Spanning voor Wanderers (90/9) finaal wen

Klubkrieket
Die rooies het die seisoen met 'n tweede liga-oorwinning afgesluit.
Andrew Poolman
’n Week nadat APS Imperial Samsung Wanderers die 50-boulbeurt premierliga van Krieket Namibië verower het, het hy gister die plaaslike klubseisoen ook met die verowering van die T20 premierliga afgesluit.

Gister se oorwinning is egter eers ná ’n naelbytstryd beklink, nadat Wanderers net 90/9 kon aanteken en daarna vir AMH Motors WHS Old Boys op spannende wyse tot 83/6 beperk het.

Die vorige dag se drie T20-wedstryde op dieselfde Wanderers-kolfblad en gister se laatmiddag begintyd (14:00) het meegebring dat die loot wat Nicolaas Scholtz vir Wanderers gewen het, van buitengewone belang sou wees omdat toestande vir die kolwers al hoe moeiliker sou raak.

Sy eweknie as kaptein van Old Boys, JP Kotzé, het verlede week op sosiale media aangedui dat hy op die punt staan om sy krieketskoene op te hang en sy aandag aan sy familie- en werkverpligtinge te fokus. Gister se hoogs spannende eindstryd sou ’n gepaste afsluiting vir die 28-jarige gewese Eagles-staatmaker se loopbaan gewees het, indien hy wel besluit om met sy uittrede uit alle krieket voort te gaan.

Halfpad deur die sesde boulbeurt was Wanderers reeds diep in die knyp op 22/4, met Niko Davin (4), Nyasha Nyasha (5), Karl Birkenstock (1) en JC Balt (8) almal terug in die kleedkamer.

Michau du Preez (29), Danie van Schoor (18) en Nicolaas Scholtz (15 nie uit nie) het waardevolle lopies bygevoeg – hoewel die rooies steeds bitter graag meer lopies op die bord sou wou plaas.

Vir WHS Old Boys het Francois du Plessis (1/16 in 4 bb), Gerhard Erasmus (2/16 in 4) en Malan Kruger (1/4 in 1) ’n identiese vier lopies per boulbeurt afgestaan, met Ruben Trumpelmann (2/17 in 4) en Shaun Fouché (2/18 in 4) bykans ewe ekonomies.

Die verliese vroeg in die kolfbeurt het ook vir Old Boys getref, toe Kotzé (1) deur Bernard Scholtz gevang en geboul is, terwyl Zane Green (5) twee boulbeurte later uit is.

Malan Kruger (34 van 39 balle) en Gerhard Erasmus (25 van 43 balle, geen grenshoue) het tot op 65/3 ná 12.3 boulbeurte saam gekolf, maar Wanderers se draaiboulers het die bal moeilik gemaak om weg te kry. Goeie hardloopwerk tussen die paaltjies het al hoe belangriker geraak.

Trumpelmann (1) is deur Nicolaas Scholtz geboul en Birkenstock het die reuse-slag geslaan toe Erasmus die bal op sy eie paaltjies gespeel het.

Uiteindelik moet Nyasha 10 lopies in die laaste boulbeurt verdedig. Die steeds gevaarlike Shaun Fouché (12) is deur Niko Davin uitgevang, wat die gang finaal in Wanderers se guns laat swaai het vir die oorwinning met sewe lopies.

SATERDAG se drie wedstryde:

• WHS Old Boys (206/3) klop CCD Tigers (114 almal uit) met 92 lopies. Speler van die wedstryd: Malan Kruger (Old Boys), 68 van 51 balle.

Zane Green (49 van 28 balle, 5x4 2x6) was haastig op pad na sy vyftigtal toe hy uitgevang is. Ruben Trumpelmann was teen die einde vernietigend met drie sesse en twee viere (31 nie uit nie van 9 balle) en JP Kotzé was onoorwonne op 13 (6 balle, 1x4 1x6).

Die grondslag is vroeër met die 78-vennootskap tussen Kruger en Gerhard Erasmus (28 van 27 balle, 3x4) gelê.

Vir CCD het Pikkie ya France (22 van 19 balle 1x4 1x6), Joshuan Julius (21) en kaptein Nicol Loftie-Eaton (38 van 17 balle, 3x4 2x6) vlamgevat, maar hul aanslag kon nie enduit volgehou word nie.

Donovan Zealand het vier paaltjies vir 9 in drie boulbeurte geneem, met nog goeie syfers vir Francois du Plessis (3/28 in 4), Henry Grant 2/18 in 2.1) en Shaun Fouché (1/8 in 3).

• WHS Old Boys (55/3 in 13 boulbeurte) klop Trustco United (54 almal uit in 14.5 boulbeurte) met sewe paaltjies. Speler van die wedstryd: Gerhard Erasmus (Old Boys), 3/0 in 2 bb.

United se aanvangskolwer Hendrik van der Walt (uitgehardloop vir 22 van 23 balle) was die tweede man uit nadat hy drie viere geslaan het. Die Filistyne se kolftotaal het drie nulletjie ingesluit en Ramsay McDonald se 6 was die tweede hoogste telling, benewens 9 ekstras.

WHS se boulaanval was egter bobaas met Erasmus se drie paaltjies wat hom nie eens ’n enkele lopie gekos het nie, saam met nog twee draaiboulers Francois du Plessis (3/16 in 4) en Donovan Zealand (2/0 in 0.5 bb).

Hierna het WHS die jonger manne ingestuur om die lopies te gaan aanteken. JW Visagie (14), Zacheo van Vuuren (16) en Zealand (19 nie uit nie) het as die topdrie kolfkans gekry.

• CCD Tigers (125/7) klop Wanderers (113/7) met 12 lopies. Speler van die wedstryd: Pikkie ya France (CCD), 48 van 36 balle en 2/18 in 4 bb.

Ya France, as aanvangskolwer, het sommer van die eerste boulbeurt af aanvallend gekolf en het drie sesse en twee viere geslaan.

Niko Davin het twee skerp vangskote binne die sirkel geneem om Stephen Baard (4) en Nicol Loftie-Eaton (12) terug te stuur, terwyl Michau du Prezz vir Joshuan Julius (7) uitgehardloop het.

Die onblusbare Nyasha Nyasha het met die laatmiddagson in sy oë ’n briljante vangskoot met een hand op die grenstou raakgevat om vir Ben Shikongo (12) terug te stuur, voordat Nyasha kort daarna ’n paaltjie stukkend geboul het vir Mauritius Ngupita se nulletjie. Net Ryan Moffett (21 nie uit nie van 25 balle) het nog vasgebyt.

Wanderers se antwoord met die kolf het egter deurgaans onder druk verkeer, vandat Niko Davin (6), Karl Birkenstock (1) en JC Balt (14) vroeg uit is. Michau du Preez (33 van 40 balle) het vasgeskop en Nyasha (13) en Bernard Scholtz (27 van 24 balle) het ook hard gespook, maar die terugvegpoging was vergeefs.

Albert Mbwembwe (2/16 in 4), Ben Shikongo (1/28 in 4) en Ngupita (1/25 in 4) het ook hul kant gebring as CCD-boulers, hoewel dié oorwinning uiteindelik nie die knoop deurgehaak het om hul plek in die finaal te bespreek nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!