Skoppers laat Affies en Gim na finaal deurseil
Skolerugby
In die meer gelykop van die halfeindstryde kon WHS nie sy kanse benut om die heersende titelhouer uit te skakel nie.
Heelagter André Siepker se akkurate stelskopwerk pale toe en koelkop algemene spel was ’n deurslaggewende faktor in die heersende titelhouer KMC One Construction Windhoek Affies se naelskraapse oorlewing met 21-20 in die semifinaal teen Samsung Windhoek Hoërskool.
Windhoek Affies sal dus komende naweek in die Standard Bank o.19 Superliga-eindstryd opgeweeg word teen Schoemans-groep Windhoek Gimnasium, wat die vorige aand met sewe drieë teen een (50-8) verby OK Foods Moria van Outjo gestorm het.
Vir Gimnasium was sy losskakel JW Visagie, wat in sommige vorige wedstryde gesukkel het met sy akkuraatheid pale toe, uitstekend op dreef met ses doelskoppe en een strafdoel – hoewel beide hy en Siepker oënskynlik met hul heel maklikste pogings van die dag kleigetrap het.
Beide finaliste se eerste spanne is tans oënskynlik op piekvorm en die eindstryd het gewis al die bestanddele om aan enige fynproewer se smaak te voldoen.
Die onoorwonne Gimnasium het in feitlik geen wedstryd vanjaar agtergeloop nie (behalwe in die interhoër teen WHS, wat hy ook gewen het) en met uitmuntende presteerders in elke posisie sal enige span wat hom in die finaal wil klop, waarskynlik alles 100% reg moet doen én die swarttruie onder groter druk moet plaas as in enige stadium vanjaar.
Elkeen van die Gim-drieë gedruk deur linkervleuel Lu-Hendro de Waal (2), senter William Klazen, heelagter Divan Steyn, plaasvervangerflank Ruan Agenbag (hul enigste maaldryfdrie vir die aand) en regtervleuel Suramie Kambombo getuig van die intelligente, doeltreffende rugby wat dié span sover vanjaar opdis.
Moria, wat sy openingswedstryd teen Gim op Outjo met net 24-29 verloor het, kon dié keer net met ’n wegholdrie deur skrumskakel Coenraad van Zyl en ’n strafdoel deur heelagter Tolley Tjipute antwoord.
BLOUES SE NAGMERRIE
’n Nagmerrie van ’n tweede helfte, skewe korrelwerk deur sy stelskoppers en ongedissiplineerde foute het Saterdag in die Hage Geingobstadion klaargespeel met WHS se hoop om Affies uit die eindstryd te hou.
Die WHS-senter Armand Kotze was ’n woelwater wat ’n aanleidende rol gespeel het in beide die twee vroeë drieë waarmee sy blitsige regtervleuel Jurgen Meyer in die hoek weggestuur is. Die drieë het onverdoel gebly, maar WHS was rustyd met 10-7 voor nadat Affies se haker Delano van den Berg sterk oorgedryf het.
Terwyl WHS voorlangs gekreun het onder die krag, gewig en inklimspel van die Affies-agttal, het die ligbloues met ondernemende hanteerwerk die gapings in die wyer kanale probeer uitbuit.
WHS kon geensins voordeel trek uit die tien minute waarin Affies se regtervleuel Nico Tromp in die koelkas toe gestuur is nie. Inteendeel, Siepker het in dié tyd twee van sy deurslaggewende drie strafdoele oorgeskop, terwyl WHS een keer mis gekorrel het.
Tromp het groot onverdiende geluk aan sy kant gehad om nie met ’n rooi kaart afgejaag te gewees het vir die hoogs gevaarlike sweepslag waarmee hy sy opponent Aleandro Morkel met soveel geweld aan sy trui van die kantlyn af geslinger het, dat hy van die grond af gewip en met ’n klapgeluid teen die staaladvertensiebord bly lê het.
Wonder bo wonder het Morkel ná aandag van die noodhulppersoneel opgestaan en voortgespeel. WHS se terugvegpogings is later ook belemmer toe die plaasvervanger-voorspeler Ferion Beukes vir ’n lomp stukkie spel op die grond met ’n geel kaart gestraf is.
Beserings het beide spanne voor die afskop ontwrig. Jonathan Hanekom (Namibië o.20 vanjaar) sou as buitesenter vir Affies begin het, maar het in die opwarming sy knie sodanig beseer dat hy glad nie kon opdraf nie.
Aan WHS se kant het Ray-Eez Feris (Namibië o.20-flank vanjaar, vir wie sy skoolspan ook ewe veel as senter gebruik) Donderdag op die oefenveld ’n vinger in die oog gekry en hoewel hy wel later met sy toegeswelde oog as flank opgestuur is, kon hy nie so ’n faktor as gewoonlik wees nie.
Vir Gimnasium het Herman Coetzee, hul groot vaskopstut, ook ’n ruk lank in die beginspan teen Moria sy terugkeer ná ’n enkelbesering gemaak, voor hy weer af is.
• Meer oor die skolerugby se halfeindstryde, insluitend die volledige uitslae, binne in Sport Wrap.

Kommentaar
Leilani le Roux
Puik artikel Andrew, dankie!