Steeds nabetragting oor mislukte Spele
Skolesport
Die Namibiese Skolesportunie (NSSU) kan gerus ’n openbare verskoning oorweeg aan al die atlete, afrigters, beamptes en ouers wat aan die afgelope naweek se traumatiese ondervindings by die Cossasa Balspele onderwerp was.
Die mislukte Spele waarvoor basies geen ander opponent behalwe die Namibiese span ná ’n moeisame busrit op Potchefstroom opgedaag het nie, is ’n aansienlike nasionale verleentheid wat met groot ongerief vir die reisende groepe (vier busse vir die bykans 240 kinders, vergesel deur sommige ouers in afsonderlike vervoer) gepaard gegaan het.
“Ek wil my nie voorstel hoe dit sou gegaan het as daar nie ouers saam was om te help tussen die swak reëlings deur nie,” sê een ouer.
Die NSSU se nasionale koördineerder en ook Cossasa se president, mnr. Sollie Duiker, het gister telefonies aan Namibian Sun se Limba Mupetami gesê Namibië, Lesotho en twee provinsiale spanne was veronderstel om by die Spele mee te ding.
Duiker het die weergawe van ouers weerspreek met sy stelling dat die NSSU se begroting vir die Spele net op N$500 000 te staan gekom het – eerder as die N$1,4 miljoen wat bykans 30 ouers hom ’n dag voor die groep se vertrek na Suid-Afrika gehoor noem het.
Duiker het ook gesê die beskuldigings van swak reëlings kom net uit die geledere van wit ouers wat beheer oor die reëlings wou oorneem.
Die NSSU, wat onder die ministerie van sport, jeug en nasionale diens ressorteer, kan nietemin vergoedingseise van sommige reisende ouers te wagte wees wat uit hul eie sak vir maaltye vir groepe kinders betaal het gedurende tye van soms urelange vertragings waarin logistieke probleme opgeklaar moes word.
Benewens ’n openbare verskoning wil ouers ook weet watter ander byeenkoms of geleentheid gereël gaan word vir die gekose NSSU-spanne wat vergeefs gereis het sonder om deel te neem. Ouers het ook geld verloor met verblyfbesprekings op Rustenburg, wat volgens die aanvanklike aankondiging die venue van die Spele sou wees voor dit na Potchefstroom verskuif is.
Nadat die toergroep laat Woensdagaand uit Windhoek vertrek het, het sommige van die laaste individue gister hul terugbestemmings bereik. Die laaste van die terugkerende NSSU-busse met die netbalmeisies en net drie seuns moes op Keetmanshoop op ’n ander bus oorklim, maar die bus het kort daarna gaan staan. Die groep moes toe uitklim en hul bus uit die pad stoot nadat die stuurwiel glo los geruk het.
’n Blinde oog is gedraai op die feit dat nie alle NSSU-spanne vooraf behoorlike proewe gehou het nie, wat deels verstaanbaar was vanweë die omstandighede dat nasionale skoleligas tot selfs net een week tevore nog voluit aan die gang was.
Straks minder aanvaarbaar is dat tydens die urelange vertraging op dag 1 by die Ariamsvlei-grenspos aan die lig gekom het dat ’n lid van die atletiekspan glo met ’n Suid-Afrikaanse paspoort gereis het – iemand wie se insluiting in die nasionale verteenwoordigende span uiteraard deur ’n NSSU-gesag goedgekeur moes gewees het. Die presiese feite rondom dié geval kon egter teen druktyd nie bevestig word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie