Skorsing vir Sethie na sy klub oorgedra

WB-rugby
Andrew Poolman
Die Namibiese loskopstut Desiderius Sethie is ’n skorsing vir twee wedstryde opgelê ná ’n gevaarlike duikvat in die span se laaste Wêreldbekerwedstryd teen Uruguay op 27 September.

Die 30-jarige stut, in sy 22ste toetsverskyning, is ná 58 minute in Lyon as ’n plaasvervanger vir Jason Benade opgestuur, maar was skaars vyf minute op die veld voordat hy regop in ’n duikvat inbeweeg en sy kop teen ’n Suid-Amerikaner gekap het.

Skeidsregter Mathieu Raynal van Frankryk het hom met ’n geel kaart koelkas toe gestuur, voordat die TV-skeidsregter die beslissing tot ’n rooi kaart opgradeer het.

Dit was die Namibiërs se derde kaart vir die aand (vaskopstut Aranos Coetzee ná ’n skrum wat geval het en flank Tjiuee Uanivi vir ’n gevaarlike duikvat is ook elk vir tien minute afgestuur) – ’n deurslaggewende aspek wat bygedra het dat Namibië se swaarverdiende voorsprong uitgewis en die deur geopen is vir Uruguay om die gesogte wedstryd in Lyon te beklink.

Volgens Wêreldrugby se verklaring het Sethie die rooikaartbeslissing aanvaar en is vir twee wedstryde geskors, onderhewig aan sy suksesvolle voltooiing van die beheerliggaam se tegniese ingrypprogram vir afrigting oor gevaarlike duikvatte, waartoe die speler ingestem het.

Die onafhanklike tugkomitee se voorsitter was Jennifer Donovan (Ierland), tesame met ’n gewese toetsspeler (die oud-Springbokvleuel Stefan Terblanche) en ’n uitgetrede toetsskeidsregter, Val Toma (Roemenië).

Die komitee het uitgewys dat die oortreding ’n verpligte minimumstraf op die middelvlak (ses wedstryde) inhou. Met inagneming van versagtende omstandighede (’n goeie gedragsrekord; skulderkenning en onmiddellike aanvaarding van die rooi kaart; ’n verskoning aan die opponent) is die straf met die helfte verminder.

“Omdat Namibië se Wêreldbekerwedstryde afgehandel is, sal die skorsing van drie wedstryde van toepassing wees op sy klubskedule, sodra dié bekend is,” lui die verklaring.

Sethie speel sy klubrugby in Windhoek vir FNB Unam, maar het in die afgelope seisoen net een wedstryd vir hulle gespeel terwyl hy van ’n kniebesering herstel het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!