Span met minste ruskans stel visier op Franse

WB-rugby
Namibië het die vleuel Lloyd Jacobs vanaf Walvisbaai na Frankryk ontbied.
Andrew Poolman
Namibië is die enigste span in die Wêreldbeker-rugbytoernooi wat nie ’n enkele keer ’n volle week ruskans tussen sy wedstryde het nie.

In die uitgebreide formaat met vyf spanne per groep is daar sommige spanne in Frankryk wat selfs twee weke tussen hul wedstryde het.

Namibië se laaste wedstryd teen Uruguay is op 27 September – drie dae voordat enige ander span klaarmaak, en twee dae voordat die All Blacks selfs hul derde groepwedstryd gespeel het.

Selfs die enigste ander span wat in September klaarmaak (Chili) se laaste wedstryd is op die 30ste – drie dae ná Namibië.

Te midde van hierdie ongunstige skedulering het afrigter Allister Coetzee ná gisteroggend se oefensessie gesê hy kan opmerk dat die spelers steeds styfheid ondervind ná Vrydagaand se ruwe botsing met die All Blacks, wat die Nieu-Seelanders met 71-3 oorheers het.

Coetzee sê hulle is besorg oor die losvoorspelers Adriaan Booysen (skouer), Wian Conradie en Richard Hardwick, asook die kaptein en senter Johan Deysel, maar die hoop is om ná mediese toetse ’n duideliker prentjie te verkry.

Conradie se vertoning op verdediging (vier uit agt duikslae onsuksesvol) was gewis nie sy gebruiklike self nie. Hardwick se elf duikslae was die meeste aan die Namibiese kant.

Die Namibiërs berei voor om Donderdagaand om negeuur in Marseilles teen Frankryk uit te draf.

Booysen kan volgens die afrigter die toets teen die Hane misloop ná die skouerloop deur die All Blacks se stut Ethan de Groot, wat vir laasgenoemde ’n geel kaart besorg het wat later tot rooi opgradeer is.

Die plek van die ongelukkige Namibiese senter Le Roux Malan, wat ná skaars 18 minute van sy Wêreldbeker-debuut met ’n fraktuur van sy fibula afgehelp moes word en dieselfde aand geopereer is, moes ook in die toerspan gevul word.

Die ondernemende vleuel en heelagter van FNB Kudus, Lloyd Jacobs, het die oproep gekry om na Frankryk ingevlieg te word om die spelersgroep 33 weer voltallig te maak.

Coetzee het gesê Jacobs is die regte speler vir die taak nadat hy hom in die Mzansi-reeks bewys het en hy verstaan die Namibiërs se patroon.

“Lloyd speel nie in Le Roux Malan se posisie nie, maar ons het JC Greyling as ’n ervare buitesenter en Johan Deysel wat 12 kan dek. Ons het ook vir Alcino Izaacs en Danco Burger as senters asook Divan Rossouw en Lloyd wat vleuel en heelagter kan dek.”

Die bywoning van bykans 1 500 ondersteuners by hul oefensessie het bygedra om die Namibiërs in die gees van die Wêreldbeker aangespoor te hou vir die uitdagings wat voorlê, het Coetzee gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!