Sterk groep brei teen Griekwas

Rugby
Afrigter Allister Coetzee en sy manne berei hulle voor op 'n groot taak.
Andrew Poolman
’n Groot naweek van rugby lê voor vir ondersteuners wat in afwagting op die geskiedkundige vriendskaplike Hage Geingob-bekerwedstryd tussen die Namibiese Welwitschias en die Windhoek Draught Griekwas is.

Die nasionale afrigter, Allister Coetzee, se oefenkamp het gister in erns begin en met die uitsondering van drie senior spelers wat by Franse klubs speel (Torsten van Jaarsveld, Tjiuee Uanivi en die nasionale kaptein Johan Deysel), asook stut Aranos Coetzee wat by Bath in Engeland is, is ’n volsterkte oefengroep met baie diepte, ondervinding en talent tans hier byeen.

Le Roux Malan (senter van die New England Free Jacks in die VSA se Major League Rugby) en Richard Hardwick (flank van die Melbourne Rebels, wat in 2017 twee toetse vir die Wallabies gespeel het) is twee van die groot name wat gister op die oefenveld was en wat moontlik in die komende weke die Namibiese truie kan aantrek.

Hardwick (28) is in 1994 in Windhoek gebore, waar sy pa Anthony die land se voorste muurbalspeler was, voordat die familie na Australië geëmigreer het.

Die uitgesoekte spelersgroep van die Namibiese toerspan sal ná die Griekwas-wedstryd aangekondig word vir die reis na Europa, waar toetse teen Spanje in Madrid (12 November) en ’n week later teen Kanada in Amsterdam voorlê.

Die flank Janco Venter en slot Johan Retief, beide by Griekwas gekontrakteer, is ook twee gevestigde Namibiese toetsspelers wat aangesluit het om dalk komende naweek teen die gedugte provinsiale span te speel.

SEMINAAR VIR AFRIGTERS

In die opbou na die groot aksie word ’n ope uitnodiging ook gerig aan afrigters op alle vlakke, asook spelers, om Vrydagaand ’n seminaar van strategiese waarde onder die vaandel van die Namibië Rugby-unie by te woon.

Namibië se nasionale afrigter Allister Coetzee sal een van die sprekers wees, wat as voormalige Springbokafrigter (en tans ook aan die stuur van die Italiaanse Top-10-klub Rovigo) min bekendstelling nodig het.

Verskeie ander hoëvlak sprekers sal ook voorleggings doen – insluitend mnre. Oscar Lambert (skeidsregters), William Steenkamp (die Get Into Rugby ontwikkelingsprogram), Sergio de la Harpe (krag en kondisionering, oor beplanning en standaarde), Chrysander Botha (aanvalsafrigting) en Barend Pieterse (voorspelerafrigting) en Pine Pienaar (verdedigingsafrigting).

Laasgenoemde vier is almal lede van Coetzee se nasionale afrigtingspan van die Namibiese span wat vir volgende jaar se Wêreldbeker in Frankryk gekwalifiseer het.

Coetzee sal self ook ’n praatjie oor sy visie vir die bloudruk, DNS, strukture en nalatenskapprogram vir Namibiese rugby lewer.

“Ons nooi graag afrigters, spelers en selfs belangstellende Namibiese ondersteuners uit om te kom luister. Ons sal vir Peter Drewett as die nuwe bestuurder van die NRU se hoëprestasieprogram daar bekendstel,” sê mnr. Johan Diergaardt, die NRU se visepresident vir rugbysake.

Drewett, ’n Engelse burger en konsultant vir Wêreldrugby, se mees onlangse aanstelling was as hoof van Kenia se hoëprestasieprogram. Engeland se o.21-span, Exeter Chiefs, Hongkong, Georgië en Wallis is van die ander spanne en unies by wie hy ’n wye ondervindingsveld opgebou het.

Die seminaar is Vrydag van 16:00 tot 20:00 by die Hage Geingob-stadion.

Kommentaar

Republikein 2025-01-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 30° Eenhana: 21° | 32° Oshakati: 23° | 29° Ruacana: 18° | 33° Tsumeb: 21° | 31° Otjiwarongo: 19° | 31° Omaruru: 19° | 32° Windhoek: 20° | 30° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 20° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 21° | 32° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 15° | 32° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 28° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 19° | 25° Maseru: 15° | 30° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 18° | 29° Maputo: 24° | 34° Windhoek: 20° | 30° Cape Town: 19° | 23° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 17° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!