Sri Lankane onstuitbaar in Kimberley
Krieket
Die jong Namibiërs sal spoedig moet hergroepeer en die selfvertroue in hul kolfwerk herwin indien hulle teen Zimbabwe beter wil vaar.
Nadat Namibië gister aanvanklik so goed geboul het, was Sri Lanka se sege met 77 lopies in Groep C van die ICC Onder 19-Wêreldbeker ’n gevoelige terugslag vir die Walvis Bay Salt Eagles.
Dat die kolfblad in Kimberley vol truuks was, is geensins te betwyfel nie.
Namibië is binne 27 boulbeurte vir net 56 uitgehaal, nadat hulle inderdaad hoopvol vir ’n opskudding was toe hulle Sri Lanka in 37.5 boulbeurte tot 133 almal uit beperk het.
Nadat die jong Eagles hul paaltjies op 0/1, 15/2, 19/3, 19/4, 21/5, 21/6, 24/7 en 25/8 verloor het, was die enigste skrale troos tweeledig – eerstens, dat hulle die nederlaag tot minder as 100 lopies kon beperk. Tweedens, dat hulle die kleinste Namibiese totaal by ’n o.19 WB-toernooi kon oortref (55 almal uit teen Australië in Colombo, in 2000).
Die tekortkominge in die Namibiese kolfmondering sal vir afrigter Oscar Nauhaus en tegniese ontleder Riaan Minnie die prominente kopseer wees in die opbou na komende Saterdag se bepalende laaste groepwedstryd teen Zimbabwe. Waarskynlik net die wenner sal enige hoop behou om in die supersesfase deel van die toernooi te bly (topdrie uit elke groep).
Hoewel die veelsydige naatbouler Zacheo Jansen van Vuuren met vuurwarm boulwerk die Sri Lankane met vier paaltjies gekniehalter het, het die jong Sri Lankaanse boulers dié guns met rente in Namibië se kolfbeurt terugbetaal.
Vir die Leeus was Ruvishan Perera (3 paaltjies vir 3 lopies in 5 boulbeurte, 3 leeg), Vishwa Lahiru (3/19 in 7, 1 leeg), Dinura Kalupahana (2/8 in 8, 4 leeg) en Garuka Sanketh (1/13 in 6, 2 leeg) bykans onspeelbaar onder die bedrieglike kolftoestande.
Namibië se hoogste telling is deur hul nommer tien PD Blignaut (18 nie uit nie van 15 balle) geslaan, wat uiteindelik die aanvallende vryheid bymekaar geskraap het om vier viere te slaan, insluitend drie van opeenvolgende balle.
Hanro Badenhorst op nege (11 van 32 b) en JW Visagie (7) was die enigste ander Namibiërs in die ganse kolfbeurt wat elk een grenshou kon slaan.
VYFTIGTAL HELP EILANDSPAN
Die naatboulers Jack Brassell en Junior Kariata het uitstekend geboul en die aanvangskolwers Pulindu Perera en Sineth Jayawardena kon ná die eerste ses boulbeurte onderskeidelik net 3 en 4 lopies aanteken.
Veral Kariata het met sy spoed en swaai van die bal beïndruk. In die sewende boulbeurt het hy Perera (3) van sy eie boulwerk met ’n briljante uithardloopkans tussen hom en PD Blignaut bewerkstellig.
Vreemd genoeg is Kariata ná sy hoogs ekonomiese eerste boulskof (0/5 in 5) nie weer as bouler ingespan nie.
Die naatboulduo het die kragspel (eerste 10 boulbeurte) afgesluit met Sri Lanka op ’n beskeie 24/1, voordat Badenhorst en Van Vuuren oorgeneem het.
Ongelukkig moes Badenhorst, wat twee dae tevore so goed op dreef was met twee paaltjies teen Australië, onttrek word nadat hy in drie boulbeurte 24 afgestaan het. Met drie wydlopers elk in sy eerste twee boulbeurte kon hy nie sy beste ritme vind nie.
Met Van Vuuren se toetrede het hy Jayawardena (10) met sy eerste aflewering puik skoongeboul (Sri Lanka 29/2). In sy tweede beurt slaan hy weer toe, toe nommer drie Ravishan de Silva (2) aan sy aflewering proe en JW Visagie ver na regs duik en raakvat (Sri Lanka 41/3).
Van Vuuren slaan in 20.1 bb weer toe, toe hy Rusanda Gamage (17) op 5 deur Henry van Wyk vir 70/4 laat vang. Dinura Kalupahana op 6 (0, gevang Hansie de Villiers) het nog nie eens kans gehad om sy kolfmaat te groet nie toe Van Vuuren sy vierde slagoffer vir 71/5 in 19.6 bewerkstellig.
Van die 20ste tot die 30ste het die momentum egter uit Namibië se greep gegly. Sri Lanka het in die tydperk 32 lopies bygevoeg, terwyl De Villiers slegs een slagoffer (Sharujan Shanmuganathan met 13 op 7 in 29.1) been voor paaltjie vir 98/6 kon betrap.
Die linkerarmdraaier PD Blignaut, wat by Badenhorst oorgeneem het, word uiteindelik beloon toe hy Malsha Tharupathi (6) van sy eie boulwerk uitvang (Sri Lanka 122/7).
In die 34ste neem De Villiers twee paaltjies binne drie balle, naamlik nommers nege en tien Vishwa Lahiru (0) en Ruvishan Perera (0). Kolwer elf Garuka Sanketh (1) volg ná 37.5 bb met Brassell wat uiteindelik met die laaste paaltjie beloon word.
Sri Lanka se deurslaggewende ankerbeurt is deur nommer drie Supun Waduge gespeel, wat geduldig 56 onoorwonne lopies van 79 balle (6x4) geslaan en sy span se totaal lyf gegee het.
Van Vuuren (4/23 in 8), De Villiers (3/19 in 4), Brassell (1/25 in 7.5) en Blignaut (1/34 in 10) asook Kariata was almal puik. Maar die 25 ekstras (22 wydlopers) wat Namibië afgestaan het, het hulle taak verder bemoeilik.
• In Groep C speel Australië en Zimbabwe vanoggend beide in hul tweede wedstryd. Australië het teen Namibië gewen, terwyl Zimbabwe teen Sri Lanka verloor het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie