• Tuisblad
  • Sport
  • Sportfigure vir wie die wêreld in 2022 vaarwel moes roep

Sportfigure vir wie die wêreld in 2022 vaarwel moes roep

Herman le Roux
Gewilde, kranige sportmanne, soos die oud-Springbok-rugbyspelers dr. Dawie de Villiers, HO de Villiers en Piet Visagie die Walliese losskakel Phil Bennett, die Franse slot/agtsteman Benoit Dauga en Shane Warne, draaibouler van Australië, is gedurende 2022 oorlede.

Motorongelukke het ook die lewens van bekende sportmanne soos Pedrie Wannenburg, Springbok-flank, Andrew Symonds, veelsydige Australiese krieketspeler, en Rudi Koertzen (SA krieket-toetsskeidsregter) geëis.

Hier is ’n lys van bekende sportlui van wie vanjaar afskeid geneem moes word:

JANUARIE:

• Corrie Wessels (73), SA spiesgooikampioen in 1969.

• Dirk Albertyn (86), slot van die OP en later ook ’n OP-keurder.

• Jurie Welthagen, twee wedstryde vir Transvaal in 1977 en sewe vir Wes-Transvaal in 1979 as agtsteman.

• Guy Laporte (69), Franse losskakel in 16 toetse. Hy was lid van die span wat in 1987 in die eerste Wêreldbeker-toernooi die eindstryd gehaal het.

• Dumile Matise (62), veteraan-sportkommentator van Johannesburg.

• André Phiel (52), driemalige SA driekamp- en tweekampkampioen. Het Suid-Afrika twee keer op die Wêreldbyeenkoms verteenwoordig (sterf toe motor in sy padfiets vasjaag).

• Kevin Flynn (82), senter van Ierland in 22 toetse oor ’n lang tydperk (1959-1973).

• Terry Morrison (70), voormalige vleuel van die All Blacks.

FEBRUARIE:

• Tom Kiernan (83), heelagter van Ierland wat in 1962 saam met die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika getoer het en in 1968 dié toerspan in Suid-Afrika aangevoer het.

• Robert Denton (81), ’n innoverende bemarker van formaat wat blywende vernuwing by Loftus Versfeld en Ellispark laat aanbring het.

• HO de Villiers (76), Springbok-heelagter in 14 toetse van 1967 tot 1970. Hy het ook 38 keer vir die WP uitgedraf. Sy aanvallende spel het hom een van die gewildste spelers in Suid-Afrika gemaak.

• Zolani Marali (44), voormalige super-veergewigbokser van Suid-Afrika wat die Internasionale Boksorganisasie se kampioen was en later ook die Wêreldboksfederasie se super-liggewigkampioen (vermoor).

• Frank McAtamney (87), All Black-stut van Otago wat in 1956 teen die Springbokke gespeel het.

• Kol. Roelie Krause (76), bestuurder van die Vrystaat-rugbystadion in die 1990's. Hy het as agtsteman in 1970 een wedstryd vir die Vrystaat gespeel en was later ’n keurder en spanbestuurder vir die Cheetahs.

• Kerrie van Eyk (73), losvoorspeler van die OP in 45 wedstryde van 1969 tot 1974. Hy het in 1971 en 1972 vir die Gaselle gespeel.

• Hilda (Nienaber) Burnett (92), Springbok-hokkiespeler wat in 1953 in Brittanje getoer het en in 1965 in Australië aan die Wêreldtoernooi deelgeneem het.

• Thys Bekker, voormalige president van die Noordoos-Kaapse Rugbyunie (1995-’95).

• Eduardo (El Gato) Romero (67), Argentynse gholfspeler wat meer as 80 beroepstoernooie oor die hele wêreld gewen het.

• Ebrahim Patel (78), wat die presidentskap van die eerste verenigde Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (Sarvu) met dr. Danie Craven gedeel het.

• John Landy (91), legendariese Australiese middelafstand-atleet wat die tweede atleet ná die Brit Roger Bannister was wat die myl in minder as 4 minute kon aflê. Hy het ook wêreldrekords in die 1500 m- en myl-wedlope opgestel.

