Slamet skitter met baanrekord op Killarney

Motorfietsry
Die gedugte Baron von Slamet is terug op die wenpad en spel soos altyd groot gevaar vir sy uitdagers.
Yochanaan Coetzee
Die terugkeer van Ronald Slamet, “The Red Baron”, na die renbaan en sommer dadelik naby aan sy beste, is wonderlike nuus vir sy aanhangers, veral in die suidelike buurland.

Die Slamet-naam is van kleins af sinoniem met die fanatiese motorsportfamilie waarin hy gebore is.

Hy het in onlangse tye ’n blaaskans geneem om op besigheid en familie te fokus, tot die ontsteltenis van sy vele aanhangers. Gelukkig is die Baron nou terug en in topvorm, soos blyk uit sy skouspelagtige oorwinning laas naweek in ronde 1 van die ZX10 Meestersbeker in die Wes-Kaap.

Die Windhoeker het tevore reeds sy kampioenstatus in die Westelike Provinsie Moto-rentoneel bewys, eers in 2011 in die WP Supersport-klas (600cc), voordat hy die volgende jaar na die Superbike-klas (1000cc) opgeskuif en almal verstom het om in sy “groentjie”-jaar algeheel tweede te eindig.

Van 2013 tot 2015 het hy hom deur en deur bewys met top-eerbewyse en twee opeenvolgende titels as algehele WP-kampioen, wat die aandag van ’n legio ondersteuners, groot borge en die kenners van motorfietssport getrek het.

In ’n onderhoud ná laas naweek se suksesvolle terugkeer het hy gesê: “Ek en die span is baie opgewonde om weer ons passie na te streef. Ons het ons verbind tot ’n volle seisoen in die SunBet ZX10 Meestersbeker en sal vanjaar Suid-Afrika deurreis, met ons enigste doelwit om as kampioene weg te stap en die nommer een posisie weg te neem van die jarelange kampioen, Graeme van Breda.”

GELYKE SPEELVELD

Die nuwe reeks is gehomogeniseerd vir alle jaers op ’n Kawasaki ZX10 wat aan die kampioenskapreëls moet voldoen – so standaard as moontlik, met slegs spesifieke wysigings wat toelaatbaar is.

Die feit dat alle jaers tot soortgelyke toerusting beperk word, sorg vir opwindende wedrenne, want jaers en spanne word gedwing om hul vernuf te wys as hulle wil uitstaan.

“Ek glo die wil om te wen is binne ons almal, maak nie saak watter sportkode of selfs jou werkloopbaan nie. Daar moet ’n honger wees om sukses te behaal en jou doel te bereik. Daardie honger is die dryfveer agter alles. ’n Groot deel van my geestelike krag is bloot om alles aan God te onderwerp. Hy het my hierdie talent en doel gegee sodat ek op Hom fokus en kalm bly.

“Fisiek gaan ook baie werk in. Ek probeer voortdurend om op een of ander manier beter wees as toe ek laas van die fiets afgeklim het. Ek hou daarvan om op die dag ’n swak punt te identifiseer waarmee ek gesukkel het, en dit dan my sterk punt vir my volgende wedren te maak.”

INDERHAAS VOORBEREI

Sy aanloop tot Extreme Festival by Killarney in Kaapstad laas Saterdag, was nie ’n maklike pad nie, maar Slamet sê dit het hom en sy span harder laat werk.

“Ons tyd vir voorbereiding was baie beperk. Ons kon eers die Donderdag voor die wedrendag die verstellings aan die motorfiets maak. Ek en die span het darem goed saamgewerk en ons het selfs tydens Vrydag se oefenrondte die vorige baanrondterekord van die kampioenskap verbeter.

“Ons hoofuitdaging was die verstellings aan die motorfiets om aan te pas namate toestande verander. Ek het nog nie tevore op die nuwe Bridgestone R11-bande gery of gejaag nie, so ons het data nodig gehad om te weet watter druk ons moet handhaaf.

“Ten spyte dat my voorwiel tydens die wegspring van wedren 1 hoog opgelig het, het ons daarin geslaag om terug te veg na die voorloperposisie en in die proses ’n nuwe baanrekord rondom Killarney International Raceway op te stel.”

Aan die begin van wedren 2 het Slamet se voorwiel opnuut opgelig, maar hy het beheer herwin om vooraan die groep om die eerste draai te seil. Ná ’n titaniese wedren het Slamet met 0.663 sekondes voor sy naaste mededinger klaargemaak.

“Die hoogtepunt was die manier waarop ons span saam presteer het. Die oorwinning was ons s’n as ’n span; ons het dit almal saam gevier.” Hy was ook sy borge Vault Markets, Truevine Maintenance, MASS Sports, PlantFuelled Nutrition en Fitness Mafia bedank vir hul onwrikbare steun.

“Om te sien hoe my passie andere met hoop vervul en vir hulle vreugde kan bring, dra by tot my dryfkrag en wil om te wen,” het hy bygevoeg.

VISIE VIR DIE LAND

Slamet sê sonder sy wortels in Namibië sou hy dalk nie sy huidige en vorige suksesse bereik het nie, maar die land moet ook meer doen om die infrastruktuur en kapasiteit te ontwikkel om nuwe talent tot uiting te laat kom.

“Namibië het ’n baie sagte plek in my hart, want dis waar ek glo die volgende onontdekte talent lê en wag. Ek werk steeds hard om ’n instituut vir ontwikkeling in Namibië te vestig, maar eerstens het ons ’n baan nodig wat die FIA as veilig kan klassifiseer.

“Ek weet die Namibiese Motorsportfederasie werk hard om die Tony Rust-renbaan op te gradeer sodat motorfietse in die algemeen weer toegelaat word om mee te ding.

“Tweedens het ons finansiering nodig om oefenmotorfietse, toerusting ensovoorts vir kinders te kry en van daar af kan ons ’n kampioenskap begin wat in die streek en later in die Afrikabeker-kampioenskap erken word,” is sy oogmerk.

TEMPERAMENT VIR DIE GROTE

Vir die SunBet ZX10 Meestersbeker se volgende wedren op 23 April by Zwartkops-renbaan in Pretoria, is hy en sy span hard aan die werk om hul momentum te behou.

Behalwe om die motorfiets perfek op te stel, gaan baie werk in om jou liggaam en gees te versterk.

“Ek kyk soms na ander jaers en kan nie glo teen watter spoed ons jaag nie. Maar die menslike brein is ’n baie kragtige instrument. Ek voel nie die spoed geestelik nie, ek voel dit fisies, maar op een of ander wyse word alles stadiger as ek jaag. Besluite in breukdele van ’n sekonde word instinktief geneem word net omdat jy geestelik een is met alles om jou.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!