Stad kyk na opgradering van informele velde

Sokker
Limba Mupetami
Windhoek se munisipaliteit het ’n begroting van N$800 000 aangevra om voldoende sitplek vir toeskouers by vyf gewilde sportvelde in informele nedersettings te ontwikkel.

Harold Akwenye, die stad se woordvoerder, het bevestiging hieroor gegee toe Namibian Sun hom uitgevra het oor die planne vir die Samora Machel-sokkerveld in Katutura, ’n gewilde gemeenskapsportsentrum.

Vir jare lok die informele sokkerveld elke naweek vele toeskouers, met inwoners van Hakahana en diegene van omliggende gebiede wat sokker op die stowwerige stuk grond speel sonder voldoende ablusie of sitplek.

Akwenye sê die N$800 000 sluit finansiering in vir die oprigting van sitplek vir toeskouers by die Samora Machel-veld. Veiligheid van toeskouers is ’n bekommernis.

Die veld is egter ook vir inwoners ’n deurgangsgebied en dus sal dit nie prakties wees om ’n heining op te rig nie.

MIDDELPUNT

Die Samora Machel-sokkerveld is by die Hakahana-drierigting in Katutura en is byna elke naweek ’n gewilde middelpunt vir informele sokkerligas en -toernooie. Met die veld se huidige toestand moet toeskouers egter op die grond sit.

Twee sokkertoeskouers en inwoners van Hakahana beskryf dit as onaangenaam en onveilig.

Titus Shilongo sê: “Hier is altyd toernooie, maar die veld moet minstens omhein word, want daar is baie jong kinders wat ook sonder toesig opdaag om te kyk. Oorkant die veld is daar ’n pad en motors wat op en af beweeg.”

SIEN TALENT RAAK

Matthew David sê sy Saterdae word gewoonlik bestee om sokker op die veld te kyk, maar dis ongemaklik om altyd in die son op klippe of bakstene, of op relings te sit.

“Dis die enigste onaangename deel daarvan. Die veld moet ontwikkel word. Dis waar die meeste mense hul sokker kyk.

“Daar is baie talentvolle ouens, maar wie sal hulle op dié veld kom raaksien? Nie eens mense soos Collin Benjamin, Brave Warriors-afrigter, sal hierheen kom nie, want waar sal hy sit? Hulle sal eerder talent in die spogbuurte met die goeie geriewe gaan soek.”

’n Betekenisvolle bydrae tot opgradering is in Maart 2021 gelewer toe Welwitschia Construction, uit maatskaplike verantwoordelikheid, die veld vir die spelers gelyk gemaak het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!