• Nedene Botha (39), Springbok-vrouerugbyspeler van die WP en Vrystaat.

• Va’aiga (Inga) Tuigamala (52), voormalige All Black-vleuel in 19 toetse, wat Samoa ook in toetsrugby en rugbyliga verteenwoordig het.

• Joeli Vidiri (48), vleuel van Fidji in sewe toetse en later in twee toetse vir die All Blacks.

MAART:

• Sonny Ramadhin (92), wegbreekbouler van die Wes-Indiese Eilande in 43 toetse.

• Shane Warne (52), legendariese bybreekbouler van Australië wat 708 paaltjies in 145 toetse geneem het. Hy is deur Wisden as een van die vyf beste krieketspelers van die vorige eeu aangewys. Ná sy uittrede het hy hom ook as krieketkommentator onderskei.

• Rod Marsh (74), paaltjiewagter van Australië in 96 toetse (1970 tot 1984).

• Tiffie Barnes (80), voormalige wegbreekbouler van Transvaal.

• Chris Faure (67), voormalige slot van Noord-Transvaal in agt wedstryde en 28 vir Natal.

• Charles Greene (76), Olimpiese naelloopkampioen van Amerika.

• Gerrie Bester (79), senter van Noord-Transvaal in 17 wedstryde in die 1960's.

• Robert Cohen (91), Franse kapokgewigbokser wat van 1954 tot 1956 die wêreldkampioen was. Hy het in Johannesburg gelykop geboks teen Willie Toweel.

APRIL:

• Dr. Dawie de Villiers (81), Springbok-skrumskakel wat van 1962 tot 1970 in 25 toetse gespeel het, 22 keer as kaptein. Dié oud-Matie het provinsiale rugby vir die WP, Boland en Transvaal gespeel en ook vir die junior Springbokke en die Gaselle. Hy het ook as predikant, politikus en diplomaat diep spore getrap.

• Pedrie Wannenburg (41), Springbok-flank in 20 toetse. Hy het in 99 agtereenvolgende wedstryde vir die Bulle gespeel en later oorsee vir Ulster, Castre en Austin Elite in die VSA uitgedraf en ook dié span afgerig (sterf in motorongeluk in die VSA).

• Tom Smith (50), stut in 61 toetse vir Skotland en ses vir die Britse en Ierse Leeus – drie teen die Springbokke in 1997. Hy het ook die Skotte aangevoer.

• Kevin Meates (92), All Black-flank en -slot in 1952. Hy was ’n jonger broer van Bill Meates, All Black-vleuel wat in 1949 in Suid-Afrika getoer het.

• Gavin Horsley (89), vleuel van die Wallabies wat in 1953 in Suid-Afrika getoer het.

• Jack Newton (72), Australiese gholfspeler wat tweede geëindig het in die Britse Ope (1975) en die Amerikaanse Meesterstoernooi (1980).

• Streicher Botha (53), voormalige slot van die Oostelike Provinsie.

MEI:

• Gerhard Mans (60), vleuel wat van 1990 tot 1994 in 27 toetse vir Namibië gespeel en 26 drieë gedruk het. Vir die eertydse Suidwes-Afrika het hy 54 drieë in 80 wedstryde gedruk. Voorheen het hy 19 drieë in 24 wedstryde vir die Vrystaat gedruk. Hy het gesterf toe ’n motoris hom noord van Windhoek op sy fiets raakgery het.

• Charles Minnaar (84), Springbok-veldatleet wat in 1962 die SA hinderniskampioen oor 3 000 m was.

• Andrew Symonds (46), veelsydige Australiese krieketspeler in al drie formate en tweemalige Wêreldbekerwenner in eendagkrieket (2003 en 2007), in ’n padongeluk toe sy voertuig naby Townsville in Queensland omgeslaan het.

• Mielie van Zyl (62), agtsteman van Raukies en Transvaal in 1980.

• Sakkie van Rooyen, voormalige senter/vleuel van die Boland, NOK en OP.

• Mavis Hutchison (97), wat ultramarathons gehardloop het en wêreldrekords in onder meer die 100 myl en 24-uur-wedlope opgestel het. Sy was die eerste vroue-atleet wat onder meer van Pretoria na Kaapstad en van Los Angeles na New York gehardloop het.

• Red Conway (87), losvoorspeler van die All Blacks in 10 toetse (1959-1965). Hy het in twee toetsreekse teen die Springbokke gespeel.

• Lester Piggot (86), jokkie van Engeland wat 4 493 wenners gery het.

JUNIE:

• Phil Bennett (73), losskakel van Llanelli in 413 wedstryde wat van 1969 tot 1978 29 keer vir Wallis gespeel en 166 punte aangeteken het. Hy het ook vir die Britse en Ierse Leeus in agt toetse gespeel – vier in 1974 in Suid-Afrika.

• Len Gerber, losskakel van Grens teen die All Black-toerspan van 1970. Hy het daarna in 32 wedstryde vir Noord-Transvaal en twee vir NOK gespeel.

• Bokkie Radloff, senter in ses wedstryde vir Noord-Transvaal (1972-1977).

• Johan van Huyssteen, stut van Brakpan en Oos-Transvaal (1965).

• Koos Prinsloo, rugbyspeler van Noupoort en in Noordoos-Kaapland se eerste wedstryd in 1966. Veertien wedstryde in 1966-’67.

• Alain Plantefol (79), slot van Frankryk wat in die eerste van sy 11 toetse in 1967 teen die Bokke in SA gespeel het.

• Johan Botha (70), voormalige Vrystaatse tenniskampioen wat as senior speler Suid-Afrika in oorsese toernooie verteenwoordig het.

• Russell Watt (86), All Black-vleuel wat in vier van sy nege toetse teen die Bokke gespeel het.

• Carlos Ortiz (85), liggewigbokser van Puerto Rico, wat in die 1960's wêreldkampioen was.

JULIE:

• Jean Carrera (92), flank van Frankryk wat in 1958 in die twee toetse teen die Bokke in SA gespeel het.

• Barry Sinclair (85), kolwer van Nieu-Seeland wat in die toetsreeks van 1963-’64 teen die Springbokke in Auckland die enigste honderdtal (138) in die reeks van drie toetse aangeteken het.

• Neil Cronjé (82), losskakel van Boland (1965-1968), wat drie jaar lank Dawie de Villiers se skakelmaat vir Wellington en Boland was.

• Ken Kennedy (81), haker van Ierland wat vir die Britse en Ierse Leeus in 1974 in Suid-Afrika gespeel het.

• Bobby East (37), ’n Amerikaanse professionele NASCAR-renjaer, is by ’n vulstasie met ’n skerp voorwerp doodgesteek.

• Bill Russell (88), ’n ikoniese Amerikaanse basketbalspeler wat elf keer in NBA-kampioenspanne met die Boston Celtics was.

• Steve Meintjes, een van die Goue Leeus Rugbyunie se adjunkpresidente en voormalige voorsitter van die SA Skeidsregtersvereniging.

AUGUSTUS:

• Piet de Klerk (90), slot van die destydse Rhodesië, wat in 1960 teen die toerspan van Wilson Whineray se All Blacks gespeel het – en ’n drie gedruk het – en ook in 1962 teen Arthur Smith se Britse en Ierse Leeus.

• Chris Pretorius, voormalige rugbyafrigter en keurder van Transvaal.

• Rudi Koertzen (73), Suid-Afrikaanse krieket-toetsskeidsregter. Hy het van 1992 tot 2010 in 108 toetse en in 209 eendagwedstryde gestaan (motorongeluk).

• Spider Kelly (81), voormalige SA weltergewig-bokskampioen, wat in 19 van sy 27 oorwinnings ’n uitklophou geplant het.

• Tom Weiskopf (79), Amerikaanse gholfspeler wat die Britse Ope in 1973 gewen en vier keer tweede in die Amerikaanse Meesterstoernooi geëindig het.

• Kenny Jones (81), Walliese senter in 14 toetse wat in 1962 vir die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika uitgedraf en ’n pragdrie in die eerste toets gedruk het.

• Floors Aucamp (83), vleuel in 22 wedstryde vir Noord-Transvaal.

