Sending Frankryk in dié groep se hande

Rugby
Beserings het 'n rol gespeel, maar afrigter Allister Coetzee sê hy het volle vertroue in die proses van spankeuse wat gevolg is.
Die senter Johan Deysel is soos verwag die kaptein van die nasionale rugbygroep van 28 spelers vir deelname aan Rugby Afrika se kwalifiserende Wêreldbekertoernooi, wat Vrydag in Marseilles in Frankryk afskop.

Deysel is een van net vyf agterspelers wat van die 2019 Wêreldbeker in Japan oorgebly het, benewens elf van die voorspelers.

Van die 16 voorspelers kan tien as voltydse beroepspelers in die buiteland geklassifiseer word, asook sewe uit die twaalf agterspelers.

Die slot Pieter-Jan van Lill is die oudste toerlid op 38 jaar en 209 dae (indien hy vir Vrydag se openingswedstryd gekies word). Die jongste in die groep is die huidige nasionale o.20-stut Jano Otto, wat in Oktober 20 jaar oud geword het.

Ontydige beserings aan Lesley Klim (Unam, enkelligament) en Chad Plato (Kudus) – beide veelsydige agterspelers met X-faktor en ervaring van Japan 2019 – het hulle buite rekening geplaas.

Die hardwerkende slot/flank Max Katjijeko (Ampo Ordizia, Spanje) was ook baie ongelukkig om Vrydag sy hand te breek in die laaste opwarmwedstryd in Kaapstad teen Italië-A.

Die afwesigheid van die 31-jarige veteraan Johann Tromp (46 toetse as heelagter of vleuel, 21 drieë) word daaraan toegeskryf dat sy reisvisum nie betyds gereed gekry kon word nie. Sy klubspan Strela Kazan was twee naweke gelede nog in die Russiese nasionale bronsfinaal betrokke.

“Tromp was dié seisoen goed op stryk en ons klub se voorste driedrukker,” sê die voormalige Namibiese stut Jaco Engels, hulpafrigter van Strela Kazan.

Die Namibiërs het pas hul oefenkamp van sowat twee weke in die Wes-Kaap afgesluit en sou gisteraand via Johannesburg en Addis Abeba na die suide van Frankryk vertrek.

Allister Coetzee, die Namibiese afrigter, sê: “Lesley het sy enkel by ons derde oefensessie beseer en sal eers oor ’n week of twee weer voluit kan hardloop en sou dus hoogstens vir ons derde toets dalk beskikbaar wees.

“Volgens ons kriteria en wat ons by die oefenkamp gesien het, is ons oortuig van ons keuses. Die spelers wat uitgeval het, verstaan ons kyk nie net na die korttermyn nie. Die manne wat by die kamp ’n voet in die deur gekry het, is altyd nog in die prentjie om die pad vorentoe te stap. Ek sal graag kyk hoe elkeen werk maak van wat in hul post-kamp verslag uiteen gesit word en hoe hulle dit in hul klubwedstryde toepas.

“Elke kompetisie en wedstryd vir Namibië is belangrik en ons sien baie uit na die komende taak. Vandag se oefensessie het weer baie goed afgeloop.”

Die losskakel PW Steenkamp het die afgelope naweek sy Poolse klub Orkan Sochaczew gehelp om die nasionale eindstryd te wen en behoort dus vol selfvertroue in Marseilles by sy landgenote aan te sluit.

WAT SÊ DIE RANGLYS?

Namibië speel Vrydag om 18:00 in sy openingswedstryd teen Burkina Faso – die swakste van die agt spanne in die toernooi, wat laasjaar Julie in Harare met 101-3 en 95-5 deur Zimbabwe gebêre is.

Woensdag lê die eerste werklike hekkie in die semifinaal teen die wenner van Zimbabwe en Ivoorkus voor. Die Zimbabwiërs het afgelope naweek ’n toets teen Nederland in Amsterdam met 30-7 gewen. Nadat die Europeërs vooraf met 26ste teen 34ste hoër op die wêreldranglys gereken was, is hul nuutste posisies gister onderskeidelik tot 28ste en 27ste aangepas.

Namibië se posisie op die wêreldranglys bly onveranderd op 24ste en Burkina Faso is 91ste. Kenia (35ste) open sy aanslag teen Uganda (52ste), Zimbabwe (27) moet by Ivoorkus (42ste) verbykom en Senegal (45) is die gunsteling teen Algerië (90ste).

• Die spelersgroep (spelers sonder vorige toetse met * aangedui):

Heelagters en vleuels: Lorenzo Louis (Unam), Divan Rossouw (*, Leeus), JC Greyling (Wanderers), Gerswin Mouton (*, Wits Universiteit).

Senters: Johan Deysel (kaptein, Colomiers), Danco Burger (Orkan Sochaczew, Pole), Alcino Izaacs (*, Unam).

Losskakels: Cliven Loubser (Utah Warriors, VSA), PW Steenkamp (Orkan Sochaczew, Pole).

Skrumskakels: Damian Stevens (New Orleans Gold), Helarius Kisting (ook losskakel, Baia Mare, Roemenië), Jacques Theron (*, Wanderers).

Agtsteman: Adriaan Booysen (Dallas Jackals, VSA).

Flanke: Prince !Gaoseb (Unam), Janco Venter (Saracens, Engeland), Wian Conradie (New England Free Jacks, VSA).

Slotte: Johan Retief (Griekwas), Pieter-Jan van Lill (Valence Romans Drome, Frankryk), Ruan Ludick (Pamiers, Frankryk), Adriaan Ludick (Limoges, Frankryk).

Vaskopstutte: Aranos Coetzee (Vrystaat-Cheetahs), Jano Otto (*, United), Jason Benade (Unam).

Hakers: Torsten van Jaarsveld (Bayonne, Frankryk), Louis van der Westhuizen (Vrystaat-Cheetahs), Obert Nortje (Wanderers).

Loskopstutte: Desiderius Sethie (Unam), Chemigan Beukes (Western Suburbs).

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer