Statebond byeen vir skouspel by Walvis

Roeisport
Roeiers van 'n dosyn lande oor die wêreld heen ding oor die volgende drie dae op die Namibiese kusdorp mee.
Nikanor Nangolo
Namibië se geskiedkundige eerste aanbieding van die 2022 Statebond Roeivereniging (CRA) se Beach Sprint-kampioenskap begin vandag by Onafhanklikheidstrand op Walvisbaai en duur tot Sondag voort.

Van die sterkste lande in die roeisport soos Australië, Suid-Afrika, Kanada, Engeland, Skotland en Wallis sal die naweek opgeweeg word teen ontluikende lande soos Namibië, Barbados, Bahamas, Jersey, Kenia, Uganda en Zambië.

Die Namibiese Kano- en Roeifederasie (NCRF) bied die spoggeleentheid in samewerking met die CRA aan.

Die 2020 Olimpiese roeier Maike Diekmann is die mees ervare en prominente lid van die Namibiese span, wat ook deur Karl Jacobie, Escha Kasita, Gino Matheus en Damian Farmer in enkel-, dubbelroei- en aflositems verteenwoordig word.

Abraham So-Oabeb is die spanbestuurder en Christian Shivute die afrigter.

Vandag, môre en Sondag se kompetisieprogram begin daagliks om 09:00 en duur tot kort ná die middaguur.

Die minister van sport, jeug en nasionale diens, me. Agnes Tjongarero, het gister in ’n toespraak by die amptelike openingseremonie wat namens haar deur die Erongo-streekgoewerneur Neville Andre gelewer is, beklemtoon die geleentheid is die eerste van sy soort vir Namibië.

“Dit sal ongetwyfeld ontwikkeling in die sport na Namibië en Afrika bring. Die Namdia-stigting (die hoofborg) sal ook ’n groot rol speel in die ontwikkeling van kusroei in die komende jare met hul finansiële steun. Ek moedig dus atlete aan om spanne te registreer en aan die sport deel te neem.”

Die minister het hulde gebring aan die baanbrekers van Namibiese roeisport, soos Christoff Sneider, Christy Benade van Oanobdam en Anton Jacobie.

“Dankie vir jul insette om Namibiese roei te laat groei, veral platwaterroei. Om by ’n Statebondbyeenkoms deel te neem, is ’n werklik unieke geleentheid vir beide roeiers en afrigters wat hul nasie op die hoogste moontlike vlak wil verteenwoordig.

“Verskillende nasies het spanne gestuur wat met lof wil presteer by die Statebond Roeivereniging Beach Sprint-kampioenskap wat hier by ons eie Onafhanklikheidstrand aangebied word. Vandat die sport in 2010, hier in Namibië begin ontwikkel het, is met babatreë gevorder om die nodige infrastruktuur daar te stel en talent te ontwikkel, wat bygedra het dat Maike Diekmann in 2020 die eerste Namibiër by die Olimpiese Spele in Tokio geword het.”

DUUR ROEIBOTE GESKENK

Tjongarero het waardering aan roei se wêreldbeheerliggaam uitgespreek vir hul ruim skenking van tien roeibote met ’n gesamentlike waarde van N$1,1 miljoen.

“Ons sal hierdie bote gebruik om die sport in Namibië verder te ontwikkel,” het sy belowe.

Die NCRF-president Mike Haimbodi het die jeug uitgedaag om aan te sluit by die Kusroeiprojek wat na die kampioenskap by Onafhanklikheidstrand gestig sal word en het die versekering gegee dat die skenking van die roeibote aan Namibië nie tot niet sal gaan nie.

“Kusroei is hier om te bly en om te groei. Ons sukses sal beoordeel word deur hoeveel Olimpiërs, kontinentale en wêreldkampioene ons uit hierdie projek kan produseer. Ek weet dit sal nie ’n maklike pad wees nie, maar in 2025 moet Namibië ’n span om mee rekening te hou. Om dit te bereik, het ons ondersteuning van alle belanghebbendes hier in Walvisbaai en verder nodig.”

Die burgemeester van Walvisbaai, Trevino Forbes, is opgewonde oor die uitstekende geleentheid vir plaaslike sportmanne en -vroue om die roeisport onder veral skoolkinders en die jeug te bevorder en sodoende ’n blywende impak op Walvisbaai, die Erongostreek en die roeigemeenskap van Namibië te bewerkstellig.

Peter Cookson, president van die Statebondspele Roeivereniging, het die verwagting herhaal dat ’n “baie sterk” kusroeiprogram in Namibië uit hierdie naweek kan spruit. Hy het die reëlingskomitee asook die borge vir hul insette bedank.

Die NCRF se hoofsekretaris, Theo Tjiueza, het bygevoeg dat NCRF ’n Strandnaelbyeenkoms in Julie of Augustus 2023 beplan saam met sy buurlande.

Tjiueza sê afgesien van die goue, silwer en bronsmedaljes, sal die deelnemers ook unieke Namibiese aandenkings ontvang om die land altyd te onthou.

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!