SEPTEMBER:

• Earnie Shavers (78), bekend as een van die hardste slaners in die geskiedenis en ’n invloedryke figuur in ’n goue era van swaargewigboks. Hy het in ’n uitsonderlike lang loopbaan 74 uit 89 beroepsgevegte tussen 1969 en 1995 gewen. Sy 68 uitklophoue (23 in die eerste ronde) getuig van sy slaankrag. Hy het twee wêreldtitelgeveg met punte verloor – in 1977 teen Muhammad Ali, asook twee jaar later teen Larry Holmes.

• Hilaree Nelson (49), ’n Amerikaanse avonturier en bergklimmer, was die eerste vrou wat binne 24 uur beide Berg Everest en die nabygeleë Lhotse bestyg het – beide bergpieke van meer as 8 000 meter. Sy het gesterf toe sy vanaf die agtste hoogste berg ter wêreld, Manaslu in die Himalajas, geski het en deur ’n sneeustorting oorval is. Die ma van twee se liggaam is ná ’n soektog gevind.

• Hennie Brandt (69), voormalige sportskrywer van Beeld. Hy het vir bykans drie dekades tot 2009 verslag gedoen oor rugby, gholf, boks en krieket.

• Everett (Bigfoot) Martin (58), Amerikaanse swaargewigbokser wat in die 1980’s en ‘90’s teen die Suid-Afrikaners Pierre Coetzer, Johnny du Plooy en Sakkie Enslin geboks het.

• Willie Los’e (55), voormalige losvoorspeler en kaptein van Tonga, wat ’n rugbykommentator in Auckland geword het en in Kaapstad oorlede is – ’n paar dae voordat hy kommentaar sou lewer by die Wêreldbeker-sewestoernooi.

• Siya Luwaca (24), losvoorspeler van die Valke (skietongeluk).

• Jim Lenehan (84), Wallaby-heelagter in 24 toetse van 1957 tot 1967. Hy het in 1961 in Suid-Afrika getoer.

• Eddie Butler (65), voormalige agtsteman en kaptein van Wallis in 16 toetse (1980-1984), wat later ’n bekende sportskrywer en -kommentator geword het.

• Dick Littlejohn (91), bekende rugbyadministrateur van Nieu-Seeland wat van 1984 tot 1991 bestuurder van die All Blacks was. Hy was lid van die eerste Wêreldbeker-raad.

• Bert Sorour (92), adjunkpresident van die Vrystaatse Rugbyunie van 1998 tot 2011 en lewenslange erelid van die unie. Ross van Reenen, uitvoerende hoof van die Vrystaat-Cheetahs-maatskappy, het Sorour as ’n “ware dienskneg van die spel rugby” beskryf.

OKTOBER:

• Samuel Tshabalala (64), eerste swart atleet wat die Comrades-wedloop gewen het. Hy het in 1989 die afwedloop tussen Pietermaritzburg en Durban in 5 uur 35 minute en 51 sekondes voltooi.

• Sara Lee (30), ’n 30-jarige beroepstoeier wat in 2015 World Wrestling Entertainment se realiteitsreeks “Tough Enough”gewen het. Die oorsaak van haar dood is nie bekendgemaak nie. Sy was getroud met ’n gewese WWE-stoeier, Westin Blake, met drie kinders.

• Eder Jofre (86), een van die beste boksers wat Brasilië opgelewer het. Hy was eers die kapokgewig- en toe die veergewigkampioen van die wêreld.

• Viv Swanepoel (72), SA kampioen-veldloopatleet in 1975, wat in 1976 die Springbokke in Europa verteenwoordig het.

• Buys Wiese (64), senter van Boland in 58 wedstryde van 1978 tot 1985.

• Cheryl Roberts (60), wat as tafeltennisspeler Suid-Afrika in 1992 op die Olimpiese Spele verteenwoordig het. Daarna het sy as sportaktivis diep spore getrap.

• Gary Kotzé (82), rugbyskeidsregter van die Vrystaat en Noord-Vrystaat en later voorsitter van die Vrystaatse Skeidsregtersvereniging.

• Fonnie van der Vyver (90), rugbyskeidsregter van Noord-Transvaal wat die fluitjie geblaas het in die eindstryd om die Curriebeker tussen Noord-Transvaal en die WP in 1969 en wedstryde teen die internasionale toerspanne van die All Blacks, die Wallabies, Britse en Ierse Leeus en Franse.

• Bert Versfeld (60), Boland-senter in 1985.

• Sarel Liebenberg, voormalige vleuel van die OP en die WP.

• Ig Wilkens, slot van Wes-Transvaal in 1971-’72.

• Dr. Cas de Bruyn (93), rugbyskeidsregter wat in beheer van drie toetse was.

• Sylvia Dale (74), wat in al die belangrikste poste in SA fietsry gedien het.

• Theunis Kok (65), ligswaargewig-bokser van Newcastle, wat in die 1970's en '80's uitgemunt het.

NOVEMBER:

• Benoit Dauga (80), Franse slot/agtsteman in 63 toetse van 1964 tot 1972. Hy het ook die Franse aangevoer.

• Leon Norgarb (96), wat as SA Davisbeker-tennisspeler ook op Wimbledon en in die Franse Ope gespeel het en as gholfspeler in die SA Ope.

• Dave Stewart (87), Springbok-senter van die WP en SWD in 11 toetse (1960-1965). Hy het ook as losskakel en heelagter uitgedraf.

• Jeremy Lloyd (68), veelsydige krieketspeler van Somerset en Gloucestershire wat van 1983 tot 1988 vir die Vrystaat gespeel het. As skeidsregter het hy in 143 eersterangse wedstryde gestaan.

• Joe Nel (69), veelsydige agterspeler van Noordwes-Kaapland van 1976 tot 1982 in 25 wedstryde.

• Doddie Weir (52), voormalige Skotse slot in 61 toetse van 1990 tot 2000. Twee weke voor sy dood weens motorneuronsiekte was hy ’n toeskouer in ’n rolstoel langs die veld by die toets tussen die Skotte en die All Blacks op Murrayfield.

• Larry Lamb (99), rugbyskeidsregter van Engeland wat in 14 toetse die fluitjie geblaas het.

• Kobus van Zyl (67), voormalige OP-slot en veldatleet.

DESEMBER:

• Sir Murray Halberg (81), Nieu-Seeland se eerste droommylatleet – in 1958 toe hy dié land se Sportman van die Jaar was. Hy het as middelafstandatleet ’n goue medalje in die 5000 m op die Olimpiese Spele in 1960 verower, en ook op die Statebondspele in 1958 en 1962.

• Nick Bollettieri (91), bekende Amerikaanse tennisafrigter wat onder meer spelers soos Monica Seles, Maria Sharapova, Serena en Venus Williams, Jim Courier, André Agassi en Boris Becker afgerig het.

• Louis Hollamby, stut wat vir die Impalas en Luiperds uitgedraf het (motorongeluk).

• Max Brito (54), vleuel van die Ivoorkus wat verlam is in die Wêreldbeker-toernooi in Suid-Afrika in 1995.

• Piet Visagie (79), Springbok-losskakel, wat tussen 1967 en 1971 in 25 toetse gespeel het. Met hom in die nr. 10-trui het die Bokke onder meer reeksseges oor die Britse en Ierse Leeus, All Blacks en Australië behaal.

• Mac Hendricks, voormalige logistieske bestuurder van die Springbokke, wat ook op die bestuurspan van die seëvierende Wêreldbeker-span in 2007 was.

• George Cohen (83), lid van die Engelse sokkerspan wat die Wêreldbeker-toernooi in 1966 gewen het.

• Kathy Whitworth (83), die Amerikaanse vrou wat die meeste toernooititels tot nog toe (88) in die Amerikaanse LPGA-gholfreeks gewen het. Dit het ses majors ingesluit. Sy was ook die eerste vrouespeler wat ’n miljoen Amerikaanse dollar in prysgeld ingepalm het.

• Die sokkerlegende Pelé (82) was drie keer in die Brasiliaanse span wat die Wêreldbeker-toernooi gewen het.

– Bygewerk van Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!