Afrigter Erwin Handura het sakke sout opgeëet saam met die MTC Namibiese vrouehokkiespan wat in die laaste twee binnenshuise Wêreldbekers gespeel het. Foto FIH
Afrigter Erwin Handura het sakke sout opgeëet saam met die MTC Namibiese vrouehokkiespan wat in die laaste twee binnenshuise Wêreldbekers gespeel het. Foto FIH

Spogspan begin nuut ná afrigter bedank

Hokkie
Die Hokkie-unie moet nog sy voornemens aankondig wat die soektog na 'n geskikte plaasvervanger vir Erwin Handura betref.
Andrew Poolman
Die bedanking van Erwin Handura as afrigter van die MTC Namibiese nasionale vrouehokkiespan bring ’n einde aan een van die mees suksesvolle eras vir enige van die land se vrouesportspanne.

Met Maggy Mengo wat ná jare as spankaptein ook halt geroep het, is dit ’n ope vraag of die span dieselfde hoogtes sal bereik terwyl ’n nuwe leierskapstruktuur gevestig word.

Handura het Vrydag sy bedanking aangekondig, met die voorneme om te fokus op sy passie vir ontwikkeling, spesifiek die Standard Bank junior hokkie-inisiatief, wat deur die Namibiese Hokkie-unie (NHU) ondersteun word.

“Saam met dié span was Erwin op ’n ongelooflike reis wat van 1999 tot 2007 en weer van 2015 tot 2023 gestrek het. In dié tyd het hy vele prestasies behaal, wat hom die suksesvolste afrigter in die geskiedenis van hokkie in Namibië maak,” het Reagon Graig, president van die NHU, in sy mediaverklaring gesê.

“Onder Erwin se leierskap het die nasionale vrouespan verskeie betekenisvolle mylpale bereik, insluitend hul verteenwoordiging van Namibië by internasionale kompetisies soos die Binnenshuise Wêreldbekers van 2018 Duitsland en 2023 Suid-Afrika.

“Die span het ook verskeie Afrikabeker-toernooie en reekse teen Suid-Afrika beklink en die vyf-aan-’n-kant Afrika-kampioenskap gewen.

“Erwin se toewyding tot hokkie-ontwikkeling bly onwrikbaar. Oor die afgelope twee jaar het hy uitstekende werk gedoen om hokkie in elf streke van Namibië te ontwikkel.

“Hy beplan om die drie oorblywende streke, Kavango-Wes, Zambezi, en Ohangwena ook in te sluit, asook om hokkie-ontwikkeling in ander streke te versterk.

“Erwin se kontrak sou in Oktober 2023 verstryk het, maar ons het ingestem om die beëindiging van die kontrak te vervroeg om hom die vryheid te gee om op hierdie ontwikkelingsinisiatiewe te fokus.

“Ek wil graag ons hartlike dank aan Erwin uitspreek vir sy harde werk, toewyding en sukses wat hy na die hokkiesport in Namibië gebring het. Sy prestasies sluit in om die span na die goue medalje by die Binnenshuise Afrika-Masiesbeker te lei, om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer, en om die span na die goue medalje by die Hockey5s Afrika-kampioenskappe te lei.

“Erwin het in die proses ook vele eerbewyse ontvang, insluitend dat hy in 2004 as Namibië se Afrigter van die Jaar aangewys is en dat die junior vrouespan as Span van die Jaar aangewys is. Hierbenewens is die senior vroue binnenshuise span as Span van die Jaar in 2021 aangewys.

“Ek wens Erwin alle sterkte toe in sy toekomstige pogings en sien uit daarna om ons werksverhouding met hom in sy nuwe hoedanigheid voort te sit.”

Namibië het in Februarie vanjaar Handura se termyn op ’n ietwat teleurstellende noot afgesluit, met hul wenlose veldtog en 12de eindposisie uit 12 spanne by die Binnenshuise Wêreldbeker in Pretoria wat nie aan die hoë verwagtinge voldoen het nie.

In die 2018-wêreldtoernooi in Berlyn, Duitsland, het die Namibiërs negende geëindig, met Kiana Cormack die toernooi se gesamentlike voorste doelskieter met nege treffers.

Die Hokkie-unie moet nog sy voornemens aankondig wat die soektog na ’n geskikte plaasvervanger vir Handura betref.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!