-veterane: Quinton van Rooyen, 2 Jörg Stranghoener (beide Windhoek). Die kompetisie begin om 10:00 en toegang kos N$20 per persoon (kleuters gratis). Ná 16:00 verander die prys na N$40. Verversings word verkoop en Kaufee en Wouter sal die byeenkoms op die regte noot afsluit. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!